Prof Richard Walls van die Eenheid Brandingenieurswesenavorsing (FireSUN) in die Departement Siviele Ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch het onlangs sy intreerede met die titel “Brandveiligheidsingenieurswese – waar fisika en rampe mekaar ontmoet" gelewer. Walls het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor hoe sy navorsing help om dorpe, huise en informele nedersettings veilig teen brande te hou.
Vertel ons meer van jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.
Ons werk fokus op brandveiligheidsingenieurswese en strukturele brandontwerp. Navorsingsonderwerpe sluit in brandveiligheid in informele nedersettings, strukturele brandontwerp, materiale by ʼn hoë temperatuur (bv. wat met materiale gebeur wanneer dit baie warm word en die grootmaat-berging van landbou- of plastiekmateriale). Ons probeer verstaan wat gebeur wanneer ʼn brand uitbreek en hoe om die impak van vernietigende brande te temper.
Ek het per ongeluk by hierdie veld betrokke geraak toe my PhD-toesighouer, dr Hennie de Clercq, ʼn onderwerp in strukturele brandingenieurswese voorgestel het. Ek het sedertdien baie in die veld begin belangstel.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?
Ons werk help om van die wêreld ʼn veiliger plek te maak. Dit kan die ontwikkeling van dorpe, plastiekherwinningsfasiliteite, wolkekrabbers, onbeboude gebiede en landboufasiliteite help rig en bevorder. Ons kan dorpe, huise, petrochemiese fasiliteite en informele huise deur die ontwikkeling van praktiese oplossings veilig teen brande hou.
Vertel ons meer oor die maatskaplike impak van jou navorsing?
Ons werk is omvattend op die bevordering van brandveiligheid in informele nedersettings gefokus, asook om leiding te bied vir organisasies wat in sulke areas werk. Die werk het ten doel om branddinamika en die verspreiding van brande tussen informele huise te verstaan sodat ons oplossings kan evalueer om uit te vind wat werk en wat nie. Voorts kan werk aan strukturele brandingenieurswese alle tipes geboue help veilig hou en die herstel van brandbeskadigde strukture help rig.
Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?
Om tydens brandeksperimente goed af te brand, om met studente te werk en om innoverende maniere te vind om die wêreld veiliger te maak.
Die pandemie het die manier waarop ons werk en leef, verander. Wat hou jou gemotiveerd in hierdie tye?
My vrou en kinders, die Bybel, gebede en om ʼn impak deur ons werk te probeer maak.
Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sal verwag nie.
Ek was voorheen ʼn buitemuurse instrukteur vir rotsklim, abseil, kajakroei, kanovaart en lugtoue. Ek het ook ʼn graad in teologie.
Hoe bestee jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing?
Ek sien na my kinders om en doen uitreikwerk deur ons kerk. Ek is ook mal oor draf.