Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ses nuwe alumni-takke by Matie-netwerk gevoeg
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 20/04/2022

Die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge bring Maties byeen waarookal hulle hulself in die wêreld bevind.

In Februarie vanjaar het die Afdeling, in samewerking met Matie-vrywilligers, vier nuwe hubs en takke in Suid-Afrika van stapel gestuur om alumni met uiteenlopende belangstellings, ambisies en vanuit verskeie industrieë die geleentheid te bied om met mekaar kontak te maak, herinneringe te deel en die band met hul alma mater te versterk.

Die nuut gestigte takke is in Pietermaritzburg en Durban wat deel van die KwaZulu-Natal Alumnihub vorm en die Oos-Londen- en Gqeberha-takke wat deel van die Oos-Kaapse Maties Alumnihub is. In 2021 is nuwe hubs en takke in Pretoria, Johannesburg, die Suidelike Voorstede en Noordelike Voorstede van Kaapstad, Elgin en Gansbaai gestig en daar is nog meer in die pyplyn.

Volgens Ferdi van Dyk, Alumnibetrekkinge koördineerder by die US, sal hubs en takke in die komende maande in Stellenbosch, Paarl, die Weskus en die Atlantiese kusgebied bekend gestel word. "Ons het egter Matie-vrywilligers nodig om die momentum aan die gang te hou en ons doen 'n beroep op enige Matie om ons te kontak indien hulle bereid is om by enige Alumnihubs en -takke betrokke te raak."

Van Dyk verduidelik: "Alumnihubs is die oorhoofse groep van 'n spesifieke streek, terwyl takke binne kleiner gebiede binne die groter streek georganiseer word. Ons het byvoorbeeld die Oos-Kaapse Maties Alumnihub, maar omdat hierdie streek so groot is en Maties oral in daardie provinsie versprei is, bestaan die hub uit kleiner takke soos Gqeberha en Oos-Londen."

Terwyl talle internasionale alumni-geleenthede oor die afgelope 10 jaar en meer aangebied is, word daar ook beplan om takke in Nederland, België, Parys, Noorweë, Finland, Duitsland, Switserland, Denemarke en Swede bekend te stel. Londen, Oxford en Dublin is almal bedrywige Matie-netwerke en Hongkong het nou al 'n paar jaar 'n klein maar toegewyde tak.

Washington DC en Denver se Maties Alumni-takke is ook onlangs bekend gestel. In die Verenigde State toon die volgende takke groei: New York City, Los Angeles, San Francisco, Seattle, Boston en Kansas City; terwyl die takke in Kanada – Toronto, Vancouver en Calgary – ietwat ontspoor is tydens COVID, maar nietemin die afgelope vier jaar funksioneer.

Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die US, sê die Matie-netwerk skep geleenthede vir alumni om Matie-kundigheid vanuit verskeie professionele sektore te benut. "Hierdie hubs en takke maak deure oop en skep netwerkgeleenthede vir alumni in die besigheidswêreld, smee blywende vriendskapsbande met ander alumni in 'n spesifieke area en dien as 'n platform ​waar enige nuwe alumnus/a gewaarborg is van vriendelike gesigte asook goeie advies, veral as hulle hulself in 'n onbekende omgewing bevind."

Tans is daar 'n netwerk van alumni-strukture in meer as 25 sentrums regoor die wêreld. Talle sosiale geleenthede, denkleierskap en professionele ontwikkelingsprogramme word elke jaar nasionaal, internasionaal en aanlyn via hierdie netwerke aangebied. Die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (in Engels SWAN) en die Jong Alumni-Program (YAP) is beide opwindende vlagskipprogramme wat in elk van die hubs en takke geïnkorporeer is.

Maties wat graag 'n hub of tak in hul area wil stig of by een wil aansluit, kan 'n e-pos stuur na alumnihubs@sun.ac.za. Die US Alumni Betrekkinge-span is slaggereed om vanuit die staanspoor hulp en ondersteuning te bied.