Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gebruik nou Covid-kennis om MIV-entstofontwikkeling te bespoedig, sê SAMNR-hoof
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 01/05/2022

​Dekades se navorsing oor MIV-entstowwe het die grondslag vir die snelle ontwikkeling van 'n Covid-19-entstof gelê. Nou het die tyd aangebreek om die ontwikkeling van 'n MIV-entstof te bespoedig. So sê prof Glenda Gray, uitvoerende hoof en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) en medehoofnavorser van die transnasionale MIV-entstofproewenetwerk (HVTN).

Prof Gray was 'n spreker in 'n webinaar wat die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Politieke Wetenskap en die Japannese ambassade in Suid-Afrika gesamentlik in mid-Maart aangebied het. Sy het die hoop uitgespreek dat 'n omgekeerde proses nou sal plaasvind, naamlik dat Covid-entstowwe op hulle beurt die ontwikkeling van noodsaaklike MIV-entstowwe sal bespoedig. “Sonder ons vorige werk aan MIV-entstowwe, sou ons nooit ons bestaande platforms – die Ad26-entstofregimen sowel as mRNS – kon aanwend om die uiters doeltreffende Covid-entstowwe te ontwikkel nie," het sy gesê.

Die webinaar het klem gelê op sowel die mylpale as uitdagings in die reaksie op die MIV-epidemie, en die toekomstige implikasies vir wêreldwye openbare gesondheid. Boonop het dit bande tussen Suid-Afrikaanse navorsers en hulle eweknieë in Japan versterk.

Moet nooit hoop laat vaar nie

Prof Gray het gesels oor van die ontdekkings in MIV-entstofnavorsing in 2021, wat volgens haar 'n “beslissende jaar vir MIV-entstofontwikkeling" was. Oor waarom dit so moeilik is om 'n entstof vir die “40 jaar lange ongebreidelde MIV-pandemie" te kry, het sy klem gelê op die enorme genetiese diversiteit van MIV, wat enige ander bekende patogeen oortref. Nietemin het nuwe tegnologieë uit die Covid-ervaring – soos mRNS ('n entstof wat 'n kopie van 'n molekule genaamd boodskapper-RNS gebruik om 'n immuunreaksie te skep) – heelwat hoop geskep op die ontwikkeling van 'n neutraliserende MIV-entstof.

Data uit die onlangse AMP-studie (oor teenliggaampie-bemiddelde MIV-voorkoming) het die weg gebaan vir die voorsiening van hoëgraadse beskerming teen MIV-infeksie, en die tyd het nou aangebreek om “die publiek en finansiers bewus te maak van die behoefte aan 'n MIV-entstof", het prof Gray gesê. “Ons moet regimens wat algemeen neutraliserende teenliggaampies skep – teenliggaampies wat teen 'n wye verskeidenheid virusse kan baklei – by ons kliniese proewe insluit om momentum in die soeke na 'n entstof te behou."

Sy het bygevoeg dat kliniese terreine vir MIV-entstofnavorsing in Afrika aansienlik uitgebrei het. “Ons moet nooit die hoop laat vaar dat ons 'n MIV-entstof sal kry nie," het sy webinaardeelnemers bemoedig. “'n MIV-entstof sal die toppunt van wetenskaplike ontdekking wees, en ons moet aanhou streef na daardie ideaal. Dit sal die grootste medies wetenskaplike uitvinding tot nog toe wees."

Japannese navorsing belowend

Ook prof Yasuhiro Yasutomi, direkteur van die Laboratorium vir Immuunregulering en Entstofnavorsing in Japan, het 'n belangrike bydrae tot die gesprek gelewer. Prof Yasutomi het uitgewei oor sy span se baanbrekernavorsing oor 'n nuwe entstoftegnologie wat die vigsvirus kon uitskakel by krapeter-kuifape – proefape wat in Suidoos-Asië aangetref word. Die navorsing het 'n bakterie gebruik wat 'n immuunversterkingstof afskei. Sy span het 'n entstof ontwikkel deur gene van hierdie bakterie met gene van 'n verswakte vigsvirus te meng.

Die ape het aanvanklik almal vigs opgedoen toe die entstof toegedien is. Nietemin kon latere toetse nie meer die virus opspoor nie, en die diere het boonop sterk sellulêre immuunreaksies getoon, het hy gesê. Trouens, ses van die sewe ingeënte ape het daarná infeksie met 'n sterker virus, wat sonder uitsondering tot die dood lei, oorleef. Bloed- en limfnodusselle van die ses ape is deur middel van 'n inspuiting aan gesonde ape toegedien, en vier was virusvry.

Prof Yasutomi het gesê die span wil graag binne die volgende vyf jaar met kliniese toetse op mense begin. Toetse sal aanvanklik in die vorm van 'n pasgemaakte entstof vir individuele pasiënte in Japan geskied, waarna die span beplan om 'n algemener entstof te ontwikkel en dit onder 'n groter groep te begin toets. In daardie stadium sal hy graag lande in Afrika wil betrek.

Hy het 'n beroep gedoen om sterk samewerking tussen Japan en Suid-Afrika in die soeke na 'n MIV-entstof. “Dalk sal ons volgende stap vir kliniese proewe in julle land wees," het hy gesê. “Ons het Afrikane se hulp nodig, nie net as navorsingsdeelnemers nie, maar ook om MIV wêreldwyd te help bestry."

Tydig en relevant

Akihiko Uchikawa, minister en adjunkhoof van die Japannese sending na Suid-Afrika, het gesê die webinaar is “tydig en relevant in die lig van die wêreldwye pandemie en die impak wat dit op MIV-pasiënte het".

Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika 'n geskiedenis van MIV-bestryding het en as 'n voorloper in MIV-pasiëntesorg beskou word. Daarom wil sy ambassade sorg dat Suid-Afrikaners ook bewus is van die jongste navorsingsbevindinge uit Japan. “Hierdie seminaar skep dalk moontlikhede vir verdere samewerking tussen ons lande op hierdie gebied.

“Die Japannese ambassade wil graag voortgaan om tot akademiese uitruiling en samewerking tussen Afrika en Japan by te dra, met die US as middelpunt van kommunikasie en aktiwiteit. Hierdie vennootskap is self relevanter in die lig van die agtste Tokio Internasionale Konferensie oor Afrika-ontwikkeling wat in Augustus sal plaasvind," het hy gesê. “Ek hoop vandag se gesprek sal as 'n beginpunt dien vir 'n samevloeiing van kundigheid, nie net om bande tussen Japan en Suid-Afrika te verstewig nie, maar ook om 'n wêreldwye impak op die toekoms van die mensdom te hê."