Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-kenners doen SA se eerste volledige histerektomies met behulp van ʼn robot by Tygerberg-hospitaal
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Ilse Bigalke
Gepubliseer: 15/06/2022

Die eerste volledige histerektomie met behulp van ʼn robot in Suid-Afrika is onlangs suksesvol deur ʼn span chirurgiespesialiste van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Tygerberg-hospitaal uitgevoer.

Hierdie minimaal indringende prosedure, wat met behulp van die Da Vinci-robotstelsel op ses vroue uitgevoer is, bring hoop vir die duisende vroue wat jaarliks ʼn histerektomie en ander ginekologiese operasies moet ondergaan, insluitende kankerpasiënte. Die robotstelsel is onlangs deur die Tygerberg-hospitaal aangeskaf.

Volgens die chirurge was al die prosedures ongekompliseerd. Al ses die vroue is binne 48 uur ontslaan en het goed herstel, met uitstekende uitkomste.

Die eerste drie robot-histerektomieë in Suid-Afrika is uitgevoer deur dr Viju Thomas, Hoof van die FGGW se Minimale Toegang- Ginekologiese Chirurgieprogram (MAGS). Hy is bygestaan deur dr Annelize Barnard, ʼn bedrewe endoskopiese chirurg en ʼn MAGS-genoot, asook dr Tik Shan Cheung, wat onlangs gegradueer het. Barnard het die volgende drie operasies uitgevoer en is deur Thomas, Cheung en dr Liesl Muller van die Departement Verloskunde en Ginekologie bygestaan.

Volgens Barnard plaas die suksesvolle uitvoering van hierdie prosedure die US stewig aan die voorpunt van ginekologiese robotchirurgie in Suid-Afrika. 

Baanbrekende prosedure

Oor die belang van hierdie baanbrekende prosedure vir die pasiënt, sê Barnard minimaal indringende chirurgie (MIS) is bekend vir beter uitkomste vir die pasiënt wat betref postoperatiewe pyn, letselvorming, lengte van hospitaalverblyf en hersteltyd. Sommige prosedures word ook beter deur MIS uitgevoer omdat die tegniek vergrote beelde bied en meer noukeurige disseksietegnieke moontlik maak.  

“Maar konvensionele MIS word beperk deur die lang tyd wat dit vat om dit te bemeester, asook die inherente beperking om met lang instrumente met ʼn beperkte bewegingsomvang te werk. Robotchirurgie stel die chirurg in staat om meer natuurlike handbewegings te gebruik om geartikuleerde instrumente te manipuleer. Dit is dus makliker om komplekse aksies uit te voer en toegang te kry tot areas wat moeilik bereikbaar is.  

“Daar is in sommige gevalle steeds ʼn rol vir oop histerektomieprosedures, maar MIS het in talle dele van die wêreld die histerektomie-hoeksteen geword en laporoskopiese histerektomieë is al jare lank algemeen in Suid-Afrika."

Oor die betekenis van die beskikbaarheid van robotfasiliteite by Tygerberg, verduidelik Barnard dat pasiënte by wie laparoskopiese chirurgie besonder uitdagend sou wees – soos diegene met vetsug, gekompliseerde patologie, ginekologiese kwaadaardigheid of gevorderde endometriose – nou ook by MIS kan baat.

“Die Da Vinci-stelsel bied ook die moontlikheid om die operasie-area in 3D en met fluoresserende tegnologie te sien. Dit verhoog die chirurg se vermoë om anatomiese strukture en abnormaliteite te definieer. Die fluoresserende tegnologie stel ons in staat om ʼn merker in te spuit om die pad te karteer waarop die kwaadaardigheid moontlik gaan versprei. Dit stel ons in staat om meer geteikende behandeling met minder newe-effekte te bied."

Ofskoon hulle gekies het om hul robotopleiding met die bekende veld van histerektomieë te begin, is die doelwit om dit uiteindelik vir meer gevorderde prosedures te gebruik, soos endometriose en die disseksie van limfknope om te kyk of dit kwaadaardig is.

