Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lesing oor kunsmatige intelligensie: Van akademiese deurbrake tot hoofstroomgebruike
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 18/05/2022

Prof Euro Beinat van die Universiteit van Salzburg het onlangs 'n openbare lesing by die Universiteit Stellenbosch gelewer wat meer gewig en rigting aan die kunsmatige intelligensie-debat verleen. Dié ereprofessor in die Departement Ekonomie het kunsmatige intelligensie (KI) bespreek, van die huidige stand van sake tot wat die toekoms inhou.

Beinat beskik oor 'n MSc-graad in Rekenaarwetenskap en 'n PhD in Ekonomie. Hy is 'n dosent in Geoinformatika en Datawetenskap aan die Universiteit van Salzburg in Oostenryk en is wêreldwyd die hoof van KI en Datawetenskap by Naspers en Prosus, een van die grootste internasionale internet- en beleggingsmaatskappye. Beinat het ook verskeie projekte met datawetenskapsagteware vir groot maatskappye geskep en gelei. Sy ervaring wissel van navorsing tot sakeleierskap. Hy dien ook in die raad van verskeie beginnersbesighede en is die medestigter van Data Science for Social Good, 'n nie-winsgewende organisasie wat daarop ingestel is om datawetenskap met 'n voordelige sosiale impak te bevorder.

​Die titel van Beinat se lesing was “Van akademiese deurbrake tot hoofstroombenutting: waarnemings en vooruitsigte ná tien jaar van die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI)." Hy het afgeskop deur oor die huidige stand van die KI-bedryf uit te brei.

“KI is oral en word al hoe meer geïndustrialiseerd. Dit word basies in elke bedryf toegepas, maar nie op dieselfde wyse nie. Ons kan dit byna oral sien in sektore soos verbruikerstegnologie en finansies, terwyl dit baie minder sigbaar is in ander gebiede. Publikasies in die KI-domein neem steeds toe en private beleggings hou aan groei. Ons sien ook dat KI meer bekostigbaar geword het en beter presteer. Die afgelope paar jaar het koste met 63% afgeneem, opleidingstye het met 95% verbeter (dis baie vinniger) en akkuraatheid is ook beter.

“Ons het ook gesien dat modelle mettertyd groter geword het, aangesien groot modelle beter as kleiner modelle vaar. In die verlede was dit ingewikkeld om met tale te werk, maar vanaf 2018 sien ons baie groot modelle wat in die hele Wikipedia-korpus en alle gedigitaliseerde boeke opgelei is. Die opleiding van hierdie groot modelle is duur, maar dis nog 'n voorbeeld van hoe tegnologievaardighede, die vermoë om op 'n hoogs gesofistikeerde vlak met hardeware te werk, en befondsing 'n verskil maak."

Daarna het Beinat 'n oorsig gegee van die lesse wat hy die afgelope dekade geleer het.

“Eerstens is die huidige KI geskik is vir algemene doeleindes. Daar is nie werklik 'n domein waar dit nie gebruik kan word nie; jy word net beperk deur die data of talent wat jy tot jou beskikking het. Ons het ook geleer hoe om dit te laat werk. Tien jaar gelede was dit 'n groot gesukkel om die nodige inligting te bekom, aangesien daar nie genoeg data beskikbaar was nie en die algoritmes nie goed presteer het nie. Praktisyns het egter uitgewerk hoe dit alles in mekaar steek. As ons nou 'n probleem teenkom, weet ons watter data om te gebruik, watter uitwerking dit min of meer gaan hê, en of dit gaan werk of nie. Dit is belangrik vir beheer.

“Ons weet ook dat 'n organisasie wat 'n bedryfsleier wil word, die regte mense met die regte vaardighede moet aanstel. Dis belangrik dat 'n sekere mate van kennis oor KI-gereedskap en -wetenskap oral in die organisasie teenwoordig sal wees. Daar is ongelukkig 'n groot tekort aan kundigheid."

Beinat voorspel onder meer dat KI-modelle in die toekoms in grootte sal toeneem en ons vermoë sal verbeter om met taal te werk; KI-gebaseerde robotika sal lewensvatbaar word; KI sal toenemend gebruik word om moeilike probleme op te los en beter voorspellings te maak, en sal as instrument dien om nuwe ontdekkings te maak.

“Etiese en verantwoordelike KI sal aan die spits van KI-ontwikkeling staan," het hy gesê.

  • Fot​​o (verskaf): Prof Euro Beinat​