Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gratis, geakkrediteerde aanlyn leer vir Hoërskoolleerders
Outeur: Christina Harvett
Gepubliseer: 19/04/2022

​Agterstande in skoolopleiding as gevolg van twee jaar se pandemie-onderbreekte onderrig maak dit duidelik waarom skoolgaande jongmense nie tyd moet mors in die gebruik van wat nou volkome gratis toegang is tot geakkrediteerde aanlyn studie nie. Dít volgens Zainab Suliman van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Leertegnologieë.

 

As adjunk-direkteur van die sentrum se werksaamhede, telematiese dienste en projekte, bestuur sy die Telematiese Skoleprojek (TSP), 'n inisiatief sonder winsbejag wat gesamentlik deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Universiteit Stellenbosch onwikkel is.

 

Die projek verskaf lesse, vakwerkboeke en ander materiaal vir agtien vakke, in ooreenstemming met die KABV-kurrikulum, aan leerders in graad 10 tot 12 en in beide Afrikaans en Engels. Gehalte van die inhoud word verseker deur WKOD senior kurrikulumbeplanners en is beskikbaar, teen geen koste vir die leerders, op 'n nul-koers webwerf.

 

Die nuutste byvoeging is die TSP Virtuele Skool, waar leerders week vir week deur die kurrikulum gelei word met kurrikulumspesifieke lesplanne wat op moeilike konsepte fokus. Dit sal hulle in staat stel om verlore onderrig- en leertyd in te haal en hul kanse op akademiese sukses te verbeter.

 

Die projek het vroeg in April 'n bykomende hupstoot ontvang, met die bekendstelling van Broadband Infraco CSI Project by Mhlanganisweni Commercial & Tech Senior Sekondêre Skool in die Oos-Kaap en Ohlange Sekondêre Skool in KZN. Mhlanganisweni is in 'n dorpie met die bynaam 'Kwamphelamhlaba', wat losweg vertaal na "die einde van die wêreld", wat sinspeel op sy afgeleë ligging. Die projek het ten doel om breëband te gebruik om gehalte onderwys in diep landelike gebiede te verskaf. Die maatskappy het ook die installering van die Telematic Schools Project-toerusting by die skool geborg om hul graad 10 – 12-leerders met gratis gehalte-onderrig by te staan. Dit onderstreep verder die projek se doel om leerders te ondersteun, veral in kwesbare gemeenskappe regoor die land.