Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eerste kohort van Future17-inisiatief voltooi kursus
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 14/06/2022

​ʼn Diverse groep van 130 internasionale studente van Brasilië, die Verenigde Koninkryk, China en Suid-Afrika het geskiedenis gemaak deur die Future17- Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte-uitdaging te voltooi – die eerste in sy soort vir die Universiteit Stellenbosch (US).

Dié kortkursus is deur die VOD/2063-impaknaaf by Universiteit Stellenbosch Internasionaal (USI) aangebied. Die Impaknaaf het die bevordering van die Verenigde Nasies (VN) se Agenda 2030 en sy volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD's) ten doel, asook van die Afrika-unie se Agenda 2063 vir ʼn vooruitstrewende Afrika in die konteks van internasionale hoëronderwys.

Die 38 US-studente wat deel van die groep uitgemaak het, het hul prestasie informeel gevier by ʼn geleentheid wat op 9 Junie deur USI in Stellenbosch aangebied is. Hierdie spesiale byeenkoms van US-studente het die amptelike globale viering op 13 Junie voorafgegaan. Die ander deelnemers was van die Exeter-universiteit (VK), die Chinese Universiteit van Hong Kong en die Universiteit van São Paulo (Brasilië).

Die US-groep, wat uit voorgraadse studente in hul finale jaar en nagraadse studente bestaan, is geloof vir die innovasie, toewyding, professionaliteit en uitstaande ambassadeurskap wat hulle sedert die begin van die kursus in Maart aan die dag gelê het.

Die gesaghebbende Future17-kursus van drie maande is uniek omdat dit bestuur word deur ʼn konsortium van universiteite van vier lande, met die samewerking van globale uitdagingsvennote. Die doelwit is om studente met die kennis en vaardighede toe te rus om innoverende maniere te vind om volhoubare ontwikkelingsdoelwitte in realiteit te omskep, het Corina du Toit, Programbestuurder: VOD/2063-impakhub en akademiese leier van die kursus, gesê.  

Een van die gaste by die USI-viering was dr Nico Elema, Direkteur van die Sentrum vir Samewerking in Afrika by USI. Hy het gepraat oor sy indrukke van die program en het die studente en mentors gelukgewens omdat hulle die uitdagings van die nuwe kursus te bowe gekom en die prosesse vir toekomstige groepe vereenvoudig het. “Julle het die reis saam met ons aangepak, ons het dinge uitgepluis en ons het almal talle lesse geleer. So, dankie vir jul positiewe bydrae en dat julle ambassadeurs vir die Universiteit was. Julle het ons trots gemaak."

Future17SDG_2.jpg​​Oor die doeltreffendheid van die program het dr Munya Saruchera, senior lektor en tussentydse Direkteur van die Afrika-sentrum vir MIV- en vigsbestuur in die Werkplek aan die US, bygevoeg: “Ek dink die samekoms van verskillende universiteite het op mikrokosmosvlak getoon hoe verskillende lande saam aan hierdie globale agenda (VOD's) kan werk. Dit was interessant om te sien hoe die mentors en studente van verskillende kulture en omgewings doeltreffend met mekaar geskakel het."


Onderrig en toerus 

Hierdie VOD's vorm die kern van Agenda 2030 vir Volhoubare Ontwikkeling – die bloudruk vir vennootskappe, vrede en voorspoed vir die mens en die planeet – wat deur alle VN-lidlande aanvaar is. (Besoek die VN se Agenda 2030 en die VOD's vir meer inligting.)

Die Future17-kursus is in lyn met dié agenda en fokus op die VN se VOD's wat in 2015 deur 195 VN-lidlande aanvaar is as ʼn raamwerk om oplossings vir globale en interdissiplinêre uitdagings te help vind, terwyl gebou word aan deelnemers se sleutelindiensneembaarheid, kritiese denke, hibriede en afstandswerk en aanbiedingsvaardighede. Deelnemers het van samewerkende en innoverende benaderings vir uitdagings gebruik gemaak en het met vennootuniversiteite en mentors saamgewerk wat deur die verskillende instellings toegewys is.

Die VOD-uitdagingsvennote bestaan uit organisasies soos nie-regeringsorganisasies, instellings en maatskappye wat uitdagings vir die kursus gekonseptualiseer het. Dit het ingesluit die skep van ʼn digitale strategie om die VOD's onder universiteitstudente te bevorder, marknavorsing vir stedelike plase, of die herwinning van seep van hotelkettinggroepe om werk vir gemeenskappe te skep, het Du Toit gesê.

Sy het lof gehad vir die wyse waarop die studente hul take uitgevoer het. “Ek het talle voorleggings aangehoor en was baie beĭndruk met die professionele standaard en die gehalte van die werk wat die groepe aangebied het. Hierdie was ʼn loodsprojek en ons was derhalwe onseker oor wat om te verwag, maar julle het ongetwyfeld ʼn hoë standaard vir toekomstige aanbiedings help stel."

Studente het gedurende die USI-viering die geleentheid gekry om hul kursuservaring met die gaste te deel. Sharon Sambaza (LLM) het al die studente se ervaring opgesom: “Die Future 17-kortkursus was niks minder as ʼn wipwarit nie – en nogal ʼn genotvolle een daarby! Ek het ingeskryf weens my lewendige belangstelling in volhoubare ontwikkelingskwessies en om ʼn leerervaring met studente in verskillende wêrelddele te deel. My ervaring tydens die kursus was uitdagend én lonend. Ons het interdissiplinêre konsepte bestudeer wat deurslaggewend is om innoverende oplossings vir probleme te vind, soos ontwerpdenke en prototipering."

Jack Potter het sy dankbaarheid uitgespreek dat hy aan die kursus blootgestel is: “Ek is danksy hierdie kursus blootgestel aan take en interaksie wat andersins nie die geval sou wees nie. Ek kon by mense regoor die wêreld met dieselfde passie vir volhoubare ontwikkeling leer en met hulle saamwerk. In die komende jare sal ek hierdie nuutgevonde kennis prakties in die bewaring van wildernisgebiede en die beskerming van natuurlewe toepas."

 

  • Aansoeke vir die volgende ronde van die Future17-kortkursus kan tot 25 Julie 2022 ingedien word. Klik hier vir meer inligting oor die kursus.

​ Fotograaf: Stefan Els