Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
LEGO-toekenning help navorsing om ouerskap in die digitale era te verryk
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 07/06/2022

Die Universiteit Stellenbosch gaan baat by befondsing van £11 miljoen (sowat R215 miljoen) wat die LEGO-stigting bewillig het vir internasionale navorsing om gratis steunprogramme vir ouers regoor die wêreld te ontwikkel. Die navorsing word gesien as grensverskuiwend vir ouerskap.

Die befondsing is toegeken aan die Globale Ouerskap Inisiatief (GPI) met die Universiteit van Oxford in die Verenigde Koninkryk aan die stuur. Die ander universiteite en organisasies regoor die wêreld wat aan die navorsing deelneem sluit in Suid-Afrika, Kanada, Maleisië, die Filippyne, Tanzanië, Thailand en Uganda.

Proff Mark Tomlinson en Sarah Skeen, die mededirekteure van die Instituut van Lewensloop-gesondheidsnavorsing (ILCHR), 'n trans-dissiplinêre eenheid binne die Departement van Globale Gesondheid verteenwoordig Stellenbosch Universiteit as navorsers in die projek.

Die ILCHR gaan $1.5 miljoen (sowat R23 miljoen) van die befondsing ontvang vir werk in bewys-gebasseerde en speelse steun vir die internasionale ouerskap inisiatief.

Tomlinson, tesame met 'n groep akademici verbonde aan verskeie instellings het 'n paar jaar gelede die organisasie Parenting for Life begin wat oop toegang hulp aan ouers voorsien het. Die groep sal die LEGO-befondsing gebruik om vir ouers en versorgers 'n digitale intervensie-program gemik op die tydperk vanaf swangerskap tot die kind se negende lewensjaar te toets en ontwikkel. Dit sal ParentApp for Kids genoem word wat in Tanzanië getoets sal word. Deel van die intervensie is ook om sagteware te skep wat outomaties punte toeken vir interaksies tussen versorgers en kinders.

Tomlinson het in 'n onderhoud gesê hy en sy span is opgewonde oor die befondsing. “Parenting for Life is gratis so hierdie befondsing sal ons in staat stel om dit wat ons weet in 'n hele aantal opwindende rigtings aan te wend soos digitale outomatiese kodering en ander verskillende toepassings wat ons met ander dele van die befondsing ondersoek. Dit is opwindend wat dit ons in staat stel om te kan doen. Dit is grensverskuiwend."

Volgens Tomlinson sal die befondsing sy span ook in staat stel om voort te bou op werk wat hulle reeds oor ouerskap gedoen het.

“Nadat ons Parenting for Life begin het, het talle individue en internasionale nie-regeringsorganisasies dit begin toepas. Dit is jare reeds in gebruik."

Sedert sy ontstaan, het Parenting for Life 'n reeks ouerskap-programme ontwikkel waaronder Thula Sana. Die doel van Thula Sana was om interaksies en die band tussen ma en baba te verbeter. 'n Ander program, Shared Reading is ook gemik op dié tipe interaksie asook die ontwikkeling van die kind se aandag en taalvermoëns. Dit kan gebruik word op kinders vanaf die ouderdom van ses maande.

“Ons het proewe in Uganda, Tanzanië en Zambië tydens Covid gedoen om te toets of die Shared Reading stelsel in 'n digitale formaat kan werk. Virtuele groepe is op die WhatsApp platform geskep en versorgers het boeke, video's en inligting oor ouerskap op hul foon ontvang. Ons het met die proewe gewys dat die konsep wel werk," het Tomlinson gesê.

Volgens hom sal die LEGO-befondsing hulle in staat stel om programme soos Thula Sana en die Shared Reading-inisiatief tesame met ander stelsels op 'n toepassing te laai. Dit sal beteken dat ouers wat normaalweg nie die programme kon gebruik nie, nou wel die toepassing sal kan gebruik.

“Ons gaan die reeds getoetsde program op 'n selfoontoepassing laai en dit in Tanzanië toets en daarna, indien dit werk, hoop ons om dit na skaal uit te brei."

Naas dié werk, sal Tomlinson en sy span in 'n ander projek voortbou op 'n loodstudie wat hulle begin het saam navorsingsvennote in die Verenigde Koninkryk. In die studie gebruik hulle algoritmes en rekenaar-baseerde kodering om interaksies tussen versorgers en kinders te meet.

“Dit neem gewoonlik baie tyd om die interaksies te meet en behels dikwels video-opnames van die interaksies wat dan kodeer moet word waarna navorsers die puntetoekennings onder mekaar moet vergelyk. In die studie gaan ons probeer om dit wat ons reeds in die veld gedoen het uit te brei deur die rekenaar die interaksies te laat kodeer."

Tomlinson het 'n passie vir kindersielkunde en die geestesgesondheid van kinders. Nadat hy sy kwalifikasie as sielkundige verwerf het, het hy vir 'n wyle in 'n kinderhuis in Kaapstad gewerk. Volgens Tomlinson is daar baie kinders in die wêreld wat nog nooit ervaar het hoe dit voel wanneer 'n ouer of versorger aandag aan hulle gee nie.

“Die idee dat iemand jou in gedagte hou en aan jou dink selfs al is hulle nie met jou nie, is iets wat talle kinders as vanselfsprekend aanvaar," sê Tomlinson. Volgens hom hou sulke ouerskap-programme 'n voordeel vir die hele wêreld in.

“Dit is hierdie tipe befondsing wat die wêreld kan verander. Dit is nou ons taak om dit te maak gebeur."


Foto-onderskrif: Professors Mark Tomlinson en Sarah Skeen.

Foto-erkenning: Stefan Els