Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoekom dit belangrik is om oor vroue in die wiskundige wetenskappe te praat
Outeur: Faculty of Science (Wiida Fourie-Basson)
Gepubliseer: 21/06/2022

​Bring die vroulike brein en psige 'n ander perspektief, of  'n ander manier van doen na die werksplek? Wat kan  ons by vrouerolmodelle in die veld van wiskunde, toegepaste wiskunde en rekenaarwetenskap leer?

Dít was die openingsvrae van Lezanne Human, medestigter van Bank Zero, by 'n middagete wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Natuurwetenskappe aangebied is vir 'n paar BSc-alumni wat grade in wiskunde, toegepaste wiskunde, statistiek of rekenaarwetenskap verwerf het.  Lezanne, wat in 1992 'n MSc in toegepaste wiskunde cum laude verwerf het, dien ook in die Fakulteit Natuurwetenskappe se Adviesraad. As student het sy die John Todd Morrison- medalje ontvang as die beste student in toegepaste wiskunde by die US, asook die Gencor S2A3-medalje vir die beste MSc-student aan die US.

Prof Louise Warnich, dekaan van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe wat die gesprek  ingelei  het, het gesê dat vroulike studente in die wiskundige wetenskappe steeds onderverteenwoordig is by tersiêre onderwysinstellings − op voorgraadse, sowel as nagraadse vlak: “Ons mis nie net 'n geleentheid om die wêreld te help vorm nie, maar dit het ook implikasies vir vroue se toekomstige aanstelbaarheid in die arbeidsmark," het sy gewaarsku. 

Elkeen van die vroue om die tafel het 'n unieke storie oor hoe hulle in die wiskundige wetenskappe beland het. Uit die gesprek het verskeie temas na vore gekom wat groter begrip kan bied vir die geslagsverskille wat in hierdie veld voorkom. 'n Baie pertinente tema is die gebrek aan kennis oor wat jy kan doen met 'n graad in die wiskundige wetenskappe.  Nóg 'n tema wat na vore gekom het, is die algemene persepsie dat wiskunde “moeilik" is en nie regtig nodig is vir meisies nie. Maar wat ook by die tafel teenwoordig was, is 'n diepe respek  vir die mooi van wiskunde en hoe dit die basis vorm van kritiese denke en die oplos van komplekse probleme.  

Twee vroue wiskundiges wat al in die media beskryf is as vormers van die wêreld van  ETF- beursverhandelde fondse, beter bekend as ETF (exchange trade funds) sê hulle het aanvanklik geen idee gehad wat hulle met hulle grade in toegepaste wiskunde sou doen nie.

Nerina Visser, direkteur en mede-eienaar van etfSA Portfolio Management Company, sê sy het heel toevallig in haar huidige loopbaan beland: “Ek het 'n beurs van Denel (toe Kentron) gehad om toegepaste wiskunde by Stellenbosch te studeer en na ek my graad verwerf het, het ek aan die Rooivalk aanvalshelikopter gewerk. Vir die eerste gedeelte van my loopbaan het ek geen blootstelling aan die finansiële wêreld gehad nie."

Terwyl ek 'n gesin grootgemaak en konsultasiewerk van die huis af gedoen het, het haar man eendag haar aandag op 'n werksadvertensie vir 'n kwantitatiewe analis gevestig: “Ek het geen idee gehad wat 'n kwantitatiewe analis is nie, maar ek het geweet dat ek aan al die vereistes voldoen: aandag aan detail, kritiese denke en probleemoplossing. Dit het later geblyk dat dit gekryf is deur Adrian Allardice, een van Suid-Afrika se topaktuarisse. Ek het die werk gekry en hy het my die potensiële ruimte gewys van wat gedoen kan word.  My volgende rolmodel was 'n vrou, wat my aangeraai het om 'n MBA te doen en ook my kwalifikasie as Geoktrooieerde Finansiële Ontleder te kry. (Chartered Financial Analyst oftewel CFA) Dit was die ideale kombinasie van akademie en teoretiese kennis. Daarvandaan was dit verder net wiskunde en statistiek in die beleggingswêreld."

