Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Booysen se navorsing help verbeter die lewe van armes en kwesbares
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 20/05/2022

Prof Thinus Booysen van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs sy intreerede met die titel “Ingenieurswese vir Afrika: Ons Internet van Dinge" gelewer. Booysen het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor hoe sy navorsing help om die lewe van arm en kwesbare mense te verbeter.

Vertel ons meer van jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.

Ek en my span doen navorsing oor verskeie onderwerpe, waaronder water, energie, water- en elektrisiteitskoste by skole, minibustaxi's en rekenaarvisie.

Ons het Internet van Dinge-toestelle ontwerp wat ʼn werklike verskil in talle mense se lewe gemaak het. Die eerste is Geasy, ons selfontwerpte elektriese slimwaterverwarmingsbeheerder, wat temperatuur, elektrisiteit, water en ʼn paar ander goed op ʼn afstand beheer en monitor. Dan is daar Geasy se jonger sib, Count Dropula, wat hoëresolusie-watermeting doen. En daar is Watts-on, wat elektrisiteitsgebruik meet en rapporteer. Ons het ook ʼn paar ander toestelle geskep, soos ʼn mobiele foongebaseerde spektrofotometer om watergehalte te meet, ʼn bestuursgedragsensor, asook ʼn hele paar mobiliteitsopspoorders. Deur hierdie en ander navorsingsprojekte het ons ten doel om doeltreffendheid te verbeter, koste te verlaag en lewensgehalte te verbter – veral dié van arm en kwesbare mense.

Wat betref my belangstelling in hierdie spesifieke veld, sou ek sê my baie kort aandagspan, wye belangstellingsveld, behoefte om te optimeer, inherente beheervraatsug en diep gewortelde behoefte om dinge te verstaan was perfekte pasmaats vir hierdie veld.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Ek gebruik tegnologie om doeltreffendheid, kostevermindering, beter kuratorskap van die omgewing, beter gesondheid, veiligheid en regverdigheid in verskeie lewensfere teweeg te bring.

Vertel ons meer van die maatskaplike impak van jou navorsing?

Ek besef ons het allerhande soorte navorsing nodig en ek verteenwoordig net ʼn fraksie daarvan, maar vir my persoonlik sal my navorsing betekenisloos wees sonder maatskaplike impak. Ek voel of ek belastingbetalers se geld en dringende geleenthede mors as ek nie die meeste van hierdie ongelooflike geleentheid maak wat aan my gegee is om oplossings vir ons talle probleme en waarheid in ons talle onsekerhede te vind nie. My studente weet dit is die grondslag en vertrekpunt van ons projekte. Om die goeie boek losweg aan te haal: wys my navorsingsimpak sonder maatskaplike impak en ek sal vir jou navorsingsimpak deur maatskaplike impak wys.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Om die denke en wêreldperspektief van ywerige, hardwerkende studente te vorm en aan hulle rigting te gee. Daar is veelvuldige geleenthede hiervoor in onderrig én oorsig van navorsingsprojekte. Ek put ook groot genot daaruit om waarhede bloot te lê in dinge wat goed verstaan skyn te word.

Die pandemie het die manier waarop ons werk en leef verander. Wat hou jou gemotiveerd in hierdie tye?

In alle eerlikheid was die pandemie rampspoedig vir ons as lektore en selfs erger vir die studente. Ek kan sien my studente byt steeds die spits van dié ervaring af en die impak van eensaamheid tydens ʼn deurslaggewende ontwikkelingsfase verlam sommige van hulle steeds. Gelukkig is ek met ʼn baie stabiele, ondersteunende en liefdevolle vrou getroud. Sy was vir my ʼn steunpilaar en as dit nie vir haar was nie, sou ek nie eens my PhD voltooi het nie, wat nog te sê van in my loopbaan vorder.   

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sal verwag nie.

Ek bak elke week ʼn paar suurdeegbrode. Die knieëry verlig my stres. Tot my kinders se ontsteltenis deurdrenk ek die deeg soms met gesonde groente deur water met versapte wortels, kool, spinasie en so meer te vervang. Ek is mal oor die smaak van suurdeeg, wat beteken ek is ook mal oor marmite en bier.

Hoe bestee jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing?

Ek en my vrou verdeel die verantwoordelikhede in ons huwelik volledig, wat beteken ek bestee die meeste van my vrye tyd om te kook en na die kinders om te sien. Ek is mal oor voetslaan in die berge, bergfietsry, om na The Economist te luister en om brood te bak.  ​