Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US het goeie rede om optimisties te wees, hoor Konvokasie
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 22/04/2022

“Ons word meer inklusief en handhaaf 'n hoë standaard van studentesukses, ons doen ook ons bes om die sogenaamde 'verlore middelgroep' te help en neem die voortou in innovasie en navorsing." 

So het  prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) in 'n video-boodskap gesê, tydens die jaarvergadering van die Konvokasie op Donderdag, 21 April 2022.

Die vergadering het in die Coetzenburg Sentrum plaasgevind en is bygewoon deur lede van die Konvokasie wat bestaan uit alle US-gegradueerdes en gediplomeerdes, insluitend huidige nagraadse studente wat hul voorgraadse studie aan die US voltooi het, asook alle voltydse en afgetrede akademiese personeel.

De Villiers  het die Universiteit se onlangse suksesse uitgelig. Dit sluit in: 

  • In Desember 2021 is 5 636 kwalifikasies toegeken en in die eerste week van April vanjaar 'n verdere 3 132, wat die totaal vir 2021 op 8 768 te staan bring.
  • ​Meestersgraad-gegradueerdes het vanaf 2020 met 17% en PhD's met 3% gegroei, wat aansienlik bydra tot die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees. 
  • Die aantal bruin, swart, Indiër- en Asiërgraduandi het toegeneem in ál die fakulteite. Regsgeleerdheid sowel as Lettere & Sosiale Wetenskappe het die meeste voorgraadse studente uit dié groep nóg opgelewer. 
  • 'n Fokus op beurse vir "verlore middel" en nagraadse studente het diegene gehelp wat deur beperkte staatsbefondsing agtergelaat is. 
  • Die US het die grootste aantal rekenmeesters  – 257 – landwyd gelewer wat die aanvanklike bevoegdheidstoets van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) geslaag het. 
  • Die US word gereken as die beste in Afrika vir Rekenaarwetenskap en die beste in die land vir Landbou en Bosbou, asook Teologie. 
  • 'n  Nuwe Biomediese Navorsingsinstituut op die Tygerberg-kampus wat genomiese volgordebepaling vir belangrike entstofterapieë bied. 

“Ons het dus goeie rede om optimisties te wees oor die toekoms van hierdie universiteit," het De Viliiers gesê en die bekende ekonomie-historikus David Landes aangehaal. “'In this world, the optimists have it, not because they are always right, but because they are positive. Even when wrong, they are positive, and that is the way of achievement, correction, improvement, and success. Educated, eyes-open optimism pays; pessimism can only offer the empty consolation of being right.'" 

Gasspreker me Helen Zille, die voormalige Burgemeester van Kaapstad en voormalige Premier van die Wes-Kaap en huidige Voorsitter van die Federale Raad van die Demokratiese Alliansie, het gesê  haar praatjie probeer sin maak van waar die Suid-Afrikaanse politiek nou is en wat die implikasies vir universiteite is.

Sy het gesê die belangrikste verskuiwing wat die afgelope tien jaar in ons politiek plaasgevind het, behels uiteenlopende benaderings tot ons grondwet.

“'n Dekade gelede was die grondwet gesien as die grondslag van ons sosiale kompak in alle partye en sektore van die samelewing. Dit is nie meer die geval nie. Die sleutelverskil tussen die twee strydende ANC-faksies – die radikale ekonomiese transformasiefaksie en die nuwe hernuwingsfaksie aan die ander kant –  is in hul benadering tot die grondwet en konstitusionalisme. Die radikale ekonomiese transformasiefaksie se posisie is duidelik uiteengesit in 'n onlangse artikel deur die senior kabinetsminister Lindiwe Sisulu waarin sy die grondwet en die rol wat die konstitusionele hof speel aangeval het. Haar aanval op die grondwet verteenwoordig die siening van die radikale ekonomiese transformasiefaksie wat wil sien dat SA terugkeer na 'n parlementêre demokrasie waarin 'n eenvoudige meerderheid enige wette kan aanneem, ongeag beperkings soos die Handves van Regte wat deur die konstitusionele hof geïnterpreteer word. In wese is die stryd om die siel van SA nou 'n stryd tussen konstitusionalisme en 'majoritarianism'.

“So wat beteken dit vir ons universiteite? Dit beteken ons moet bewus word van wat in ons samelewing aangaan, en ons moet verstaan wat op die spel is en hoe die gevegte in ons instellings ooreenstem met die politieke magte buite wat teen konstitusionalisme is." 

Die Konvokasie se jaarlikse gemeenskapsdienstoekenning is aan Wentzel Barnard, sportbestuurder van die Maties ParaSport Klub, toegeken. Dié oud-Matie dien al vir die afgelope 30 jaar op tientalle komitees vir die ontwikkeling van verskeie sportsoorte. As kompeterende atleet neem hy deel op provinsiale, nasionale en internasionale vlak, aan sportsoorte soos rolstoelrugby en swem. As speler het hy ook die ontwikkeling van WP Rolstoelrugby gedryf.

Advokaat Jan Heunis, president van die Konvokasie, het die rektor en sy bestuurspan gelukgewens vir die uitsonderlike prestasies wat die universiteit die afgelope jaar behaal het. Hy het ook die personeel van die universiteit bedank vir hulle bydrae tot hierdie sukses.​ 

Foto: Lede van die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie is hier te sien saam met Helen Zille, voorsitter van die Federale Raad van die Demokratiese Alliansie, Gesie van Deventer, die burgermeester van Stellenbosch, Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad en Wentzel Barnard, sportbestuurder van die Maties ParaSport Klub. (Foto: Henk Oets)​​