Helena Conradie, 'n CFA en nie-uitvoerende direkteur van Satrix Investments, sê sy wou aanvanklik musiek studeer: “Nadat ek vinnig besef het dat ek nie 'n konsertpianis gaan word nie, het die beroepsvoorligtingtoetse aangedui dat ek iets moet doen wat met mense en syfers te make het."

Na 'n kort rukkie as student in elektroniese ingenieurswese het ek by toegepaste wiskunde beland. Sy het uiteindelik 'n MSc in toegepaste wiskunde voltooi, tesame met sielkunde 1, 2 en 3.  

“Op daardie stadium het ek geen ideee gehad wat ek met daardie kombinasie gaan maak nie,' lag sy.

Daarenteen het Prof Marelie Davel nog altyd 'n voorliefde vir wiskunde en wetenskap gehad en het sy uiteindelik besluit om fisika te studeer omdat sy  “die aard van die heelal" wou verstaan. Nadat sy in die vroeë 90s 'n beurs van die WNNR  ontvang het om fisika aan die US te studeer, is sy gevra om van fisika na rekenaarwetenskap oor te slaan -  'n veld wat toe nuut in aanvraag was. Als het goed uitgewerk: sy het midde in haar graadstudies van hoofvak verander, is as die beste student in haar klas aangewys én het boonop in haar finale jaar die Fakulteit Natuurwetenskappe se Dekaansmedalje verower. Vandag is sy die direkteur van die masjienleernavorsingsgroep in die Fakulteit Ingenieurswese by die Noordwes-Universiteit. Toe sy in 2018 by die fakulteit aangesluit het, was sy die eerste vrou in die geskiedenis van die fakulteit om as vol professor aangestel te word.

Uit die akdemiese wêreld sê Prof Karin-Therese Howell dat haar ouers baie bekommerd was om te hoor dat sy nagraads in wiskunde wil studeer: “Die idee was dat ek iets moes studeer wat ek in ons familiebesigheid sou kon toepas. My grootste bekommernis was dus om uit te werk wat ek sou doen om myself finansieel te onderhou met 'n graad wiskunde." Vandag is sy 'n medeprofessor in die US se Departement Wiskundige Wetenskappe.

Dr Ronalda Benjamin is een van daardie individue wat op wiskunde gefokus was sedert haar laerskooldae: “Ek kom uit 'n omgewing waar − indien jy skool klaarmaak − jy dadelik 'n werk probeer kry. Maar ek het nog altyd geweet dat ek wiskunde wil gee. Op hoërskool het ek die Mathematical Digest gelees, wat my blootgestel het aan uitdagende wiskundeprobleme en profiele van wiskundeprofessors.  Op daardie stadium het ek egter geen idee gehad van wat die werk van 'n wiskundeprofessor behels nie. Behalwe my onderwysers, het ek niemand geken wat tersire opleiding gehad het nie, wat nog te sê met wiskunde as hoofvak. Toe het ek besluit dat ek wil studeer sodat ek eendag 'n professor in wiskunde kan word."

Mathematical Digest , wat die eerste keer in 1971 gepubliseer is, is 'n kwartaallikse tydskrif gemik op Suid-Afrikaanse hoërskoolleerders en Prof John Webb van die Departement Wiskunde en Toegpaste Wiskunde aan die Universiteit Kaapstad is die redakteur.  

As 'n topstudent in graad 12, is Ronalda se droom om 'n professor in wiskunde te word deur 'n joernalis neergepen in 'n artikel wat in Januarue 2002 in Rapport verskyn het. 'n Uitnodiging van die Universiteit Stellenbosch om wiskunde te studeer, het hierop gevolg. Sy het sedertdien vier grade in wiskunde verwerf, waarvan die eerste drie cum laude was en sy is tans aangestel as 'n lektor in die US se Departement Wiskundige Wetenskappe.  

