Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Klimaatsoplossings: ʼn Balans tussen sosio-ekonomiese ontwikkeling en volhoubare gebruik van omgewingshulpbronne
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 09/05/2022

Oplossings om die nadelige gevolge van klimaatsverandering teen te werk moet 'n balans vind tussen die behoefte aan sosio-ekonomiese ontwikkeling en die volhoubare gebruik van ons omgewingshulpbronne, terwyl dit ook op klimaatsverandering reageer.

Só meen prof Guy Midgley, uitgelese professor in die Departement Plant- en Dierkunde en waarnemende direkteur van die Skool vir Klimaatstudie en die Sentrum vir Indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het onlangs die eerste aanlyn Stellenbosch Forum-lesing* van 2022 gelewer. Die oorkoepelende tema van vanjaar se Stellenbosch Forum-reeks is “Veranderende Klimate". Die doel is om die invloede van veranderende omgewings wat met natuurlike hulpbronne, gesondheid, onderwys, geskiedenis en ekonomieë verband hou, te beklemtoon. Dit poog ook om te wys hoe invloedryk navorsing kan wees om moontlike oplossings in hierdie vinnigveranderende omgewings te vind.

Midgley het in sy aanbieding gesê die jongste wetenskaplike data van die Verenigde Nasies se Interregeringspaneel oor Klimaatsverandering (IPCC) dui die rigting aan na die oorgange en oplossings wat nodige is om vrystellings laag en die globale temperatuur onder 2, verkieslik op 1,5 grade Celsius, te hou.

“Die oorgange en die veranderinge wat nodig is, word in die jongste IPCC-verslae onthul en is werklik van die uitdagendste wat die moderne samelewing nog ooit beleef het.

“Ons beskik oor die wetenskap om baie daarvan te verstaan, maar die vraag is, hoe kom ons by hierdie oplossings uit? Het ons die politieke wil? Het ons die ekonomiese wil en die vermoë om te verstaan hoe ons huidige ekonomiese stelsel werk ten einde een of ander tipe volhoubare toekoms te bereik waar meer mense voordeel daaruit kan kry?"

Volgens Midgley is daar op globale vlak 'n stel oplossings rondom energieverskaffing, vervoer en land- en nywerheidsvrystellings. Hy voeg egter by dat daar geen magiese kitsoplossing is nie en dat hierdie oplossings in samewerking met mekaar toegepas moet word.

Ter illustrasie het Midgley die “En-Roads" Klimaatsoplossingnabootser gebruik om te toon hoe 'n kombinasie van kruissektoroplossings ons kan help om vrystellings te verminder en die temperatuur laag te hou. Hierdie instrument is deur die Klimaatinteraksiegroep by die Massachusetts-instituut vir Tegnologie ontwikkel om beleidsmakers, opvoeders, die handel, die media en die publiek te help om kruissektor-klimaatsoplossings te toets en te verken.

Volgens Midgley toon die simulator “byvoorbeeld dat om net met steenkool per se te werk, nie jou kitsoplossing is nie. Bebossing en ontbossing help nie vreeslik nie. Ons het ook 'n toename in die doeltreffendheid van landbou, 'n goeie ekonomiese beleid oor koolstofpryse en die inwerkingstelling van hoëtegnologie-oplossings nodig.

“Ons moet ook die fokus na die aanvraag-kant verskuif. Indien ons ons vervoerstelsel sou elektrifiseer en moderniseer en ons stede se energiedoeltreffendheid sou verhoog, sal ons werklik 'n inbreuk maak. 'n Groot deel van ons oplossing lê in die elektrifisering van ons stelsels.

“Nou praat ons werklik van 'n nuwe wêreld waar ons talle hernubares, baie ekonomiese groei, sommige hoëtegnologie-oplossings het, ons stede is skoon, ons het ons vervoerstelsel geëlektrifiseer." 

Volgens Midgley is ons pogings om die invloed van klimaatsverandering teen te werk en om vrystellings te verminder 'n kompromis vir die behoefte om aan te pas.

“Hoe meer ons daarin belê om vrystellings te verminder of om dit te vermy, hoe minder gaan ons aanpas. Hoe meer ons vrystel, hoe meer sal ons moet aanpas. En dít is die werklike kern van die onderhandelings – hoe kan ons hierdie optimale balans vind tussen belegging in versagting en die vermydende behoefte om in aanpassing te belê?"

Midgley het gesê die besluite wat ons oor die loop van die volgende dekade of meer gaan neem, sal bepaal waar ons teen die einde van die eeu gaan eindig.

“Die wêreld is aan die verander, die atmosfeer het verander, die klimaat het verander. Die potensiaal vir nadelige invloede op die menslike samelewing is vinnig aan die toeneem."

*Die Stellenbosch Forum-reeks het in 1990 begin en is daarop gemik om aan personeel en studente van die Universiteit Stellenbosch (US), asook lede van die publiek, die geleentheid te gee om meer te wete te kom oor die toepaslike en impakvolle navorsing wat by die US gedoen word. Navorsers word versoek om hul akademiese navorsingsonderwerpe op só 'n manier aan te bied dat nie-kundiges op die vakgebied dit kan verstaan. Daarom bied hierdie lesings die ideale geleentheid vir kritiese debat en interessante besprekings regoor dissiplinêre grense.