Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontleding van wêreldranglyste vir universiteite is komplekse en ingewikkelde proses – Prof Hester Klopper
Outeur: Hester Klopper
Gepubliseer: 06/05/2022

Oor die afgelope sowat twee dekades het wêreldranglyste vir universiteite die akademiese bedingingsmiddel van ons tyd geword. Terwyl die publiek dikwels hierdie genommerde posisies sonder meer aanvaar, steek daar baie meer agter die metodologieë, invloed en waarde van hierdie ranglyste. Só skryf prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (4 Mei 2022).

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Hester Klopper

Met die vrystelling van beide die QS-wêreldranglys vir universiteite volgens vak 2022 en die 2022-23-uitgawe van die Globale 2000-lys deur die Sentrum vir Wêrelduniversteitsranglyste (CWUR) geniet universiteite regoor die wêreld tans weer baie media-aandag oor hul plek op die ranglyste. Indien hulle beter gevaar het as in vorige jare, word dit die bemarkingsveldtog vir die volgende maand; indien nie, neem hulle stil-stil kennis daarvan. Die president van een van die Ivy League-universiteite het 'n paar jaar gelede soos volg opgemerk: “Ons gee nie veel om oor ranglyste nie, maar ons is so bly ons is in die top vyf wêreldwyd."

Die media en die publiek se reaksie is dieselfde wanneer hierdie ranglyste bekendgemaak word. Daar is dan volop vrae oor waarom sommige geklim het, ander hul posisie behou het en 'n paar teruggesak het. Ranglyste het wêreldwyd vir veral voornemende studente, asook ouers, medewerkers en moontlike donateurs 'n belangrike aanwyser geword van 'n instelling se gehalte van navorsing en leer en onderrig.

In 'n nuwe boek, Research Handbook on University Rankings: Theory, Methodology, Influence and Impact, wat verlede jaar vrygestel is, verskaf die skrywers 'n omvattende oorsig en ontleding van die invloed van wêreldranglyste vir universiteite sedert dit in 2003 begin het. Die skrywers, Ellen Hazelkorn en Georgiana Mihut, definieer universiteitsranglyste in 'n artikel wat in Januarie 2022 in University World News (UWN) verskyn het, as iets wat “die tydsgees van die versnelling van globalisering en die wêreldwye stryd om talent en toenemende beleids- en openbare fokus op prestasie, gehalte en verantwoordbaarheid" vasvang. 

Ons visie by die Universiteit Stellenbosch (US) is om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees, en daarom maak die Afrika-konteks ontsaglik baie saak. Universiteite in Afrika se sosiale, ekonomiese en politieke kontekste verskil hemelsbreed van dié van universiteite in hoë-inkomste-lande. Ons het dit veral gedurende die Covid-19-pandemie gesien toe die digitale kloof baie duidelik geword het, met baie Afrika-universiteite wat gesukkel het om ten volle na aanlyn onderrig oor te skakel weens 'n gebrek aan infrastruktuur vir konnektiwiteit.

Afrika-universiteit beleef ook 'n afname in befondsing deur plaaslike en internasionale befondsers, terwyl hulle terselfdertyd ook grootskaalse agente van verandering in plaaslike gemeenskappe moet wees. Dit word 'n uitdaging om onder sulke omstandighede onderrig en leer van 'n hoë gehalte én navorsing wat wêreldwyd kan meeding, te lewer. 

Ranglys-agentskappe is bewus hiervan en die Times Higher Education (THE) se BRICS-ranglys is daarop gemik om die ongelyksoortigheid in wêreld-universiteite se konteks aan te spreek. Die feit dat Afrika-universiteite hoegenaamd nog hul verskyning op internasionale ranglyste maak, is geen geringe prestasie nie. Dit verdien erkenning, veral wanneer 'n mens na die speelveld kyk.

Hoewel Google sal sê daar is meer as 25 000 universiteite wêreldwyd, is dit gemiddeld net sowat 1 500 universiteite wat aan 'n spesifieke ranglys deelneem of daarby ingesluit word. Nuwe instellings sluit voortdurend by hierdie ranglyste aan, wat jou posisie beïnvloed. So mag 'n instelling dalk op 'n ranglys afskuif – nie omdat dit slegter gevaar het nie, maar omdat 'n “beter" instelling in 'n spesifieke jaar deelgeneem het of ingesluit is.

'n Mens moet dus eerder na universiteite se prestasie oor 'n aantal jare, en nie net in 'n spesifieke jaar nie, asook na hul prestasie op verskillende ranglyste kyk om 'n idee te kry van die instelling se algehele stand in die wêreld. Uit hierdie oogpunt was die US die afgelope paar jaar redelik stabiel op verskeie ranglyste.

Wêreldranglyste vir universiteite is maar 'n ingewikkelde saak wat deur verskeie faktore en kontekste beïnvloed word indien 'n mens tot 'n realistiese gevolgtrekking oor die gehalte van 'n spesifieke universiteit se stand binne hoër onderwys wêreldwyd wil kom.

Maar ondanks die ingewikkeldhede en sienings oor ranglyste, sal hulle deel van die akademiese geldeenheid van ons tyd bly en sal voornemende studente en vennote dit in die toekoms al hoe meer gebruik om 'n instelling se gehalte en geloofwaardigheid te bepaal.

Ons moet as universiteite, veral in Afrika, voortgaan om groter openbare begrip te bepleit vir die betekenis van hierdie ranglyste, watter uitwerking hulle het, hoe hulle openbare sienings oor ons instellings kan omkeer en hoe hulle ons universiteite binne die wêreld se kennisekonomie posisioneer.

  • Klik hier om die volledige artikel, soos geplaas, te lees.

*Prof Hester Klopper is Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake by die Universiteit Stellenbosch (Suid-Afrika).