Prof Anita Cloete van die Departement Praktiese Teologie en Missiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs haar intreelesing, oor menswees in 'n tegnologiegedrewe wêreld, gelewer. Sy het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar navorsing 'n beter begrip van die tweerigtingverhouding tussen godsdiens en die media help skep.
Vertel ons meer van jou navorsing, en waar jou belangstelling in hierdie bepaalde studierigting vandaan kom.
As 'n voorgraadse student in 1999 was een van my voorgeskrewe boeke The New Era in Religious Communication deur Pierre Babin en Mercedes Iannone. Die idees in die boek het my geboei, hoewel dit 'n wêreld beskryf het waarvan ek nie destyds veel verstaan het nie. Ek het eers weer in 2012 begin nalees oor die media en godsdiens, en toe 'n artikel oor jeugkultuur, die media en seksualiteit gepubliseer. Dís toe ek besef het dat hierdie gebied veel meer teologiese oordenking verdien.
Ek stel ook belang in die komplekse aard van godsdiens. Nes baie ander mense, het ek met 'n uiters simplistiese, eensydige begrip van godsdiens grootgeword, wat meestal op die positiewe elemente daarvan konsentreer. Ek stel belang in die dinamiese aard van godsdiens. 'n Mens kan nie deesdae godsdiens verstaan sonder om ook die media en die wisselwerking tussen die twee in gedagte te hou nie. Benewens die paradoksale en komplekse aard van godsdiens, stel ek ook belang in hoe mense op voetsoolvlak godsdienstigheid verstaan en uitleef. In die praktiese teologie praat ons van geleefde godsdiens met verwysing na praktyke wat nie noodwendig deel uitmaak van tradisionele institusionele godsdiens nie, maar wat vir mense godsdienstige betekenis het. Dít was ook die tema van die boek Interdisciplinary Reflections on the Interplay between Religion, Film and Youth, wat ek in 2019 saamgestel het.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Om te lees en na 'n interessante invalshoek te soek om myself uit te druk. Ek moes byvoorbeeld al 'n referaat lewer oor die al hoe vinniger tempo van tegnologiese ontwikkeling, wat ek toe noem “Unstoppable: A critical reflection on the socioeconomic embeddedness of technology and the implications for the human agenda". Deur die hele referaat het ek 'n verband gelê met die gelyknamige rolprent Unstoppable, wat oor 'n wegholtrein handel.
In my onlangse intreelesing het ek ook 'n wyer gehoor as net akademici probeer betrek deur die lesing om die gedagte van 'n skaakspel te bou – vandaar die titel “Menswees in 'n tegnologiegedrewe wêreld: Skaakmat of geleentheid vir maatskaplike verantwoordelikheid?". Ek dink akademici het 'n verantwoordelikheid om nie net met diegene in die akademie om te gaan nie, maar om ook hulle navorsing met die publiek te bespreek, en te toon watter waarde dit vir die samelewing inhou.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Ja, die pandemie het nie net ons leefwyse beïnvloed nie, maar ons self ook verander. Om afgesonderd te wees was moeilik, want ek het nooit besef hoe afhanklik ek van kollegas en studente se teenwoordigheid is nie. Ek reken ons het ook besef bemiddelde kommunikasie is nie so doeltreffend as wat ons gedink het nie. Daar's so baie dinge wat 'n mens mis – gesigsuitdrukkings en selfs stemtoon is nie dieselfde aanlyn nie.
Ek het die natuur opnuut leer waardeer, en weer besef dat om deur verskillende landskappe te stap en te ry eintlik iets besonders is wat ek voorheen as vanselfsprekend aanvaar het. Tegnologie het in dié tyd gedy en sy greep op onderrig en kommunikasie in die algemeen verstewig. Om hoofsaaklik deur middel van tegnologie klas te gee en te kommunikeer verander mense se gedrag, rolle en verwagtinge. Kortom lei dit tot 'n identiteitsverandering, nie net op individuele vlak nie, maar ook in institusionele verband. Ek dink ons probeer steeds uitpluis hoe dit ons identiteit verander het as 'n residensiële universiteit, wat kontakonderrig en -kommunikasie op prys stel en beloof.
Jy het jou stempel op die vakgebied van Praktiese Teologie en Missiologie afgedruk. Watter boodskap het jy vir die volgende geslag aspirant-vroueteoloë?
Moenie bedreig voel deur ander se sukses nie, maar laat hulle jou eerder inspireer. Vind jou eie plek (navorsingsfokusgebied) en tempo (hoe jy navorsing doen en skryf). Ek beskou myself as 'n stadige skrywer, want dit duur 'n ruk voordat ek iets op papier het, maar dan oordink en herskryf ek ook nog heelwat voordat ek dit voorlê. Ek het aanvaar dít is my proses, so ek probeer nie meer die skryfproses aanjaag net om meer publikasies te hê nie. Glo in jouself en koester jou proses. En aanvaar dat daar geen plaasvervanger vir harde werk is nie.
Vertel ons iets opwindend van jouself wat min mense sou verwag.
Ek's nie seker van opwindend nie, maar ek is 'n heteroseksuele vrou wat nie van skottelgoed was of kosmaak hou nie, maar baie belang stel in motors. Ek het as kind reeds besef vasgestelde geslagsrolle is ouderwets en onnodig. Ek glo daaraan om te doen wat vir jou reg voel, en om die beste jy te wees. Ek's meer van 'n introvert en raak moeg as ek te lank tussen mense is.
Wat doen jy graag as jy nie klas gee of navorsing doen nie?
Ek het wat ek graag as rituele beskryf; dinge wat vir my betekenisvol is: Om Saterdae 'n lekker ontbyt te eet terwyl ek koerant lees, en om langs die see te gaan stap. Ek glo die see praat met my deur my in voeling met die natuur en in verwondering oor die lewe te hou. Ek gaan kyk ook graag wat's nuut in die winkels. En ek neem gereeld verlof om seker te maak dat ek genoeg rus om my heel beste by die werk te kan gee.