Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ewige student en hiperveeltalige dosent verwerf derde PhD
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 03/05/2022
Dr Alexander (Alex) Andrason van die Universiteit Stellenbosch (US) het weer eens iets uitsonderliks vermag: Dié hiperveeltalige dosent wat 10 tale magtig is en globale swerwer wat al in agt Europese en Afrika-lande gewoon het, het onlangs ʼn derde PhD-graad by sy akademiese repertoire gevoeg.

Andrason het in Maart vanjaar trane in sy oë gehad toe die Universiteit van Ysland ʼn PhD in Algemene Linguistiek aan hom toegeken het. Hy het dieselfde gevoel van dankbaarheid ervaar as toe hy ʼn PhD in Semitiese Tale van die Complutense-universiteit in Madrid (2010) en een in Afrika-tale van die US (2016) ontvang het.

“Die drie PhD's is ʼn natuurlike erkenning van my unieke en onkonvensionele akademiese en lewensprofiel," het Andrason gesê. Hy is tans ʼn senior lektor in die Departement Antieke Studie van die Fakulteit vir Lettere en Sosiale Wetenskappe, waar hy Afro-Asiatiese tale onderrig, asook linguistiek (Hebreeus, Aramees en Egipties) en ander modules wat met veeltaligheid en akademiese skryfwerk verband hou.

Voor hy in 2012 by die US aangesluit het, het hy onder meer algemene en kognitief-linguistiese kursusse by verskeie universiteite in Asië (Turkye), Afrika (Marokko, Gambië en Tanzanië) en Europa (Ysland, Spanje, Pole, Serwië, Montenegro en Masedonië) onderrig.

Hy het 4 Maart, die dag toe hy sy PhD in Ysland geslaag het, as een van die mooiste dae van sy lewe beskryf. “Ek het my standpunte verdedig, kritiek waardeer, deurgaans geglimlag en selfs met tye gelag. Uiteindelik het die Universiteit Ysland se vlag vir my gehys en het ek trane in my oë gekry," het Andrason vertel.

PhD bly ʼn uitdaging

Om ʼn PhD te verwerf bly ʼn uitdaging wat nie maklik verwesenlik word nie, het hy benadruk. “Party mense dink die skryf van ʼn doktorale tesis is kinderspeletjies vir my. Dis van alle waarheid ontbloot. Die voltooiing van ʼn PhD is altyd ʼn uitdagende ervaring wat baie werk, tyd en selfdissipline verg en noodwendig deur oomblikke van positiewe en negatiewe gedagtes en gevoelens gekenmerk word."

Hy het homself as ʼn ewige skolier en multidissiplinêre akademikus en onderwyser beskryf, wat “weier om op te hou om ʼn student te wees en die wysheid van ander verwelkom deur by etlike nuwe universiteite te studeer".

Dis hoekom hy nooit genoeg van sy studies sal kry nie. “Ek sal aanhou studeer tot die dag van my dood. Ek beplan tans om vir ʼn PhD in antrosoölogie in te skryf en later vir een in onderwys," het Andrason gesê en verduidelik dat dit opwindend is om ʼn nuwe PhD-studie te begin omdat ʼn relatiewe nuwe studieveld betree word.

“Die lewe en realiteit in alle aspekte van diversiteit fassineer my; ek floreer daar waar vakrigtings en teorieë se paaie kruis: van biologie tot geskiedenis, van fisika tot sielkunde en van formele logika tot poësie. Ek is ook ʼn idealis wat veg vir die bewaring en hernuwing van etniese, kulturele en taalminderhede en die regte van almal wat deur magtige akteurs op ʼn globale, staats- en/of institusionele vlak gemarginaliseer, geïsoleer en tot die ander gereduseer word," het hy gesê.

Lektor en navorser

Volgens Andrason moet sy PhD-studies gelyklopend met sy onderrig- en ander navorsingsverpligtinge plaasvind, veral om sy onderrig en navorsing ʼn hupstoot te gee.

“Ek publiseer elke jaar tussen 10 en 15 artikels; onderrig tussen vyf en sewe kursusse/modules gedurende 150-180 lesingsure; bestuur tussen vyf en agt internasionale navorsingsprojekte; hou toesig oor nagraadse studente; en lei minstens een gemeenskapsbetrokkenheidsaktiwiteit. Dis regtig ʼn uitdaging om boonop ʼn oorspronklike navorsingsprogram vir ʼn PhD te ontwerp en voltooi en sowat 400 blaaie van ʼn monogram te skryf."

Uiteindelik is sy missie om die beste opleiding aan studente te bied. “As ʼn onderwyser wil jy hê studente moet die eienskappe ontwikkel en kweek wat mense behoort te hê, naamlik respek vir hulle eie en ander se vryheid en vryhede, die erkenning van die universele gelykheid van mense en hul onvervreembare outonomie, ʼn viering van kreatiwiteit en – dalk die belangrikste – die ontwikkeling van sorgsaamheid en deernis," het hy gesê.

“Ek fokus derhalwe in my klasse op selfbestuur, die gebruik van rede eerder as doktrine, nie-formaliteit, gelykheid van deelname en vryheid van keuse. Ek nooi die studente uit om mede-ontwerpers van die kurrikulum te wees, aan die produksie van kennis deel te neem en tot samewerkende leer en onderrig by te dra. Ek laat studente toe om hul nuuskierigheid en belangstellings na te jaag en vervang ʼn gedwonge onderwyser-studenthiërargie met oorreding. Ek is altyd oop vir ʼn uitdaging. Ek gee nie les nie, maar fasiliteer eerder die leerproses, moedig aan en Iok uit," het Andrason gesê.

Taalrepertoire

Een van die goed wat hom motiveer om ʼn nuwe taal aan te leer, veral die taal van sy studente, is om hulle toe te laat om by die kommunikasie- en leerproses in die klas ingesluit te wees.

Sy repertoire staan tans op 40 tale, waarvan hy in 10 net so of bykans net so bedrewe soos die inheemse sprekers is. “Ek gebruik die meeste van die tale gereeld dansky my internasionale navorsings- en onderrigaktiwiteite, soos gesamentlike navorsingsprojekte, veldwerk, klasse wat ek as ʼn gaslektor doseer, asook onderwysklasse," het Andrason gesê.

Wanneer hy na ʼn nuwe land reis, leer hy minstens die basiese elemente van die inwoners se taal. Dit is hoekom hy met Xhosa en Afrikaans vertroud is. “Ek probeer tale leer wat my US-studente (voor- en nagraads) praat. Voorts het ek basiese kennis van Oshiwambo, Sotho, Masai, Swahili, Lari, Koreaans, Japannees en Roemeens. Dis vir my baie belangrik dat die tale wat studente praat, nie leë simbole of oppervlakkige anekdotes sal wees nie."

Hy leer tans ook Oromo (ʼn taal van Ethiopië) en Sango (ʼn taal van die Sentraal-Afrikaanse Republiek). “Voor ek saans aan die slaap raak, lees ek ook ʼn handleiding in Indonesies en soggens blaai ek deur ʼn Tagalog-selfonderrighandboek (ʼn taal wat in die Filippyne gepraat word)."

Sy gunsteling-tydverdryf is om aan doktorsgrade te werk, artikels te skryf, samewerkende navorsing te doen, grammatikaboeke te lees en nuwe tale aan te leer.

As hy nie werk nie, bring Andrason tyd saam met sy gesin deur en doen “voortreflike" werk in die kombuis. "Ek kook elke dag 'n volle maaltyd vir my gesin, en hulle geniet dit terdeë!"

Foto: Sandra Mulder