Die regering het in April die einde van die ramptoestand in Suid-Afrika aangekondig wat die afgelope twee jaar van krag was om die Covid-19-pandemie te hanteer. Die aankondiging beteken nie net dat baie van die pandemiebeperkings opgehef word nie; dit het ook die personeellede én studente van die Universiteit Stellenbosch (US) met nuwe energie vervul om aan kampusaktiwiteite deel te neem.
Die US beskou homself as 'n residensiële universiteit, en daarom is ons ingenome dat alle personeel en studente na ons kampusse kon terugkeer. Ons studente is duidelik dankbaar om weer op kampus te kan wees, en woon nie net getrou kontakklasse by nie, maar skakel ook geesdriftig in by die verskeie kampusaktiwiteite wat hervat het – van sport tot die verenigingslewe.
Daarbenewens het ons die afgelope paar maande weer internasionale studente verwelkom wat gretig was om Stellenbosch te kom ervaar. As 'n universiteit wat voortdurend sy wêreldwye voetspoor uitbrei en studente graag 'n transformerende ervaring wil bied, is ons dankbaar daarvoor dat ons studente van oor die hele wêreld 'n globale opvoeding kan gee waarby hulle intellektueel én as wêreldburgers baat.
Ook US-studente het weer die geleentheid om buitelands te reis en te gaan ervaar wat ons institusionele vennote elders ter wêreld bied. Hoewel virtuele uitruilgeleenthede gedurende die pandemie voortgeduur het en wél van waarde was, is ek seker ons is dit eens dat kontakbesoeke 'n ekstra dimensie aan 'n globale onderwyservaring verleen.
Ons kontakskakeling met ons wye netwerk internasionale vennote tel eweneens spoed op. Wanneer jy hierdie brief lees, is ek juis op besoek aan ons vennootuniversiteite in die Verenigde State en Europa om ons bande verder te versterk en nuwe geleenthede te verken.
Noudat die ergste van die pandemie hopelik verby is, is die US so toegewyd as ooit tot internasionalisering as 'n kern- strategiese prioriteit én 'n manier om ons wêreldwyd as 'n belangrike rolspeler in die hoër onderwys te posisioneer.
- Prof Hester C. Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake