Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-studie werp lig op behandeling van hiperkalemie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 03/05/2022

Mediese spesialiste benodig dringend meer kennis oor die behandeling en bestuur van hiperkalemie (te veel potassium in die bloed), wat tot respiratoriese spier-swakheid en moontlik 'n noodlottige versteuring van die hartritme kan lei.

Dít is volgens 'n nuwe studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“Ons het bevind daar bestaan baie min inligting oor die kennis- en praktykpatrone van mediese spesialiste ten opsigte van die noodbestuur van hiperkalemie. Daar is ook nie eenstemmigheid oor die beste manier om dit te bestuur nie, wat 'n wye verskeidenheid praktyke en leiding verskaf deur junior personeel tot gevolg kan hê," sê dr Yazied Chothia, senior dosent en nefroloog by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Hy het die navorsing saam met twee kollegas, prof Usuf Chikte (Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid in die Departement Globale Gesondheid) en dr Razeen Davids (Afdeling Nefrologie in die Departement Geneeskunde), onderneem.

Hulle het die eerste omvattende opname onder Suid-Afrikaanse spesialiste in nefrologie (nierkunde), interne geneeskunde, noodgeneeskunde en kritieke sorg gedoen om hul kennis oor die diagnose en bestuur van hiperkalemie met die fokus op insuliengebaseerde behandeling te evalueer. Insuliengebaseerde behandeling is die farmakologiese voorkeurbehandeling vir hiperkalemie dekstrose ('n tipe suiker) word gewoonlik saam met die insulien toegedien om bloedsuikertekort (hipoglukemie) te voorkom.

“Ons doel was om kennisgapings te identifiseer en om rigting te gee aan die ontwikkeling van leerhulpbronne wat as gids sal dien vir die optimale bestuur van hierdie lewensgevaarlike toestand."

​Die bevindinge van hul studie het onlangs in die African Journal of Nephrology verskyn.

Volgens die navorsers bestaan daar verskeie aanbevelings oor die dosering, opeenvolging en koers van toediening van insulien en dekstrose om hiperkalemie te behandel.

Hulle het belangrike tekortkominge ten opsigte van die kennis en bestuur van hiperkalemie by mediese spesialiste geïdentifiseer.

“Dit sluit in tentvormige T-golwe as die algemeenste elektrokardiogram- (EKG-) verandering (verandering in hartritme) om as sneller vir behandeling te dien, die tyd wat dit vir die potassium-konsentraat ná die toediening van insulien neem om sy laagtepunt te bereik, of die potassium-konsentraat na sy vóórverskuiwingswaarde sal terugkeer en wanneer dit veronderstel was om te gebeur, die definiëring van weerstandige hiperkalemie en die verwagting en waarneming van hipoglisemie ná insuliengebaseerde behandeling.

“Tweederdes van die respondente het gereeld 'n EKG uitgevoer voordat hulle besluit het oor óf 'n pasiënt behandeling vir hiperkalemie benodig, met meer nie-nefroloë wat 'n EKG uitgevoer het. Sowat 'n driekwart van die respondente het gedink daar is 'n swak korrelasie tussen potassium en die teenwoordigheid van EKG-veranderings."

Die navorsers voeg by dat nefroloë geneig is om behandeling te begin by 'n hoër vlak van serum potassium/potassium in die bloed (6,0–6,5 millimol per liter (mmol/L) – wat deur baie as matige tot ernstige hiperkalemie gedefinieer word.

“Ons vermoed dit is weens die hoë voorkoms van pasiënte met ernstige hiperkalemie wat hulle teëkom.

“Ten opsigte van farmakologiese behandeling het al die respondente aangedui dat hulle insulien-en-dekstrose-behandeling as die doeltreffendste en betroubaarste metode beskou om potassium na selle te verskuif. Dit is nie 'n verrassing nie, aangesien die meeste deskundiges insuliengebaseerde behandeling as die hoeksteen van behandeling beskou."

Volgens navorsers het minder as die helfte van die respondente geweet dat serum potassium sy laagtepunt 60 minute ná die toediening van insulien bereik en minder as tweederdes het aangedui hulle verwag dat die potassiumwaarde na sy waarde vóór die fluktuasie sal terugkeer. Slegs 'n derde het verwag dat dit binne 4–6 uur ná die insulienbehandeling sou gebeur.

“Wat kommerwekkend is, is respondente se lae verwagting van hipoglisemie, met slegs 14% wat verwag het dat hipoglisemie tussen 2–3 uur ná die toediening van insulien sou voorkom en 22% het aangedui hipoglisemie kom selde voor wanneer dekstrose ook toegedien word. Slegs 30% gaan elke twee uur die glukosekonsentrasie in die bloed na en slegs 22% elke drie ure."

Aanbevelings

Op grond van die kennisgapings wat hulle geïdentifiseer het, doen die navorsers 'n paar aanbevelings wat mediese spesialiste in die behandeling en bestuur van hiperkalemie kan help.

Hulle sê mediese spesialiste moet met behandeling begin wanneer potassiumvlakke hoër of gelykstaande is aan 6 mmol/L of wanneer hulle enige graad van hiperkalemie raaksien wat deur simptome of veranderinge in EKG-lesings gepaardgaan.

“Alle pasiënte moet 'n EKG ondergaan. Kalsiumsoute moet slegs toegedien word indien daar EKG-veranderings is. Kalsiumsoute word gebruik om die hart teen die gevaarlike uitwerking van hiperkalemie te beskerm.

“Kortwerkende insulien moet binneaars as 'n bolus van tien eenhede toegedien word. Laer dosisse (vyf eenhede) moet vir pasiënte met chroniese niersiekte en nierversaking oorweeg word.

“Pasiënte moet vir simptome van hipoglisemie gemonitor word en serum glukosekonsentrasies moet uurliks vir drie tot ses ure gemeet word, gevolg deur insuliengebaseerde behandeling. Die potassiumkonsentrasie moet een uur ná die insuliengebaseerde behandeling gemeet word, aangesien dit is wanneer die laagtepunt verwag word."

Die navorsers sê hul studie beklemtoon die behoefte daaraan dat kennisgapings, veral ten opsigte van die optimale en veilige gebruik van insulien-gebaseerde terapieë, aangespreek moet word. “Ons bevindings en aanbevelings behoort nuttig te wees in die ontwikkeling van konsensus-riglyne en opvoedkundige hulpbronne oor hiperkalemie."

  • Bron: Chothia M-Y, Chikte U, & Davids MR 2022. Knowledge of medical specialists on the emergency management of hyperkalaemia with a focus on insulin-based therapy. African Journal of Nephrology. Volume 25, No 1, 2022, 14-25: DOI: https://doi.org/10.21804/25-1-5002