Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studie bewys Weskus-kreef kan smaak vir indringermossels ontwikkel
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/06/2022

Kreef wat langs Suid-Afrika se Weskus voorkom, eet gewoonlik inheemse mossels, maar met die regte kondisionering (of volgehoue blootstelling) kan hulle ook 'n smaak vir indringermossels ontwikkel.

'n Nuwe studie deur navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Wes-Skotland* het dit aan die lig gebring. Hul ondersoek het probeer vasstel of die inheemse kreef (Jasus lalandii) 'n voorkeur vir 'n indringermossel (Semimytilus patagonicus) kan ontwikkel ná kondisionering deur korttermynblootstelling.

Die bevindings van hul studie het onlangs in Biology Letters verskyn.

In die aanloop tot Wêreldoseanedag (8 Junie), wys die navorsers daarop dat kreef belangrike roofdiere van mossels is wat net onder die oppervlak van die see (ook bekend as die subgetysone) woon. Die mosselprooi wat egter vir kreef beskikbaar is, is aan die verander weens die indringing deur S. Patagonicus wat besig is om volopper as inheemse subgetymossels te word.

Hulle sê “die vermoë van roofdiere om by 'n veranderde prooibasis aan te pas as gevolg van biologiese indringers, is belangrik om te verseker dat hulle in staat sal wees om hierdie prooi deel van hul dieet te maak indien inheemse bronne afneem of heeltemal vervang word. Wanneer indringerspesies die vreetlandskap verander, kan inheemse roofdiere dit moontlik weens onbekendheid nie as voordelige prooi erken nie.

“Daarom sal inheemse roofdierspesies wat nuwe vreemde prooi kan erken en vreet, moontlik suksesvoller wees ten spyte van indringing wat die natuurlike stelsels verander en hul inheemse prooi verplaas."

Volgens die navorsers geld dit moontlik veral vir roofdiere wat in kort tydperke kan leer om aan te pas om nuwe prooi kan vreet.

Die navorsers het as deel van hul studie mossels en krewe uit die natuur versamel en die krewe aan die indringermossels blootgestel deur hulle in individuele hokke te plaas. Die krewe is vir sewe dae nie gevoer nie ten einde tyd vir akklimatisering toe te laat en om hul hongervlakke te standaardiseer.

Die krewe is gedurende 'n kondisioneringstydperk van vier weke fyngemaakte en heel indringermossels gevoer. Om te bepaal of kondisionering 'n voorkeurverandering van inheemse na indringermossels teweeg gebring het, is die mosselkeuse van gekondisioneerde krewe met dié van ongekondisioneerde individue van dieselfde populasie vergelyk.

“Ons het gevind die krewe het ná 'n kort kondisioneringsfase van vier weke hul dieetvoorkeur van die inheemse mossel wat hulle altyd geëet het, na die onlangse indringer S. Patagonicus verander. Dit was anders as by die ongekondisioneerde krewe wat steeds 'n voorkeur vir inheemse mossels getoon het. Hierdie vinnige leer oor 'n kort tydperk is belangrik vir 'n invertebraat (ongewerwelde dier) soos 'n kreef," sê die navorsers.

“Die feit dat ongekondisioneerde krewe die indringermossels vermy het – al was dit 'n meer makliker prooi met die swakste doppe wat die grootste energieke beloning gebied het – dui daarop dat krewe nie 'n ingebore vermoë het om dit as prooi te erken nie, moontlik weens 'n onbekende chemiese voorkoms.

“Daarom is dit moontlik dat die krewe oor die verloop van die kondisioneringstydperk seine van die indringermossel geïdentifiseer het en deur volgehoue blootstelling geleer het om dit met 'n lonende voedselkeuse te assosieer en 'n voorkeur daarvoor te ontwikkel."

Volgens die navorsers kan kondisionering deur volgehoue blootstelling lei tot die ontwikkeling van 'n chemiese “soekbeeld" vir 'n spesifieke prooi wat gevolglik die vermoë om daardie prooi te vind en op te neem, kan verbeter.

“Die vermoë om 'n chemiese 'soekbeeld' vir 'n spesifieke prooi (bevorder deur volgehoue blootstelling) kan opsigself as 'n meganisme beskou word wat die opsporing en inname van lonende prooi verbeter en waarskynlik belangrik in hierdie voorbeeld van krewe wat 'n nuwe voorkeur vir 'n nuwe indringerprooi ontwikkel.

“'n Roofdier se vermoë om van bekende na nuwe prooi oor te skakel is belangrik binne die konteks van doeltreffende hulpbronaanwending, en 'kondisionering' (voortgesette blootstelling) aan nuwe prooi is 'n meganisme waardeur dit kan plaasvind."

Hulle wys egter daarop dat hoewel die kreef 'n voorkeur vir S. Patagonicus ontwikkel het nadat dit vir vier weke aan hierdie spesie blootgestel is, mag dit langer neem in 'n natuurlike omgewing waar daar 'n groter keuse van prooispesies is. Dit is ook nie bekend of hierdie voorkeur oor langer tydperke sal voortduur nie, en of die kreef 'n geheue vir hierdie nuwe spesie kan behou nie.

“Die sterk voedseloorskakeling na S. Patagonicus wat ons in ons studie waargeneem het, doen egter aan die hand dat dit steeds vir krewe moontlik kan wees om 'n voorkeur vir hierdie mossel te ontwikkel binne 'n omgewing waar hulle gereeld hierdie spesie sal teëkom. Dit is heel moontlik weens S. patagonicus se indringergeskiedenis tot nou toe en die feit dat dit vinnige digte beddings vorm wat mededingers uitsluit."

*Die studie is deur Mhairi Alexander (Skool vir Gesondheids- en Lewenswetenskappe, Instituut van Biomediese en Omgesingsgesondheidsnavorsing aan die Universiteit van Wes-Skotland), en Lisa Skein en Tammy Robinson-Smythe (Departement van Plant- en Dierkunde/Sentrum vir Indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch) onderneem.

  • Bron: Alexander ME, Skein L, Robinson TB. 2022. Rapid learning in a native predator shifts diet preferences towards invasive prey. Biol. Lett. 18: 20210655: doi.org/10.1098/rsbl.2021.0655

Foto krediet: Derek Keats by Wikimedia Commons.