Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-student kraai koning in Chinees-vaardigheidswedstryd
Outeur: by Prof Huang Binlan, Chinese co-director of CISU
Gepubliseer: 28/06/2022

​Die Confucius-instituut by die Universiteit Stellenbosch (CISU) is besonder trots op Iola Meyer (foto langsaan), 'n student van die Universiteit Stellenbosch (US), wat onlangs die eerste plek in die 21ste Chinese Bridge-vaardigheidswedstryd vir universiteitstudente in Suid-Afrika behaal het. Dít is die eerste keer in vyf jaar dat hierdie eer die US te beurt val.

 Chinese Bridge (oftewel “Hanyu Qiao") is 'n jaarlikse wêreldwye wedstryd vir niemoedertaalsprekers van Chinees wat laer- en hoërskoolleerders sowel as universiteitstudente geleentheid bied om hulle vaardigheid in dié taal ten toon te stel. Vanjaar se Suid-Afrikaanse aflewering vir studente is op Donderdag 23 Junie aanlyn aangebied.


Die geleentheid, wat die Chinese ambassade in Suid-Afrika regstreeks vanaf die Universiteit van Johannesburg (UJ) gestroom het, het 'n paar vooraanstaande gaste gelok. Dít het ingesluit Sy Eksellensie Chen Xiaodong (Chinese ambassadeur in Suid-Afrika), prof Tshilidzi Marwala (Visekanselier van UJ), prof Huang Wei (voorsitter van die Ingenieursfederasie van die Asië-Stille Oseaangebied), mnr Tang Zhongdong (Chinese konsul-generaal in Johannesburg), mnr Li Xudong (onderwysvoorligter, Chinese ambassade) en mnr Chen Kan (algemene adjunkbestuurder van Huawei Suid-Afrika). (Sien skermskoot hieronder van gaste en deelnemers by die geleentheid.)

webinar.jpg