Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Karlien Breedt
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 11/05/2022

As hoof van die Universiteit Stellenbosch (US) Argief in die verantwoordelikheidsentrum van die Registrateur, dien Karlien Breedt as hekwagter van ons institusionele geheue. Haar passie vir haar werk – van die hantering van dokumente van so ver terug as 1864, tot die implementering van innoverende projekte om sowel historiese as nuwe inligting toeganklik te maak – kom al van jongs af toe sy biblioteke en argiewe plaaslik en oorsee besoek het.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Lees gerus ons onderhoud met Karlien hieronder.

Wat behels jou rol by die US?

As hoof van die US Argief, is ek daarvoor verantwoordelik om unieke en primêre bronne oor die Universiteit en sy voorgangers, Stellenbosch Gimnasium, Stellenbosch Kollege en Victoria Kollege, te versamel. Ons help die Universiteit sy institusionele geheue bewaar, en dien ook as 'n opvoedkundige en navorsingsfasiliteit.

Die oudste dokument in die US Argief kom uit 1864 en is die eerste van 'n byna aaneenlopende reeks dokumente en notules wat die US se geskiedenis weerspieël.

Om 'n deurlopende dokumentêre geskiedenis van ons instelling te verseker, voorsien ons ook rekordbestuursdienste aan die Universiteit. Dít behels die identifisering en bestuur van rekords wat daagliks geskep word en van historiese en navorsingswaarde kan wees.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

'n Tipiese dag in die Argief? Ek dink nie daar bestaan so iets nie, maar die meeste dae behels die lees van e-posse, die hantering van inligtingsversoeke, en werk aan een of meer van verskeie voortgesette projekte. Daaglikse inspeksie van die argiefstore is 'n moet om plae en muf te voorkom, en om te sorg dat die nodige klimaatsbeheer behoorlik werk. Wat versoeke betref, is dit baie soos Forrest Gump se boks sjokolade ... jy weet nooit wat jy kry nie. Dit wissel van eenvoudige feitekontroles tot dieptenavorsing oor enigiets van Raadsbesluite tot dokumentêre bewyse vir hangende hofsake.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?

Toe ek 'n kind was, het ons nogal baie nasionaal en internasionaal gereis vir my pa se navorsing oor die Franse Hugenote. Dit het ook besoeke aan etlike argiewe en biblioteke sowel as soektogte na stukke inligting behels. Ek het nie destyds juis gedink dis die opwindendste tydverdryf nie, maar die handgeskrewe dokumente, boeke en die geskiedenis van mense en plekke het my altyd geboei. Voordat ek in 2011 die pos as argivaris by die US aanvaar het, was ek die bibliotekaresse by die ARC Infruitec-Nietvoorbij Navorsingsinstituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn. Daardie fasiliteit is nou wel 'n gespesialiseerde landbounavorsingsbiblioteek, maar die tipe werk wat ek daar gedoen het, was baie soortgelyk aan wat ek nou doen.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Dit verskaf my groot plesier dat ek met eeu oue dokumente én nuwe tegnologie kan werk om historiese en pas geskepte inligting toeganklik te maak. En dis ook opwindend om onverwags op historiese inligting af te kom wat niemand geweet het bestaan nie, want jy weet nooit of dit dalk die ontbrekende stuk van 'n inligtingslegkaart is nie.

​Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag?

Om die agterpaaie van Suid-Afrika te verken is een van my grootste vreugdes, maar met die onlangse styging in die petrolprys is dít ongelukkig nou 'n luukse. Ek het ook 'n baie lang emmerskoplys van plekke wat ek nog graag binne én buite ons land wil besoek.


Fotograaf: Stefan Els