Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Medewerking versterk Telematiese Skole-projek verder
Outeur: Christina Harvett
Gepubliseer: 18/05/2022

​Die Hoërskool Ohlange is ʼn sekondêre skool in Inanda, KwaZulu-Natal, Suid-Afrika. Dit is gevestig deur John Langalibalele Dube, wat ook die stigter en eerste president van die African National Congress was. Dit is die eerste skool in Suid-Afrika wat deur ʼn swart persoon gevestig is en in 2007 was dit een van verskeie skole wat as 'geskiedkundige skole' in Suid-Afrika erken is. Dit is in 1994 deur voormalige President Nelson Mandela gekies as die plek waar hy sy stem in die eerste ras-inklusiewe verkiesing in Suid-Afrika sou uitbring.

Broadband Infraco se korporatiewe maatskaplikebeleggingsprojek het die Hoërskool Ohlange gekies om die skool se inligtings-en-kommunikasietegnologie-infrastruktuur (IKT-) op te gradeer om gehalte-onderwys in afgeleë landelike gebiede te verseker. Hulle het breëband-internet en die toerus van ʼn klaskamer met die satelliettoerusting van die Telematiese Skole-projek en ook lugversorging vir die vertrek, geborg. Broadband Infraco het die Telematiese Skole-projek as vennoot gekies, aangesien die projek hoëgehalte-inhoud, deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) goedgekeur, vir graad 10- tot 12-leerders voorsien, teen geen koste vir die skool of die leerders nie.

Die adjunk- bedryfsdirekteur van die Sentrum vir Leertegnologieë: Telematiese Dienste en Projekte, me Zainab Suliman, het die bekendstelling bygewoon en ʼn werksessie aangebied oor hoe om die Telematiese Skole-projek in die onderwyser se eie lesbeplanning in te werk. Hierdie inisiatief versterk verder die projek se poging om leerders te ondersteun, veral in kwesbare gemeenskappe regoor die land.

Die Telematiese Skole-projek (TSP) is ʼn inisiatief sonder winsbejag wat gesamentlik deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement en die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Leertegnologieë ontwikkel is. Die projek verskaf lesse, vakwerksboeke en ander materiaal vir agtien vakke, in pas met die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) en in Afrikaans en Engels, aan leerders in graad 10 tot 12. Die gehalte van die inhoud word deur senior kurrikulumbeplanners van die WKOD verseker en is kosteloos op ʼn nulgegradeerde webwerf aan die leerders beskikbaar.