Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrikaners moet nee sê vir korrupsie – NVG-direkteur
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 12/04/2022

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die ondersteuning van gewone Suid-Afrikaners nodig om 'n einde te maak aan korrupsie en die kultuur van straffeloosheid, het die nasionale direkteur van die NVG, advokaat Shamila Batohi, gesê.

Sy was Maandag (11 April 2022) die spreker by die jaarlikse Frederik Van Zyl Slabbert-erelesing* wat deur die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir die Ontwikkeling van Studenteleierskap aangebied is by die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringgerigte Opvoeding en Burgerskap. Die onderwerp van haar toespraak was Citizen-leadership in South Africa through the lens of accountability – action and service (Burgerlike leierskap in Suid-Afrika deur die lens van verantwoordbaarheid – optrede en diens).

Batohi het die belangrikheid van die werk wat die NVG doen om korrupsie te beveg, beklemtoon, maar het ook erken die instelling het nog baie om te doen.

“Die NVG wil tot die ontwikkeling van die maatskaplike en ekonomiese weefsel van ons land bydra deur diegene wat vir korrupsie verantwoordelik is, aanspreeklik te hou."

Sy het 'n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om die NVG te ondersteun in sy pogings om diegene wat straffeloos wil optree, vas te trek.

“Die regering kan nie alleen teen korrupsie in ons land optree nie. Dit vereis dat almal wat in hierdie land woon en vir die land omgee, moet saamstaan om die kwessie te hanteer. Ons kan dit nie alleen doen nie; ons moet saam met die samelewing werk.

“Ons het ons landburgers se ondersteuning nodig terwyl hulle ons verantwoordbaar hou. Die sukses van ons geveg teen misdaad in die algemeen en meer spesifiek korrupsie, hang ook af van alle landburgers se optrede. Ons moet baie doen, maar ons het julle hulp nodig

“'n Vloedgolf van aktiewe burgery is nodig om nee te sê vir korrupsie. Belangrike instellings soos die NVG moet verdedig word.

“By die NVG is ons maar al te bewus van wat suksesvolle ondersoeke en vervolgings, in besonder rakende korrupsie, vir hierdie land sal beteken. En ons sal nie van ons grondwetlike verbintenis om sonder vrees en bevoordeling te vervolg, afwyk nie.

Volgens Batohi is straffeloosheid nie meer 'n gegewe nie.

“Die alomteenwoordige krane van korrupsie en pagsoek (om openbare beleid of ekonomiese omstandighede te manipuleer as 'n strategie vir hoër winste) word toegedraai. Dit is nou nie meer 'n kwessie van óf mense aanspreeklik gehou gaan word nie, maar wanneer."

Sy het gesê belangrike sake word nou voor die hof gedaag as bewys dat “die oppergesag van die reg onaantasbaar is in hierdie land en dat diegene wat ons land feitlik op sy knieë gedwing het, aanspreeklik gehou word".

Batohi het bygevoeg dat wanneer diegene wat skuldig is aan korrupsie en staatskaping, nie aanspreeklik gehou word nie, word geloof en vertroue in die staat en die strafregtelike stelsel geskend en op die lange duur word die rol van die reg verswak. Dit lei tot 'n algemene krisis van wetteloosheid en onstabiliteit weens 'n gebrek aan aanspreeklikheid.

“'n Sterk regstelsel waar die oppergesag van die reg geld, dra grootliks by tot die vertroue in die land."

Batohi het ook gesê om mense aanspreeklik te hou vir korrupsie en staatskaping beteken die geld wat hulle gesteel het, kan teruggekry word.

“Ons kan mense aanspreeklik hou, ons kan mense tronk toe stuur, maar as ons nie uiteindelik die gesteelde geld kan terugkry nie, sal ons nog steeds as 'n land swaarkry, selfs al is daar mense in die gevangenis."

“Dit is belangrik om die gesteelde geld terug te kry, want al daardie geld moet teruggeploeg word om mense se lot in die samelewing te verbeter."

*Die jaarlikse erelesing, wat geldelik deur die Konrad Adenauer-stigting ondersteun word, poog om 'n platform vir ons studenteleiers, akademici en die breër internasionale gemeenskap te skep om aan kritiese gesprekke oor Suid-Afrika se huidige politieke en staatsbestuurkwessies deel te neem.