Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sommige mense sal sê dat hulle jou storie wil hoor en dan vir jou voorskryf hoe om dit te skryf.
Outeur: Leonah Marewangepo
Gepubliseer: 08/06/2022

Sommige mense sal sê dat hulle jou storie wil hoor en dan vir jou voorskryf hoe om dit te skryf. Daar word baie gepraat oor wie die kennis besit en wie die narratief in die skryf van ons geskiedenis beheer. Ons besoek aan die Slawelosie het lig gewerp op die vertelkuns en wat dit beteken om die geskiedenis van inheemse mense, swart mense en mense van kleur in die Kaap, in Suid-Afrika en op groter skaal in Afrika, terug te eis. Die werk wat deur die Iziko Slawelosie gedoen word, neem eienaarskap van ʼn storie wat dikwels uit die oogpunt van die koloniseerder vertel word en herskryf dit om die ervarings van die slawe, uit hulle oogpunt, ten volle uit te beeld. Hierdie oogpunt maak saak, omdat hulle stemme vir eeue lank stilgemaak en weggegooi is en deel van hulle vrylating en hulle vryheid behoort te beteken dat hulle stories vertel word soos dit van die begin af vertel moes word.

Die feit bly staan dat ons nie volledig oor Suid-Afrikaanse geskiedenis kan praat sonder om oor slawerny en die belangrikheid van hierdie geskiedenis vir die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse kultuur te praat nie. Die erflating van Suid-Afrika se slawegeskiedenis bestaan vandag nog op talle tasbare en ontasbare wyses: in die politiek, in familiegeskiedenisse en in sommige van die oudste geboue en monumente in die land. Suid-Afrika se groot kulturele diversiteit kan selfs tot ʼn mate aan sy slawegeskiedenis toegeskryf word. Dit is ook belangrik om oor hierdie deel van die nasie se geskiedenis te besin, sodat ons lig kan werp op die talle mense wat vandag nog ly: mense wat die slagoffers van moderne of eietydse slawerny is. Ten spyte van die groot hoeveelheid werk wat oor die eeue heen gedoen is om verslaafde mense te bevry, is dit steeds duidelik dat talle mense se regte steeds geskend word om ekonomieë op te bou en aan die begeertes van magshonger onderdrukkers te voldoen.

Ons besoek aan die Slawelosie het vir ons gewys hoe belangrik dit is om krities te wees oor die stories wat ons omtrent ons geskiedenis vertel word. Ons het gesien dat dit noodsaaklik is om noukeurig te let op hoe hierdie prentjies van die verlede geskets word. Nog ʼn belangrike deel van hierdie ervaring was die geleentheid om te besin oor al die maniere waarop ons instellings bedryf

word en die wyses waarop ons menseregte toegestaan word in die ruimtes waarin ons bestaan. Hierdie besoek het beklemtoon wat dit beteken om ruimte in beslag te neem, om vry te wees, om in staat te wees om jouself ten volle uit te druk en outonoom te lewe. Dit is goed wat ons dikwels as vanselfsprekend aanvaar.

Ons praat dikwels in abstrakte en hipotetiese terme oor Suid-Afrika se slawegeskiedenis, koloniale geskiedenis en apartheidsgeskiedenis, onder andere, en vergeet dat sommige van die strukture wat destyds bestaan het, vandag steeds in talle stelsels bestaan. Dit is van soveel waarde om hierdie museums en erfenisterreine te besoek om hierdie strukture in die werklikheid te sien en nie slegs as maklik vergeetbare idees nie. Hierdie soort plekke maak dit moontlik dat die stories steeds vertel kan word en dat erkenning verleen kan word aan die werk wat talle mense voor ons gedoen het, sodat ons die vryheid en die regte waarop ons vandag kan aanspraak maak, kan uitoefen.