Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eksamens uitgestel met een week
Outeur: Stellenbosch University / Universiteit Stellenbosch
Gepubliseer: 20/05/2022

Beste personeellede en studente

Die afgelope week was baie moeilik en traumaties vir ons Universiteit Stellenbosch-gemeenskap. Ons is hartseer en ontsteld oor die voorvalle op ons kampus. Ons veroordeel nogmaals ten seerste wat by Huis Marais gebeur het, en verseker julle dat hierdie tipe gedrag nie geduld kán of sál word nie.

Ons is ook diep geskok deur die beweerde verkragting wat op ons kampus aangemeld is. Die Rektor en bestuur van die Universiteit veroordeel alle vorme van misdaad en enige skending van menseregte, waaronder geslagsgebaseerde geweld, ten sterkste. Ons het in albei gevalle dadelik opgetree wat betref ondersteuning aan die slagoffers, ondersoeke en dissiplinêre prosesse.

In die lig van hierdie traumatiese gebeure, en die impak daarvan op ons studente se geestesgesondheid en gemoed, het die Rektoraat in oorleg met ons fakulteits- en studenteleiers besluit om die eksamentydperk vir die eerste semester met een week uit te stel. Dít beteken dat die semestereksamen nie eerskomende Maandag 23 Mei sal begin nie, maar op Maandag 30 Mei. Die sperdatums vir assesserings wat dié week ingedien moes word, word óók met 'n week uitgestel. Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, vir wie vergunnings in hierdie verband óók goedgekeur is, sal binnekort self sy spesifieke reëlings aankondig.

Die hele eksamenrooster skuif aan met 'n week, en reses begin op 4 Julie. Dít het egter geen invloed op die aanvang van die tweede semester nie, wat steeds op 18 Julie begin.

In gesprekke met fakulteitsdekane, visedekane vir leer en onderrig sowel as studenteleiers is voorstelle vir die aanpassing van die eksamenrooster gedoen. Die bestuur het tot die finale gevolgtrekking gekom dat die uitstel van die eksamentydperk met 'n week ons studente en personeel tyd sal gun om by die ongelukkige gebeure van die afgelope week aan te pas.

Ons studente- en fakulteitsleierskap staan verenig in hulle versoek vir uitstel, en die Rektoraat glo dit sal ál ons studente die beste moontlike kans op sukses in hulle eksamens en assesserings bied.

Ons besef dié besluit is buitengewoon, en dit is nie ligtelik geneem nie. Ons weet ook dit sal 'n logistieke impak op studente en personeel hê.

Die Registrateurskantoor sal so gou moontlik vollediger besonderhede oor die eksamenrooster bekend maak.

Studente en kollegas, ons is trots daarop om deel te wees van 'n soepel en aanpasbare universiteit. Ons het gedurende die pandemie aangepas, en ons kan dit wéér doen. Ons glo die uitstel van die eksamentydperk is die deernisvolle ding om te doen, en ons vertrou julle ondersteun ons in die besluit.

Forward together. Sonke siya phambili. Saam vorentoe.

Vriendelike groete  

Prof Deresh Ramjugernath
Viserektor: Leer en Onderrig​