Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Terugvoer uit die IKBV
Outeur: Prof Stan du Plessis: Chair: ICBC/ Voorsitter: IKBV
Gepubliseer: 14/04/2022

Beste kollegas en studente

Ek wil graag die geleentheid gebruik om terugvoer te gee aangaande die laaste vergadering van ons Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) wat op 12 April 2022 gehou is. Die Ramptoestand wat met die Covid-19-pandemie gepaardgegaan het, is opgehef en in hierdie stadium beleef die pandemie ’n lae infeksievlak. Aangesien ons die nodige lynbestuur en samewerkende stelsels in plek het om die situasie te bestuur, het ons besluit om die werksaamhede van hierdie komitee af te sluit. Indien dit nodig sou word, kan die komitee en sy strukture in die toekoms heringestel word.

Inenting

​Die komitee het die gepaste pad vorentoe rakende ’n moontlik institusionele inentingsreël bespreek.

Ná verlede jaar se risikobeoordeling en in die daaropvolgende openbare konsultasieproses het die pandemie verder ontwikkel met die verskyning van die Omikron-variant. In die lig hiervan en nadat ons bykomende insette van ons Mediese Advieskomitee (MAK) bekom het, het die IKBV besluit om die ontwikkeling van die inentingsreël vir eers uit te stel. Hierdie besluit is grootliks gegrond op die heersende pandemietoestande, saam met die MAK se insette. Die Universiteit onderskryf egter steeds die proses van inenting 100% as ’n beproefde beskermingsmetode teen ernstige siekte en hospitalisasie. Soos die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanbeveel, moet ons almal ingeënt word om onsself te beskerm, ander te beskerm, nuwe variante te voorkom, die oordragsketting te verbreek, en hospitaalbeddens beskikbaar te stel en gesondheidswerkers se veiligheid te help verseker.

Hoewel daar tans geen noemenswaardige waarskuwings oor nuwe variante is nie, hou ons viroloë en kundiges die situasie baie fyn dop. Indien die omstandighede ’n verandering in ons benadering sou noodsaak, kan ons baie vinnig weer die proses hervat om ’n inentingsreël in te stel, die risikobeoordeling hersien en die jongste mediese data en aanbevelings vergelyk.  

Ek herinner julle daaraan dat ons Universiteit se eie inentingsentrum by die Lentelus-sportterrein in Hammanshandweg, Stellenbosch steeds tot die einde van April vir personeel, studente en lede van die publiek oop sal wees. Besoek gerus die Lentelus-terrein vir jou gratis inenting (insluitende versterker-inspuitings).

Ramptoestand

President Cyril Ramaphosa het op 4 April 2022 die nasionale ramptoestand, wat meer as twee jaar geduur het, opgehef danksy die merkbare afname in hospitalisasies en sterftes. Ons wag nou op die nuwe regulasies wat binnekort ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheid bekendgemaak sal word en wat op die 30-dae oorgangstydperk volg waartydens sekere inperkings, veral vir byeenkomste, steeds geld. Dit beteken beperkings op die aantal mense wat in lesingsale en ander lokale by die US toegelaat word, geld steeds. Dit is nog steeds verpligtend om ’n masker binnenshuis te dra, en hoewel die dra van ’n masker in die buitelug nie meer verpligtend is nie, moet mense steeds sosiale afstandskepping toepas.
 
Op grond van hierdie ligter inperkings en ons aansienlike gemeenskapsweerstand, het die komitee aanbeveel dat fakulteite hul gebruik van lokaalkapasiteit tot 50% verhoog met ’n afstandsvereiste van een meter wat gehandhaaf moet word waar moontlik. Gaan asseblief ook voort om die Higher Health-siftingstoepassing daagliks te gebruik voordat julle na die kampus kom of jul blyplek verlaat. Die toepassing is bygewerk en weerspieël nou die verlaagde risiko wat met die huidige stand van die pandemie gepaardgaan.

Ten einde die leer- en onderrigmodus vir die tweede semester te beplan, wag ons op die regulasies wat na verwagting vroeg in Mei bekend sal wees. Die US is ’n residensiële universiteit en ons verkies om na die volle gebruik van ons akademiese geriewe in kontakmodus met die nodige veiligheidsprotokols wat geld, terug te keer. Die kantoor van die Viserektor: Leer en Onderrig sal meer inligting hieroor bekendmaak sodra ons die toepaslike regulasies oorweeg het.
 
Terugvoer van werkstrome

Die komitee het terugvoer van sy onderskeie werkstrome oor veral personeelaange-leenthede en die Gedragsreëls vir die Bestuur van Blootstelling aan SARS-CoV-2 in die Werkplek ontvang wat van 5 April 2022 af geld.

Ons prioriteit is steeds die optimale terugkeer van alle personeel na die kampus binne die raamwerk van veiligheidsmonitering en deur voorsiening te maak vir buigsaamheid op grond van die lesse wat ons gedurende die pandemie geleer het. Ons Menslikehulp-bronnespan sal leiding aan personeel hieroor verskaf. Die Institusionele Komitee vir Personeelgesondheid en -welwees sal ook, met die inagneming van enige uitdagings en sensitiwiteite, help om hierdie proses te optimaliseer.

Daarby en regtens die bepalings van nuut-uitgevaardigde arbeidswetgewing, sal die US se nuwe toepassing om die inentingstatus van personeel aan te teken, teen die einde van April gereed wees.
 
Ten slotte

Ter afsluiting van die IKBV se werk, wil ek graag die lede van die IKBV, die voorsitters van die IKBV-werkstrome en die kollegas en studente wat die afgelope twee jaar by daardie werkstrome betrokke was, hartlik bedank. My dank gaan ook aan al ons personeel en studente vir jul konstruktiewe samewerking met die IKBV, ondanks die talle ontwrigtings wat die bestuur van hierdie pandemie (sover) in jul werk- en studentelewe veroorsaak het. Baie dankie vir jul buigsaamheid en veerkragtigheid. Ons kyk saam vorentoe om ons kampusse weer optimaal te benut terwyl ons veilige en gesonde gedrag handhaaf.

Bly asseblief veilig en pas julleself en ander op.

Prof Stan du Plessis
Voorsitter: IKBV
 
Besoek gerus ons toegewyde Covid-19-webblad vir meer inligting. Let asseblief ook op die hersiene riglyne vir internasionale reise .