Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Volmink ontvang eredoktorsgraad vir baanbrekersrol in bewysgebaseerde geneeskunde
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
Gepubliseer: 02/06/2022

Die voormalige Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch, prof Jimmy Volmink, het gedurende sy lang, roemryke loopbaan talle eerbewyse ontvang. Hierdie lysie het onlangs langer geword toe die McMaster-universiteit in Kanada ʼn eredoktorsgraad in wetenskap aan hom toegeken het.

Hierdie jongste eerbetoon is grootliks uit erkenning vir sy baanbrekersrol in die veld van bewysgebaseerde geneeskunde (BGG) en die Universiteit het hom in die sitaat as ʼn internasionaal gerekende leier op hierdie gebied beskryf.

“Hy was … op uitnodiging van die SA Mediese Navorsingsraad (SAMNR) die stigtersdirekteur van Cochrane SA en onder sy leiding het Cochrane SA ʼn leier in die bevordering en uitbreiding van BGG geword. Dit het meegebring dat meer gesondheidsorgbesluite op grond van betroubare navorsingsbesluite, pleks van tradisie of opinie, geneem word," het dr David Farrar, President en Vise-kanselier van die McMaster-universiteit, in die sitaat gesê.

“Hy het deurgaans in sy loopbaan kliniese werk met navorsing en innovasie gekombineer. Dit het gelei tot meer as 200 artikels waarvan hy die medeskrywer was, met onderwerpe wat insluit intervensies vir tuberkulose, MIV/vigs en kardiovaskulêre siektes; die bevordering van bewysgebaseerde besluitneming; die aanpak van gesondheids- en maatskaplike ongelykhede; en die bou van navorsingskapasiteit op die Afrika-kontinent."

Met spesifieke verwysing na Volmink se grensverskuiwende werk oor tuberkulose, lui die sitaat: “Sy sistematiese oorsig van die direk waargenome terapie-kortkursusbehandeling van TB (DOTS) … het ʼn internasionale debat ontketen en gelei tot grondliggende veranderinge in hoe ons daardie siekte vandag behandel."

Die sitaat het ook erkenning verleen aan Volmink se rol om gesondheidsnavorsingsentrums oor Suid-Afrika heen te vestig. Voorts het hy etlike bydraes elders gelewer, wat insluit om in komitees en adviesrade van instellings soos die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Ottawa-universiteit se Evidence for Equity Nutrition Stakeholder Panel te dien.

Volmink, wat lank ʼn professor in die FGGW se Departement Globale Gesondheid was, het die gradeplegtigheid by die McMaster-universiteit in Hamilton, Ontario aan die einde van Mei bygewoon. In sy toespraak aan die konvokasie het hy dié universiteit as die geboorteplek van BGG geloof.

“Ek voel diep geëerd dat een van die wêreld se toonaangewende akademiese instellings my as waardig vir ʼn eer van so ʼn enorme omvang ag," het Volmink gesê.

“Veel het in gesondheidsorg verander sedert ek in 1982 gegradueer het. Bewysgebaseerde geneeskunde, waarvoor die weg deur sleutelindividue by hierdie instelling gebaan is, is as ʼn kragtige nuwe paradigma vir die neem van gesondheidsorgbesluite bekend gestel, met ʼn verreikende impak op professionele gesondheidsopleiding en -praktyk wêreldwyd."

Volmink het die konvokasie meegedeel dat ʼn aanlyn peiling onder wêreldwye lesers van die British Medical Journal in 2007 BGG sewende geplaas het uit die 15 belangrikste mylpale wat moderne geneeskunde gevorm het: “Op ʼn wyer front het BGG gehelp om die formulering van gesondheidsbeleid op die hoogste globale vlak te verbeter en denke oor die aard van bewyse op ander gebiede as gesondheid, soos in onderwys, regspleging en die sosiale wetenskappe, uitgedaag."

Volmink het ʼn belangrike rol in hierdie proses gespeel en word deur baie as die vader van bewysgebaseerde gesondheidsorg in Afrika beskou. Toe hy Cochrane SA in 1997 gevestig het, het dit die formele bevordering van BGG op die kontinent ingelui. Vandag koördineer Cochrane SA ʼn Cochrane Afrika-netwerk in vennootskap met die Cochrane-sentrum in Nigerië.

Ter erkenning van Volmink se bydrae tot BGG het hy in 2015 die Leverhulme-medalje van die Verenigde Koninkryk se School of Tropical Medicine ontvang en in 2016 ʼn Erkenningstoekenning van die SAMNR. Hy was in 2016-2017 voorsitter van die globale organiseringskomitee van die eerste Global Evidence Summit in Kaapstad.

Verlede jaar het Volmink, wat van 2011 tot 2021 Dekaan van die FGGW was, die US se Lewenslange Kanselierstoekenning vir volgehoue uitmuntende loopbaanprestasie ontvang, asook die President se Lewenslange Presteerdertoekenning van die SAMNR en ʼn eredoktorsgraad van KU Leuven in België uit erkenning vir sy werk in wetenskap en die bevordering van menslike waardigheid.

Sy eredoktorgraad van die McMaster-universiteit is die jongste van die talle prestasies gedurende sy voortreflike loopbaan. Farrar het na afloop van die gradeplegtigheid in ʼn verklaring gesê: “Ek is in my skik dat die McMaster-universiteit besluit het om ʼn eredoktorsgraad in wetenskap aan … Volmink toe te ken. Sy lang geskiedenis om bewyse in impak te omskep en sy prestasierekord rakende die bevordering van globale gesondheid en mediese onderrig maak van hom ʼn waardige ontvanger van hierdie eerbetoon."

Dis duidelik dat dié eredoktorsgraad spesiale betekenis vir Volmink inhou. “Ek het vir langer as drie dekades die droom gekoester om die geboorteplek van bewysgebaseerde geneeskunde te besoek," het hy in sy konvokasie-toespraak gesê. “Maar ek kon nie in my wildste drome voorsien dat hierdie besoek waarvoor ek so lank gewag het, sou geskied ná die ontvangs van ʼn brief van die President van die McMaster-universiteit waarin hy my ʼn eredoktorsgraad aanbied nie.

“Dit is ʼn eer wat ek wil deel met almal wat deur hul aanmoediging en ondersteuning die prestasies moontlik gemaak het waarvoor ek nou erkenning geniet. Hierdie individue sluit lede van my familie in (veral my ouers, wat soveel opgeoffer het), asook vriende, onderwysers, mentors en kollegas.

“Ek wil veral erkenning gee aan my vrou, Blossom, vir haar getroue ondersteuning deur die jare, asook aan my liewe vriende en inspirerende medewerkers, dr Patrice Matchaba en dr Lehana Thabane. Ek is verheug dat hulle hier is … om hierdie spesiale geleentheid saam met my by te woon en te vier."

 

Foto-onderskrif: Prof Jimmy Volmink

Foto-erkenning: Damien Schumann