Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kerwin Noemdo: Trotse Paralimpiese atleet met twee grade
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 19/04/2022

Die bekende Matie-atleet Kerwin Noemdo se drome om ʼn Paralimpiese atleet met twee grade te word is verwesenlik toe hy vandeesweek gedurende die Universiteit Stellenbosch (US) se April-gradeplegtighede sy tweede kwalifikasie ontvang het.  


Noemdo – Maties se Parasport-sportman van die Jaar in 2019, wat Suid-Afrika in September verlede jaar by die Paralimpiese Spele in Tokio verteenwoordig het – het ʼn Nagraadse Diploma in MIV/vigsbestuur van die US se Sentrum vir MIV/vigsbestuur ontvang. Hy het in 2017 ʼn BSc in Bewaringsekologie verwerf.


“Ek voel goed en trots dat ek iets waartoe ek my verbind het, suksesvol voltooi het. Ek wou nog altyd ʼn Paralimpiese atleet wees met twee grade. Dit is iets waarop ek trots is," het Noemdo gesê.


Noemdo is op 12 September 1994 met ʼn kleiner en misvormde regterhand gebore nadat die naelstring in die baarmoeder daarom gedraai het. Sy regterhand is ʼn paar maande ná geboorte geamputeer. Hy het van jongs af merkwaardige sukses met sy deelname aan rugby en later atletiek behaal.  


Hy het in 2021 vir die nagraadse diploma, ʼn vlagskip- aanlyn program van die Sentrum vir MIV/vigsbestuur, geregistreer. Sy selfdissipline en deursettingsvermoë is vinnig deur die akademiese werklading en sy sportverpligtinge op die proef gestel. “Dit was nogal moeilik," het Noemdo vertel.


Benewens die talle take wat die meeste van sy tyd in beslag geneem het, moes hy ook tyd maak vir sy gewigstoot-oefenprogram by sy afrigter, asook self afrigting aanbied by twee skole en sy private afrigtingsklasse hanteer.


“Ek moes na ure, oor naweke en laatnag aan my take werk. Maar dit is die lewe wat ek gekies het en ek het dit gedoen," het Noemdo gesê en genoem dat hy vroeër van Tokio af teruggekeer het om een van sy take te voltooi.  


Van Bellville na Stellenbosch

Noemdo kom oorspronklik van Bellville, maar het in 2011 Stellenbosch toe getrek en as leerder by die Paul Roos-gimnasium aangesluit. Hy was toe reeds ʼn goeie rugbyspeler en para-atleet wat al in 2008 aan sy eerste nasionale atletiekkampioenskapsbyeenkoms deelgeneem het.  


In 2011 is hy gekies vir deelname aan die Internasionale Rolstoel- en Amputasiesportfederasie se Wêreldspele, wat in Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate gehou is. “Dis ʼn oomblik wat ek nooit sal vergeet nie – om my land te verteenwoordig en die Suid-Afrikaanse uitrusting in groen en goud met my naam en die Protea-embleem te ontvang," het hy vertel.


Daarna het hy Suid-Afrika by verskeie ander internasionale sportgeleenthede verteenwoordig, insluitende die Tokio-spele waar hy as een van Suid-Afrika se voorste para-atlete aan die diskus- en gewigstootitems deelgeneem het. Hy het ʼn vierde plek in die gewigstoot verower.


“Die Tokio- Paralimpiese Spele was my grootste sportprestasie tot dusver. Ek het ʼn medalje met net een plek en 35 cm gemis," het Noemdo gesê.


Hy is gemotiveer om op daardie vierde plek te verbeter en gaan nou al sy tyd en energie aan oefening en afrigting bestee. “Ek gaan voluit vir die 2024- Paralimpiese Spele in Parys. En as alles goed gaan, sal ek ook aan die 2028- Paralimpiese Spele in Los Angeles kan deelneem."


Afrigting kom natuurlik

Noemdo het nie enige onmiddellike loopbaanplanne wat met sy kwalifikasies verband hou nie.


“Ek gaan op my sport fokus en aanhou om by twee skole en privaat af te rig. Afrigting kom natuurlik vir my en is ʼn familieding. My oupa was ʼn lid van die afrigtingspan van die eerste Springbok-sewesrugbypan en my oom het provinsiale rugbyspanne afgerig. Ek het ʼn analitiese en ʼn afrigtingsbrein," het Noemdo gesê.


Een van die plesiere van afrigting is volgens hom wanneer jou atlete ontwikkel en hul prestasie verbeter. “Ek geniet dit regtig. Ek hou daarvan om ander atlete te help om hul doelwitte te bereik en die ontwikkeling en groei te sien – nie net as atlete nie, maar ook as mense," het hy gesê.


Op sy pad vorentoe sal Noemdo die lewenslesse saamneem wat hy oor die jare op Stellenbosch geleer het, asook die lewenslange vriende wat hy op skool en universiteit gemaak het. “Om ʼn Matie te wees het my as mens gevorm. Ek hoop ek kan ander individue en studente-atlete eendag ook inspireer en vorm, of net mense oor die algemeen in elke aspek van die lewe," het hy gesê.


Fotograaf: Stefan Els