ʼn Dop vir ʼn robot, ʼn ligte hegstuk vir ʼn hommeltuig, ʼn draagbare waterfal-agtige kledingstuk, ʼn pasgemaakte motorenjinonderdeel, ʼn prototipe vir ʼn waterfilter, die reliëf van Tafelberg en selfs ʼn trouring en ʼn Star Wars-masker is van die idees wat onlangs beslag gekry het danksy die 3D-druk- en 3D-skandeertoerusting wat in die Universiteit Stellenbosch (US) se Biblioteek se nuwe Makerspace vir personeellede en studente beskikbaar is.
Daar is geen grense nie en alles hang af van die vindingrykheid en verbeelding van hul kliënte, sê Norman Hebler, hoof van Makerspace. Dié fasiliteit is onlangs bekend gestel en is op die boonste vlak van die Biblioteek geleë. Hebler sou graag wou sien dat dit ʼn al hoe groter rol speel om uitvinders te help om hul ontwerpe te verfyn en prototipes daarvan te druk, asook om te verseker dat lektore pasgemaakte modelle byderhand het om vir hul klasse te wys.
Die fasiliteit word ook al hoe meer vir navorsingsdoeleindes gebruik. ʼn MSc-student in genetika, Cecilia Bester, het byvoorbeeld die hipermoderne Einscan Pro 3D-skandeerder gebruik vir haar poging om ʼn virtuele argief of museum van Suider-Afrikaanse wilde graanspesies te skep. ʼn Ander student het weer ʼn 3D-model van ʼn stel tande gedruk.
Hul kliënte kom nie net van die ingenieurs- of wetenskappefakulteite nie, maar sluit ook kreatiewe studente van byvoorbeeld die Departement Visuele Kunste in. Die Makerspace-span het juwelierswarestudente gehelp met die ontwerp van nuwe artikels en om ʼn semi-deursigtige kunswerk te druk wat deur iemand anders gevisualiseer is.
Van die ontwerpsagteware wat tot kliënte se beskikking is, is die webblaaier-gebaseerde TinkerCad-ontwerpprogram en die meer gevorderde Fusion 360, asook Rhino 3D, die bedryfstandaard in die juwelierswêreld.
Hebler sê hy hou ook graag toesig oor die druk van prettige 3D-projekte waarvan die ontwerpe gratis op die internet beskikbaar is, omdat hy dit beskou as ʼn manier om mense aan die fasiliteit en sy moontlikhede bekend te stel.
Die Makerspace-span gee, indien nodig, leiding aan studente oor die ontwerp- en drukproses self. Opleiding word verskaf oor enigiets van soldeerwerk tot die gebruik van ʼn Arduino Uno en ʼn Raspberry Pi in die ontwerp van elektronika. Hierdie hardeware, asook elektroniese broodborde, is beskikbaar vir gebruik in ʼn ontwerp.
Werkstasies vir meer as net 3D-modellering en indien nodig ook vir die stroombaanontwerp van ʼn projek, is beskikbaar. Die spasie vir die montering van verskillende artikels, asook raad oor hoe om dit te doen, word verskaf.
Die Makerspace is trouens ʼn goed toegeruste mini-werkswinkel met enigiets van die nodige skroewedraaiers en tange tot soldeertoerusting.Twee konstruksiewerkbanke met ossilloskope is beskikbaar, asook vier soldeerstasies en agt rekenaargesteunde ontwerprekenaars.
Afhangend van die bepaalde projek kan studente ook ʼn basiese gereedskapskas ontvang sodat hulle tuis aan hul projekte kan werk. Veiligheidsopleiding word waar nodig verskaf.
Gratis diens
Die fasiliteit is gratis vir geregistreerde US-studente en -personeellede beskikbaar.
“Ons is ʼn diensverskaffer wat teen kosprys bedryf word en die enigste diens waarvoor ons geld vra, is 3D-drukwerk teen tussen R2 en R3 per gram van die materiaal wat gebruik word," sê Hebler terwyl hy die wye verskeidenheid van kleure en sterktes vertoon van materiale wat vir 3D-drukwerk beskikbaar is.
Die materiale wissel van algemene verbruikersgraad tot navorsingsgraad en is óf teen ultravioletstrale, vet of chemikalieë weerstandig.
ʼn Ruimte om idees te deel
Maar hoekom so ʼn fasiliteit in ʼn biblioteek?
“Die Makerspace-konsep is ʼn wêreldwye konsep wat in heelwat universiteite en openbare ruimtes aangetref word. Die idee is dat dit in ʼn plek moet wees waar mense kan saamwerk, idees uitruil en op die gebruik van spesifieke soorte tegnologie fokus," sê Jeremiah Pietersen, bestuurder: Leer en Opleiding van die US se Biblioteek- en Inligtingsdiens.
Volgens hom het die konsep om so ʼn kreatiewe spasie in ʼn akademiese biblioteek te vestig in die middel 2000's in die VSA ontwikkel.
“Dit het saam met die hele konsep van ʼn akademiese biblioteek as ʼn ruimte, eerder as bloot ʼn boekbergingsfasiliteit, ontwikkel. Dit sluit aan by die idee dat ʼn biblioteek gewoonlik sentraal op ʼn kampus geplaas word en vir alle studente en personeellede toeganklik is. Dink daaraan as ʼn soort gelykheidsprojek wat tegnologie vir almal beskikbaar maak en nie net vir diegene wat aan spesifieke laboratoriums verbonde is nie. Dit moedig die praktiese sy van teoriegebaseerde leer aan. Dit gaan as't ware daaroor om ʼn idee in die praktyk uit te over," sê Pietersen.
“Een van ons hooffunksies is om mense betrokke te kry, om hul leerproses op hierdie gebied te laat begin en die basiese aan hulle te bied, asook ʼn idee van wat daar buite beskikbaar is," voeg Hebler by.
Begeleide toere van die fasilteit is vir belangstellendes beskikbaar, asook inleidende opleidingsessies in engiets van rekenaargesteunde ontwerp, soldeerwerk, 3D-drukwerk en 3D-skandering tot die gebruik van basiese elektronika danksy die beskikbaarheid van ʼn Arduino Uno, ʼn Raspberry Pi of robotika.
Besoek https://libguides.sun.ac.za/makerspace vir meer inligting.
Onderskrif: Norman Hebler, head of the recently launched Makerspace.
Fotograaf: Stefan Els