Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Dag in die lewe van: Shibu Mamabolo
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 10/05/2022

Om toe te sien dat personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) toegang het tot 'n wye verskeidenheid steunstrukture en -programme is die verantwoordelikheid van Shibu Mamabolo, hoof van Werknemerwelwees in die Afdeling Menslike Hulpbronne.

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Hieronder vertel Shibu ons meer oor haar werk by die US.

Wat behels jou rol by die US?

As hoof van Werknemerwelwees, konsentreer ek op die bestuur van personeelsteun, wat wissel van die ontwerp van personeelwelstandstrategieë tot die implementering van proaktiewe en voorkomingsaktiwiteite (werksessies/opleiding) op grond van tendense in die Werknemerbystandsprogram. Ek skakel ook met diensverskaffers om gespesialiseerde steunprogramme vir ons personeel saam te stel. Daarbenewens sluit my werk in om te sorg dat ons oor die nodige beleids- en riglyndokumente oor welstandsprogramme beskik, sowel as die gehalteversekering en monitering van ons programme.

Ek is boonop 'n aktiewe lid van die Wes-Kaapse afdeling van die Vereniging van Werknemerbystandsberoepslui, en skakel dus voortdurend met nasionale rolspelers wat werknemerbystandsdienste voorsien.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Dit wissel van dag tot dag – van dringende oproepe wat aandag verg, soos trauma en ontlonting, tot opvolggesprekke met diensverskaffers oor welstandsverwante dienste. Ander dae begin dalk met werksessies of opleiding, vergaderings met my lynbestuurder en kollegas, of die bywoning van die vergaderings van ons institusionele komitee oor personeelwelstand of welstandsforums, waar ons intervensies beplan en tendense ontleed.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei? 

Ek het in verskillende professionele hoedanighede in die staatsdiens gewerk, onder meer as maatskaplike werker in die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, werknemerbystandspraktisyn in die Departement van Onderwys, en assistentdirekteur van Werknemerwelwees in die Departement Gemeenskapsveiligheid en Vervoer. Dít het my in staat gestel om die vereiste vaardighede aan te leer en te bou, soos probleemoplossing, kommunikasie, strategiese beplanning en projekbestuur.

Vorige ervaring het my ook veerkragtigheid en deursettingsvermoë geleer, en my toegerus om met belanghebbendes saam te werk om beperkte hulpbronne te deel sodat ons verandering in gemeenskappe of instellings kan teweegbring.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet dit om terugvoer te ontvang oor hoe ons Werknemerwelweesprogram personeel en omgewings raak, want dit lei tot leer en die verbetering van ons diensaanbod. Ek geniet ook die vryheid en kreatiwiteit wat die US bied, sowel as om toegang te hê tot personeellede se kennis en wysheid, en om aan ander hoëronderwysinstellings blootgestel te word.

Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag?

Ek is 'n empatiese persoon wat ander in ag neem en entoesiasties is oor my werk. 

​Fotograaf: Stefan Els