Strawwe opleiding

​Thomas en Barnard, wat albei oor gevorderde laparoskopiese vaardighede beskik, is deur die Departement Verloskunde en Ginekologie gekies om die strawwe opleiding vir die Tygerberg-hospitaal se robotprogram te ondergaan en sodoende hul chirurgie-repertoire uit te brei om prosedures uit te voer wat tans deur die tegniese aspekte van konvensionele laparoskopie beperk word.

As Hoof van die MAGS-eenheid is Thomas die dryfkrag agter die Departement Verloskunde en Ginekologie se endoskopiese program. Hy is ʼn nasionale en internasionale leier op die gebied van endometriose, het ginekoloë landwyd opgelei en onderrig die chirurgiese aspekte van ginekologiese endoskopie, insluitende histerektomie- en endometriose-chirurgie. Barnard is ʼn spesialis by die Karl Bremer-hospitaal en is betrokke by die opleiding van die FGGW se MMed-ginekologiestudente in endo- en histeroskopie.

Thomas en Barnard moes talle ure van simulatoropleiding ondergaan om met die robotstelsel vertroud te raak. Dit is gevolg deur tegniese opleiding by die Tygerberg-hospitaal en die OSRI-akademie in België, ʼn hoëtegnologiesentrum vir chirurgiese innovasie en kundigheid.

Hul prosedures by die Tygerberg-hospitaal is onder die wakende oog van dr Thomas Herbert, ʼn Franse robotchirurg, uitgevoer.

'Enorme stap vooruit'

Oor die belang van hul prestasie sê Barnard om oor die tegnologiese vermoë te beskik om MIS aan vroue te bied wat andersins nie toegang tot hierdie opsie sou gehad het nie, is ʼn enorme stap vooruit.

“Robotchirurgie is sonder twyfel hier om te bly en ons sal waarskynlik in die toekoms groot vordering op hierdie gebied sien. Dis ʼn ongelooflike geleentheid om aan die voorpunt van plaaslike ginekologiese robotontwikkeling te wees.

“Om in staat te wees om hierdie prosedure deel te maak van die opleiding wat ons aan MAGS-studente bied, plaas die US stewig aan die voorpunt van ginekologiese endoskopie in Suid-Afrika," voeg sy by.

AANVULLENDE INLIGTING

Da Vinci-robotstelsel 

Hierdie chirurgiese stelsel bestaan uit ʼn chirurgiese konsole, ʼn trollie met vier interaktiewe robotarms aan die pasiënt se kant, ʼn hoëverrigting-visiestelsel (3D-kamera) en miniatuur- chirurgiese instrumente.

Terwyl die prosedure uitgevoer word, kan die chirurg ʼn vergrote, hoëresolusiebeeld in 3D sien van die area waarop geopereer word. Om toegang tot dié area te verkry, plaas die chirurg die miniatuur-instrumente deur ʼn paar klein insnydings daarin. Hierdie instrumente help chirurge om die prosedure met presisie en beheer uit te voer.

Omdat ʼn robot-ondersteunde histerektomie meer presies is en kleiner insnydings verg, verminder dit die kans op bloeding, infeksie en ander komplikasies. Studies het getoon vroue wat ʼn histerektomie met behulp van die Da Vinci-stelsel ondergaan, ervaar minder bloedverlies en het minder bloedoortappings nodig vergeleke met tradisionele histerektomiechirurgie.    

 

Sooliman woon robot-ondersteunde histerektomie by SASGE-kongres by 

Die FGGW het onlangs die stigterskongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Ginekologiese Endoskopie (SASGE) aangebied. Die program is gelaai met chirurgiese opleidingsessies en lewende chirurgie in teaters van die Tygerberg-hospitaal is na die kongresvenue in die Taj-hotel in Kaapstad gestroom. Die lewende chirurgie word deels moontlik gemaak deur ʼn skenking van Gift of the Givers om ʼn bykomende teaterlys op Saterdae te befonds om in te haal op die chirurgiese agterstand wat deur Covid-19 veroorsaak is. Dr Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers het die robot-ondersteunde histerektomie bygewoon wat op 28 Mei uitgevoer is.


Foto-onderskrif: ​Prof Hennie Botha, dr Thomas Herbert, dr Tik Shan Cheung, dr Annalize Barnard en dr Viju Thomas.