Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​Prof Rufus Gouws wen Jan H Marais-prys vir uitstaande bydrae tot Afrikaans
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Amber Viviers)
Gepubliseer: 12/05/2022

'n Akademikus van die Universiteit Stellenbosch (US), Prof Rufus Gouws, is vanjaar se ontvanger van die Jan H Marais-prys vir sy uitstaande bydrae tot Afrikaans as 'n akademiese taal. Gouws word algemeen as een van Suid-Afrika se voorste leksikograwe beskou met 'n loopbaan wat oor 45 jaar strek. ​

Die US, Het Jan Marais Nationale Fonds en Naspers het die jaarlikse Jan H Marais-prys in 2015 bekendgestel. Die prysgeld van R750 000 word op Vrydag, 3 Junie 2022 by 'n geleentheid op Stellenbosch oorhandig.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het in reaksie op die aankondiging gesê Gouws verdien dit om vanjaar se toekenning te ontvang. “Gouws is sedert hy in 1980 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit het, 'n gewaardeerde akademikus by sy alma mater, veral op die gebied van leksikografie. Hy het as redakteur, studieleier en navorser 'n groot bydrae tot die Universiteit se visie gelewer om meer navorsingsintensief te word."

Gouws het 'n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands aan die US behaal. Nadat hy in 1977 sy akademiese loopbaan by Unisa begin het, het hy hom in 1980 by die Departement Afrikaans en Nederlands op Stellenbosch aangesluit, waar hy in 1999 tot professor bevorder is.

Gouws het met groot sukses leksikografie as 'n kernnavorsingskomponent van die Departement gevestig. Hy was oor die jare studieleier vir 36 studente op meestersvlak en 24 studente op doktorale vlak. Die Nasionale Navorsingstigting het hom ook as 'n B2-navorsers gegradeer en hy geniet aansienlike internasionale erkenning vir die hoë gehalte en impak van sy navorsingsuitsette.

Danksy sy werk as 'n dosent en navorser in leksikografie is die US die enigste universiteit buite Europa wat 'n volle konsortiumlid is van die European Master in Lexicography (EMLex).

“Ek voel geëerd om die prys te ontvang en is dankbaar vir diegene wat my bydrae tot Afrikaans waardeer," het hy gesê. “Maar wat belangriker is, is dat dit nie gaan oor wie die prys ontvang nie, maar dat die prys bestaan. Afrikaans is 'n gesofistikeerde kommunikasie-instrument wat onderhou, uitgebou en verbeter moet word, en hierdie toekenning gee erkenning aan die belangrikheid van hierdie ontwikkeling," het Gouws gesê.

Hy het ook sy kollegas in die departement en elders in die land en die wêreld bedank. “Dankie veral aan my vrou, Ilse. Sy was verantwoordelik vir die dade terwyl ek besig was met die woorde," het hy gesê.

Die prys is na Johannes (Jannie) Marais (1860–1945) vernoem, 'n visionêr wat tot die vestiging van die US, Het Jan Marais Nationale Fonds en Naspers bygedra het. Marais was van Stellenbosch afkomstig en was 'n vurige ondersteuner van Afrikaans as 'n akademiese en literêre taal.

Die prys vir 'n uitstaande bydrae tot akademiese Afrikaans word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bestuur. Vanjaar het die keuringskomitee van vooraanstaande akademici bestaan uit prof Albert Grundlingh (professor emeritus in geskiedenis aan die US), prof Debra Meyer (dekaan van die Fakulteite Natuurwetenskappe aan die Universiteit van Johannesburg (UJ)), prof Ena Jansen (voormalige professor van Suid-Afrikaanse literatuur aan die Universiteit van Amsterdam), prof Ian Dubery (professor in biochemie aan die UJ) and dr Johan van Zyl (voormalige visekanselier en prinsipaal van die Universiteit van Pretoria).

Vorige wenners van die Jan H Marais-prys sluit in teoretikus prof Ina Wolfaardt-Gräbe (2021), literêre vakkundige en digter Prof Hennie van Coller (ook 2021), regsgeleerde prof Jean Christoph Sonnekus (2020), historikus prof Fransjohan Pretorius (2019), taalkundige prof Christo van Rensburg (2018), regsgeleerde prof Marinus Wiechers (2018), taalhistorikus en skrywer prof Jaap Steyn (2017), teoloog prof Jan van der Watt (2017) en historikus prof Hermann Giliomee (2016).