Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-wingerdkundeprojek oor klimaatsverandering verskyn op CNN
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 16/05/2022

Die internasionale nuuskanaal CNN saai tans ‘n insetsel uit waarin ClimaVin, ‘n projek waarby wingerdkundiges en mikrobioloë van die Universiteit Stellenbosch (US) betrokke is, in die kollig is. Die projek bestudeer die impak wat klimaatsverandering op die mikrobiese wyn-terroir het.

Die insetsel is die eerste keer hierdie naweek uitgesaai. Dit word weer op Maandag 16 Mei 2022 uitgesaai op CNN Inside Africa (DStv-kanaal 401), en word weer later die week herhaal.

Die CNN-insetsel fokus in die breë op innoverende volhoubaarheidsprojekte in die Suid-Afrikaanse wingerd- en wynsektor. Verskeie plaaslike rolspelers en inisiatiewe is ook te siene.

Deur ClimaVin werk die US saam met KU Leuven, die Universiteit van die Wes-Kaap, Suid-Afrika se Nasionale Navorsingstigting, die Chinese Akademie vir Wetenskap, die Belgiese Kantoor vir Beleid oor die Wetenskappe, en die Ministerie van Wetenskap en Tegnologie van China.

‘n Werkswinkel oor die onderwerp is onlangs by STIAS op Stellenbosch aangebied. Dr. Erna Blancquaert van die US Departement van Wingerd- en Wynkunde het onder meer voorlopige terugvoer gegee oor studies wat plaaslik gedoen word in wingerde waarin koel-klimaat Chardonnay en Pinot Noir groei.

Dr. Blancquaert lei die ClimaVin-projek in Suid-Afrika, as inisiatief van die Suid-Afrikaanse Navorsingsinstituut vir Druiwe en Wyn (SAGWRI) by die US.

Ander Suid-Afrikaanse navorsers betrokke is mikrobioloë prof. Evodia Setati, ook van die US Departement Wingerd- en Wynkunde, en dr. Arina Hitzeroth van die Universiteit van die Wes-Kaap.

“Die werkswinkel het ons nuwe nagraadse student die kans gegee om ander mense betrokke in die projek te ontmoet, en te sien hoedat hul eie projekte binne die konsortium inpas. Ons uitstappies na Bosman Hermanus en Creation Wines in die Hemel-en-Aardevallei het bygedra tot ‘n beter verstaan van hoe wyne wat spesifiek is tot ‘n sekere terroir in koeler klimaatstreke gemaak word,” het dr. Blancquaert na afloop van die werkswinkel op Creation se Facebook-blad gesê.

Daaroor het US-kollega prof. Evodia Setati bygevoeg: "Dit het my kennis uitgebrei oor wat die werklike uitdagings vir plase is, die moontlike impak wat onlangse hittegolwe gehad het, en hoe ons ClimaVin-projek insigte kan help genereer oor die impak wat klimaatsverandering op druiwe- en wynproduksie het.”