'n MSc-tesis oor mariene soogdierspesiasie en die rol wat historiese klimaatsverandering in hierdie proses gespeel het, het aan Amoré Malan van die Universiteit Stellenbosch die gesogte Junior Captain Scott-gedenkmedalje besorg.
Hierdie medalje word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken vir die beste MSc-tesis in Plant- of Dierkunde by 'n Suid-Afrikaanse Universiteit.
Amoré sê hoewel die toekenning 'n groot verrassing was, is sy dankbaar vir die erkenning wat sy kry terwyl sy iets doen waarin sy regtig belangstel. Die toekenning is vir haar ook 'n getuienis van die ondersteuning wat sy van haar studieleier, prof Conrad Matthee, mede- nagraadse studente, haar vriend en familie gekry het.
Volgens Amoré het sy nog altyd in die natuurlewe belang gestel: “van kleins af het ek dierasies uit die tuin versamel of agter tarentale aangeloop. My belangstelling in mariene biologie is geprikkel toe ek die interaksie tussen 'n boggelrugwalvis-ma en haar kalf in Kalkbaai gesien het."
Alles het egter nie net klopdisselboom verloop nie − die grootste uitdaging was om by die Covid-19-regulasies te hou. Gedurende die eerste jaar van haar meestersgraadstudie kon sy vir drie maande lank nie in die genetikalaboratorium werk nie as gevolg van die streng inperkingsmaatreëls wat in Maart 2020 aangekondig is: “Hierdie tydperk was van kritieke belang vir die insameling van data en het aanvanklik baie terugslae tot gevolg gehad," verduidelik sy.
Die mees vervullende deel van haar navorsing was die diverse vaardighede wat sy moes aanleer ten einde haar meestersgraad te kan voltooi. Hierdie vaardighede het nuwe geleenthede vir navorsing in molekulêre biologie en evolusie geopen. Sy het ook reeds 'n navorsingartikel wat op haar MSc-tesis gebaseer is, vir 'n ewekniebeoordeelde vaktydskrif voorgelê.
In haar navorsing het sy getoon dat die Australiese bruin pelsrob (Arctocephalus doriferus) uit die Suid-Afrikaanse bruin pelsrob (Arctocephalus pusillus) tot stand gekom het deur middel van 'n kolonialiseringsgebeurtenis uit Afrika. Laasgenoemde proses het gedurende die Laaste Glasiale Maksimum ongeveer 20 000 jaar gelede plaasgevind.
Amoré verduidelik: “Tydens die kruin van die Laaste Glasiale Maksimum, het laer seevlakke migrasies vanaf suidelike Afrika na Australië moontlik gemaak, aangesien meer landmassas of mid-oseaniese eilande blootgelê is. Daarna het die styging van seevlakke die genevloei ontwrig. Sedert ongeveer 12 000 jaar gelede is daar nie meer 'n genevloei tussen die twee populasies nie, wat twee verskillende spesies bruin pelsrobbe in die Suidelike Yssee tot gevolg gehad het."
Prof Matthee sê die uitgestrektheid van ons oseane maak dit vir navorsers moeilik om die onderliggende meganismes van spesiasie in mariene omgewings te verstaan. Op land korreleer die vorming van spesies meestal met die geografiese isolasie van twee of meer groepe individue. In die mariene omgewing is dit egter baie moeiliker om duidelike hindernisse vir genevloei te identifiseer.
“Die studie het duidelike bewyse verskaf dat gletsersiklusse en oseaanafstande twee groot kragte is wat bydra tot spesiasie in sommige mariene spesies," sluit hy af.
Foto van bruin pelsrob. Tim Sheerman-Chase 2.0 Generic CC BY 2.0