Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Bantubonke Louw
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 27/05/2022

Bantubonke Louw is 'n groot kampvegter vir onderwystransformasie en is gedurig op soek na maniere om die onderwysstelsel te help verbeter. Sy rolle as programbestuurder vir semestermobiliteit by Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal en assistentkoshuishoof by Academia laat hom toe om juis dít te doen.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. In hierdie laaste aflewering vertel ons jou meer van Bantubonke, wat hom in 2015 by die US aangesluit het.

Wat behels jou rol by die US?

Ek is die programbestuurder vir semestermobiliteit by US Internasionaal. Ek en my span hou toesig oor en koördineer in- en uitwaartse niegraadsemesterstudente en Study Abroad-geleenthede. In 'n sekondêre hoedanigheid is ek ook assistentkoshuishoof by Academia, waar ek op residensiële onderwys, studentewelwees en studentesukses konsentreer.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

'n Tipiese dag begin met 'n sterk koppie koffie – ek funksioneer op volle krag na my tweede een. Daarna loer ek in by my span om 'n oorsig te kry van waaraan hulle werk en waarmee hulle hulp nodig het. Omdat die Study Abroad-lewensiklus streng tydgebonde is, werk ek en die span ten nouste saam om te sorg dat ons alle sperdatums haal. 

Ek skakel ook normaalweg met kollegas van vennootinstellings om in-/uitwaartse uitruilgeleenthede te koördineer, om te onderhandel oor finansiële voordele of fooie wat aan/deur studente betaal moet word, en om vennootskappe oorhoofs te bestuur. Boonop skakel ek met US-dosente om kursustoelating vir uitruilstudente te bekom, en ek bestuur ons Globale Onderwysprogram, wat insluit die verkryging en kontraktering van dosente om die kursusse aan te bied.

Hierdie take verrig ek tussendeur my daaglikse konsultasies met uitruilstudente. Ek hanteer gewoonlik my e-posse voor en ná spreekure, wat elke dag van 10:00 tot 15:00 is. En dan verskuif my aandag na my koshuishoofverantwoordelikhede van 17:00 tot omtrent 02:00, na gelang van hoe stil die studente is!

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?

Ek het nog altyd in die onderwyssektor gewerk, van onderwys op hoërskoolvlak tot onderrig en werk op die gebied van internasionalisering en residensiële onderwys. My opleiding en studie het my met goeie intra- en interpersoonlike vaardighede toegerus, wat my in staat stel om met uiteenlopende mense te werk.

As 'n stoere aktivis vir onderwystransformasie en -dekolonisasie, soek ek altyd na maniere waarop ons die onderwysstelsel kan verbeter – of dit nou deur internasionalisering van die onderwys, residensiële onderwys of die buiteklaservaring is – en tot studentesukses en -welwees kan bydra. 

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Die vreugde op studente se gesigte as jy hulle vertel dat hulle gekies is om oorsee te studeer is werklik bevredigend. Om hulle drome van buitelandse studie en reis te help bewaarheid motiveer my om uit te hou en aan te hou. Baie studente was nog nooit voorheen op 'n vliegtuig nie, wat nog te sê in die buiteland.

Vertel ons iets opwindend van jouself wat min mense sou verwag?

Ek grens aan werkverslaaf. As ek nie in die kantoor is nie, is ek altyd op my foon, Outlook of MS Teams.

​Fotograaf: Stefan Els