Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Tucker gebruik rekenaarwetenskap om gemarginaliseerde gemeenskappe te bemagtig
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 12/05/2022

​Prof Bill Tucker van die Afdeling Rekenaarwetenskap in die Departement Wiskundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het onlangs sy intreerede gelewer met die titel “Walking forward together, sonke siya phambili, saam vorentoe". Tucker het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor sy pogings om gemarginaliseerde gemeenskappe te bemagtig.

Vertel ons meer van jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het?

Die navorsing wat ons doen, streef die ineenskakeling van die beginsels van die dissiplines rekenaarwetenskap en gemeenskapsimpak (CASI) na om gemarginaliseerde en kwesbare gemeenskappe in Suid-Afrika te bemagtig. Mense sal dalk verras wees waar die meeste van die innovasie vandaan kom: hierdie gemeenskappe!

Ek het in hierdie veld begin werk kort nadat ek uit die VSA Kaapstad toe getrek het en ʼn PhD-student aan die Universiteit van Kaapstad was terwyl ek vir die Departement Rekenaarwetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland gewerk het. Dit was rondom 2001 en ek veronderstel dit het begin met die besef dat die destydse voorpunttegnologie van kitsboodskappe en internetoproepe gebruik kon word om kommunikasiekostes van arm gemeenskappe drasties te verlaag. En 20 jaar later kan dit steeds! Dis net dat talle van ons dink dat wat ons normaalweg as “toeganklikheid" beskou, nie genoeg is nie. 

Die digitale gaping het nie soos met ʼn towerslag met gevorderde inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT) verdwyn nie. Dit is trouens groter! Groot dele van ons samelewing word omring deur “toeganklikheid" wat hulle doodeenvoudig nie kan bekostig nie. En selfs al is dit beskikbaar en danksy spaarsamigheid selfs bekostigbaar, is daar ook ander kwessies soos of mense enigsins bewus is van wat hulle met IKT kan doen? Beskik hulle oor die digitale geletterdheid en vermoë om IKT as ʼn instrument te gebruik?

En vir my is die deurslaggewende faktor mense se individuele vermoë of mag om hul lot te verander – verwesenlik mense dié vermoë? Die hoofuitdaging vir ons is dus om IKT as hefboom te gebruik om mense te help om daardie vermoë te verwesenlik en dalk net hul eie digitale instrumente te bou.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Die kruks vir my is dat die tegnologie, die IKT, die maklike deel is vir ons – die bleeksiele – om te lewer. Of dit gebruik word of nie, of selfs hoe dit gebruik word, is ʼn ander storie.

Een van die hoekstene van my werk is uitgebreide interaksie met gemeenskappe. Die sosiale impakprojekte Zenzeleni én SignSupport het dansky volgehoue interaksie oor bykans 20 jaar parallel ontwikkel. Die relevansie (nie net vir rekenaarwetenskaplikes nie) is om voorbeelde te verskaf van hoe hierdie soort werk gedoen kan word; dat ons beter kan raak met die gesamentlike produksie van gemeenskapsgegenereerde IKT wat mense help om gemeenskapsbehoeftes te help oplos. Dis ʼn Afrika-interpretasie van mensgesentreerde rekenaarkunde: dis gemeenskapgesentreerd. En weer eens: dis nie noodwendig tot rekenaarwetenskap beperk nie. 

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Dit gaan vir my alles oor die bou van verhoudinge. Ek hou daarvan om met verskillende tipes gemeenskappe te werk omdat ek mettertyd ʼn erelid word. Ek voel dieselfde oor kollegas by verskillende universiteite en dissiplines, studente, vennote en belanghebbers, selfs befondsers. Ek hou daarvan om deel van iets groters te wees.

Ek hou ook daarvan om te leer wat dit beteken om van Afrika te wees. Een van my studente het dit beter as ek gestel: dat ons almal ons genetiese wortels na hierdie deel van Afrika kan naspeur en dat kleinlike bekgevegte oor hierdie of daardie ras, kultuur, taal, etnisiteit, ensovoorts dus sinneloos is. Ons moet uitwerk hoe om saam vorentoe te beweeg; en innoverende IKT kan help ons om ons voornemens en vermoëns te versterk.

Die pandemie het die manier waarop ons werk en leef verander. Wat hou jou gemotiveerd in hierdie tye?  

Menslike kontak! Ek doen baie buitemuurse aktiwiteite, waar dit Covid-gewys redelik veilig is om saam met ander te wees. Ek probeer soveel moontlik dinge buite doen, veral om in die heuwels te gaan stap.

Vertel ons van ʼn opwindende aspek van jouself wat min mense sal verwag?

Ek is ten eerste ʼn rotsklimmer. Ek het my Suid-Afrikaanse vrou bykans 30 jaar gelede ontmoet toe ons rots geklim het. Dit is wie ons is en wat ons doen. Ons hou ook van surf en bergfietsry. Die Wes-Kaap is ons speelgrond! Werk hard, speel nog harder!

Hoe bring jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing deur?

Saam met vriende en familie. Ek doen my bes om grense te stel en vroeg genoeg op te hou werk om tyd te hê om te kook, kitaar te speel, wetenskapsfiksie saam met my vrou en kind te kyk of sommer net te lees. Ek werk nie oor naweke nie. Ek is te besig om iewers rots te klim, te surf, fiets te ry of te stap.

Ek moet oefen om genoeg te slaap, sodat ek genoeg energie het om aan lesings en navorsing te wy; en dan leer om dít beter as hefboom te gebruik om ʼn maatskaplike impak te maak. Danksy die boek wat ek nou lees, Matthew Walker se Why we Sleep, begin ek insien dat meer slaap beter lesings, beter navorsing en ʼn beter maatskaplike impak beteken. Ek is goed met beste pogings!