Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Brief uit die Dekaanskantoor oor die rassistiese voorval by Huis Marais
Outeur: Dean's Office: Faculty of Arts and Social Sciences | Dekaanskantoor: Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Gepubliseer: 19/05/2022

​Beste studente

Verlede naweek, in die vroeë oggendure, het 'n wit student in Huis Marais 'n swart student se kamer binnegedring en op sy besittings geurineer. Alhoewel nie die slagoffer of die oortreder 'n student in ons fakulteit is nie, is dit gepas dat ons besin oor wat gebeur het en hoekom dit verkeerd is.

In ons fakulteit bestudeer ons wat mense doen, dink, glo, skep, hoop en vrees; wat ons bereik het en waar ons tekort geskiet het. Uiteindelik is ons besorg oor wie ons as mense is, in ons indiwiduele hoedanigheid en in ons verhoudings met andere. Die voorval by Huis Marais gaan oor al hierdie vrae.

Die ondersoek van hierdie voorval, deur die Gelykheidseenheid, sal teen die einde van die week afgehandel wees. Ongeag die bevindinge, wil ons ons afsku oor hierdie gebeure uitspreek. Om op 'n medestudent se skootrekenaar en studiemateriaal te urineer, toon 'n growwe minagting van die slagoffer se persoon en vir sy intellektuele strewe. Dit is 'n ontkenning van sy aansien as ʼn gelyke medestudent en medemens. Witheid – ’n geboorte-toevalligheid – is nie ’n bron van morele meerderwaardigheid nie. Die karakter van 'n persoon word gemeet aan hul optrede. Daar is geen verskoning vir optrede waar 'n wit student 'n swart student behandel as iemand wie se werk, wie se waardigheid, wie se persoonlikheid minder tel as hul eie nie. Geen.

Hierdie was die optrede van een individu teenoor 'n ander. Dit het egter in hierdie land en by hierdie universiteit gebeur, en moet dus gesien word teen die agtergrond van 'n geskiedenis van rassisme, rasse-nasionalisme, uitsluiting en onderdrukking. Stellenbosch is 'n ander plek as wat dit onder apartheid was. Nietemin word ons optrede as studente, dosente en administrateurs omraam deur die geskiedenis van ons land en ons instelling. As 'n fakulteit erken ons dit. Ons streef daarna om, in wat ons onderrig en hoe ons dit doen, ons bitter verlede te erken en om julle, ons studente, toe te rus om die toekoms in te stap as bedagsame, kritiese landsburgers met 'n gevoel van waardigheid, agentskap en wedersydse verantwoordelikheid.

Ons wil nie die ervaring van die slagoffer van hierdie rassistiese voorval as 'n “leerbare oomblik” toeëien nie. Dit is vir hom om te besluit hoe hy sin wil maak van die voorval en ons moet sy outonomie respekteer – daardie outonomie wat die oortreder hom ontsê het. Wat van ons vereis word, is om te besin oor ons eie optrede, ongeag watter rol ons ook al by hierdie universiteit vervul.

Ons verbintenis aan jou, vanaf die kant van die fakulteit, is dat ons nie rassisme sal ignoreer nie. Ons sal aanhou om te probeer om die bronne en manifestasies daarvan te verstaan ​​en om hierdie konsep in ons onderrig te inkorporeer. Dit is slegs deur te weet wat in die wêreld aangaan dat ons dit kan verander. Ons kan nie die verlede ongedaan maak nie, maar ons kan die nalatenskap daarvan verstaan en teenstaan. Dit is in hierdie gees dat die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe sal aanhou vra wie ons is en hoe ons tot hier gekom het, sodat ons 'n meer regverdige wêreld kan skep vir diegene wat nou leef en vir diegene wat ná ons sal kom.

Met opregte groete,

Prof Anthony Leysens (Dekaan)

Prof Lindy Heinecken (Vise-dekaan: Navorsing)

Prof Vasti Roodt (Vise-dekaan: Onderrig en Leer)