Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-dosent dien in nuwe BBSEB-adviesraad
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 02/06/2022

Dr Nthabiseng Moleko, senior dosent in Ekonomie en Statistiek aan die Stellenbosch Bestuurskool, is aangestel as 'n lid van die nuwe adviesraad oor breë-basis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB). Dié raad is op Woensdag, 1 Junie deur president Cyril Ramaphosa aangekondig.

Volgens die presidensie is provinsiale verteenwoordiging, sektorale kundigheid, geslag en ouderdom in die samestelling van die raad in ag geneem. Die 14 lede waaruit die paneel bestaan, sal vir die volgende vyf jaar in die raad dien. Agt van die lede is vroue. 

Die lede is:

  • Kganki Matabane, uitvoerende hoof van die Swart Sakeraad (BBC);
  • Gloria Serobe, 'n veteraan van swart sakebelange;
  • Dr Nthabiseng Moleko, 'n akademikus en kundige op die gebied van industriële ontwikkelingsbefondsing;
  • Sibongile Sambo, wat 'n maatskappy bestuur in die lugvaartdienssektor;
  • Sibusiso Maphatiane, 'n nyweraar wat sy eie metaalgietery bestuur;
  • Ajay Lalu, 'n geoktrooieerde rekenmeester en BBSEB-kundige;
  • Louise Thipe, 'n senior leier in die arbeidsbeweging;
  • Makale Ngwenya, 'n vakbondman en navorser;
  • Kashif Wicomb, leier van die Progressiewe Professionele Forum (PPF);
  • Dr Lulu Gwagwa, 'n akademikus, ruimtelike ontwikkelingsbeplanner en sakepersoon;
  • Thulani Tshefuta, wat gemeenskapsbelange en die jeugbeweging by die Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) verteenwoordig;
  • James Hodge, hoofekonoom van die Kompetisiekommissie;
  • Khathu Lambani Makwela, 'n maatskappydirekteur in die gesondheidsorgsektor; en
  • Irene Dimakatso Morati, 'n interne ouditeur.

Dr Moleko het die grade MPhil en PhD in Ontwikkelingsfinansies aan US en 'n honneursgraad in Ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Sy doseer tans Bestuursekonomie en Statistiek vir studente in die MBA-program en die Nagraadse Diploma in Sakebestuur en -administrasie.

Dr_NthabisengMoleko_web.jpg