Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Internasionale wetenskaplike besoek die Instituut vir Plantbiotegnologie
Outeur: C van der VYver
Gepubliseer: 03/06/2022

As deel van die voorgesette medewerking tussen dr Christell van der Vyver van die Universiteit Stellenbosch en professor Sanjib Kumar Panda, het prof Panda onlangs die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) besoek. Prof Panda is die hoof van die Departement Biochemie aan die Sentrale Universiteit van Radjastan in Ajmer, Indië en is ʼn wêreldleier op die gebied van abiotiese stres in plante. Dit was prof Panda se eerste besoek sedert die begin van die Covid-19-pandemie, wat internasionale reise feitlik onmoontlik gemaak het. Prof Panda se verbintenis met die Instituut vir Plantbiotegnologie het in 2017 begin, met ʼn tweesydige (Suid-Afrika en Indië) finansieringskenking vir wetenskap en tegnologie deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS). Sedertdien is prof Panda as ʼn buitengewone professor by die IPB aan die Universiteit Stellenbosch aangestel, waar hy aktief meewerk aan aspekte van studenteopleiding en -navorsing. Op die gebied van abiotiese stres in plante fokus hy in die besonder op swaarmetale, reaktiewe-suurstofspesies, antioksidante en osmotiese stres, en dra wesenlik by tot ʼn kern- navorsingstema van die IPB, “volhoubare landbou in ʼn veranderende omgewing". Hy het reeds meer as 120 artikels oor hierdie onderwerp in internasionale vaktydskrifte gepubliseer en sy werk is reeds meer as 8 100 keer gesiteer.

Prof Panda se onlangse besoek is moontlik gemaak deur ʼn skenking van die NNS vir ʼn Kennis, Uitruiling en Medewerkingsprogram (KIC) wat aan dr Van der Vyver toegeken is om as gasheer vir ʼn internasionale navorser op te tree. Prof Panda se besoek het saamgeval met die BIO2022-kongres oor Biowetenskap, Groot Data en die Vierde Industriële Rewolusie, wat deur die Suid-Afrikaanse Genetikavereniging en die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Bioinformatika aangebied is. Hy het die kongres, wat op Stellenbosch, Suid-Afrika, aangebied is, as 'n uitgenooide- gasspreker bygewoon, met ʼn aanbieding oor funksionele genomika vir abiotiese strestoleransie in gewasse (Functional genomics for abiotic stress tolerance in crops).

In die toekoms sal studente-uitruiling en personeelbesoeke tussen die IPB en prof Panda se laboratorium aangemoedig word, en medestudieleiding vir nagraadse studente word beplan. Studente sal in verskillende toepaslike molekulêre tegnieke opgelei word en die geleentheid gebied word om by medewetenskaplikes in die twee laboratoriums te leer.