Die drie nagraadse studente om die tafel het ook húlle stories gedeel. Tarryn Surajpal het gegradueer met wiskunde en toegepaste as hoofvakke. Alhoewel sy tans besig is met 'n MSc in toegepaste wiskunde, het sy gebieg dat sy steeds onseker voel oor wat sy met haar kwalifikasie gaan doen.

Zinhle Mthombothi het vertel dat sy slegs in wiskunde as studierigting beland het omdat sy een van die topstudente in haar klas was, alhoewl sy dit aanvanklik oorweeg het om joernalistiek te studeer. Eers toe sy besef dat sy haar wiskundevaardighede in die openbare gesondheidsektor kan toepas, het sy haar voete gevind. Sy het 'n MSc in wiskunde aan die US behaal en werk tans as junior navorser by die South African Centre for Epidemiological Modelling and Analysis (SACEMA), waar sy werk aan die ontwikkeling van wiskundige modelle waarmee die oordrag van vektor-oordraagbare siektes ondersoek kan word, asook die beste manier waarop die gevestigde infeksieketting verbreek kan word. Maar sy het nie vergeet van haar aanvanklike belangstelling in die joernalistiek nie! In 2020/2021 was sy een van die top-20-finaliste in die FameLab South Africa competition, die nasionale been van die wêreld se grootste wetenskapskommunikasiekompetisie.

Nog 'n topstudent, Jacobie Mouton, sê sy het geen blootstelling aan rekenaarwetenskap as skoolvak gehad nie: “Ek het nie eers geweet hoe om 'n Gmail-rekening op te stel nie. Ek het eers baie later besef dat ek klasse by die nabygeleë seunskool kon bywoon." Nadat sy haar BSc met rekenaarwetenskap as hoofvak verwerf het, omdat dit “interssant gelyk", is sy nou besig met 'n MSc in masjienleer.

Ter afsluiting het Prof Ingrid Rewitzky, visedekaan: onderrig en leer in die Fakulteit Natuurwetenskappe by die US, gesê dat vroue-wiskundiges dikwels steeds nie tuis voel in hulle werkplek nie, asof hulle indringers is: “Ons moet aktief meer netwerke bou. Ons moet meer gesprekke soos hierdie een hê, en ons moet mans by hierdie gesprekke betrek. Dit gaan nie net daaroor om die foto's in die gang te vervang nie.  Dit gaan daaroor om doelbewus waarde toe te voeg, ongeag geslag, ras, demografie of geografie."

“En," voeg Nerina Visser by, “miskien is dit tyd dat seuns na meisieskole gaan vir hulle rekenaarwetenskapklasse, en nie andersom nie." 

Vroue in wiskunde-12.jpg

Op die foto bo, van links na regs: Prof Ingrid Rewitzky (uitvoerende hoof van die US se Departement Wiskundige Wetenskappe en visedekaan: onderrig en leer); Mariétta van den Worm (Direkteur: Fakulteitsbestuur); Zinhle Mthombothi (junior navorser by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Epidemiologiese Model​lering en Analise); Prof Karin-Theresa Howell (mede-professor in die Departement Wiskundige Wetenskappe); Prof Louise Warnich (Dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe); Lezanne Human (mede-stigter van Bank Zero); Nerina Visser (direkteur en mede-eienaar van etfSA Portfolio Management Company). Voor, Jacobie Mouton (MSc-student in masjienleer); Tarryn Surajpal (MSc-student in toegepaste wiskunde); Prof Marelie Davel (navorsingsprofessor in die Fakulteit Ingenieurswese by Noordwes-Universiteit); Helena Conradie (CFA en nie-uitvoerende direkteur van Satrix Investments) en Dr Ronalda Benjamin (dosent in die Departement Wiskundige Wetenskappe). Foto: Anton Jordaan