Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Genootskap bevorder bewysgebaseerde riglyne vir pasgeborene- en kindergesondheid
Outeur: Media Statement / Mediaverklaring – Cochrane South Africa
Gepubliseer: 12/04/2022

Die Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe Vennootskap (European and Developing Countries Clinical Trials Partnership, oftewel EDCTP) het befondsing van meer as €3 miljoen oor ʼn tydperk van drie jaar (2022-2025) toegeken aan ʼn vennootskap wat gekoördineer word deur Cochrane Suid-Afrika, die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en ander vennote van die Noorweegse Instituut vir Openbare Gesondheid, die Noorweegse Universiteit van Wetenskap en Tegnologie, die Westelike Noorweë Universiteit van Toegepaste Wetenskap, die Universiteit Stellenbosch, Cochrane Nigerië by die Universiteit van Calabar Opleidingshospitaal, die Kamuzu Universiteit van Gesondheidwetenskappe (Malawi), Cochrane en die Stiftelsen MAGIC Evidence Ecosystem (Noorweë).

Die projek is genaamd GELA – Globale Bewyse, Plaaslike Aanpassing (oftewel Global Evidence, Local Adaptation) en sal poog om bewys-ingeligte riglynaanbevelings vir pasgeborenes en jong kinders se gesondheid in drie lande in Afrika suid van die Sahara te bevorder.

GELA beoog om die impak te vergroot van bewyse oor siektes wat met armoede verband hou deur die kapasiteit van besluitnemers en navorsers te bou om globale navorsing te gebruik om plaaslike relevante riglyne te ontwikkel vir pasgeborene en kindergesondheid. Die projek sal besluitnemers in Suid-Afrika, Malawi en Nigerië ondersteun, en sal bou op, en waarde toevoeg tot grootskaalse programme vir die ontwikkeling van riglyne vir kindergesondheid wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gelei word, met aanpassings en implementasie deur die WGO se Afro-kantoor, plaaslike kantore en nasionale ministeries.

“Ondanks vooruitgang in die gesondheid van pasgeborenes en kinders, het die meeste lande suid van die Sahara nie die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte vir onder-vyf sterftes behaal nie," het dr Tamara Kredo van Cochrane SA gesê. “In die konteks van Covid-19, hoewel die meeste kinders matige simptome ervaar, word die nagevolge van die pandemie gevoel in die gesondheidstelsel en –dienste, en is die lewering van gesondheidsorg aan kinders verhinder, en het armoede, voedselonsekerheid en ongelykheid vererger. Om hierdie kwessies aan te spreek, benodig beleidmakers en gesondheidspraktisyns nie net bewysgebaseerde leiding oor doeltreffende sorg nie, maar hulle benodig ook leiding oor die doeltreffende implementering van hierdie sorg binne die konteks van hulle eie gesondheidstelsel, terwyl ongelykhede (in gesondheid en toegang tot dienste) weens armoede en ander faktore in ag geneem word."

“MAGIC is opgewonder daaroor om ʼn vennoot van GELA te wees," het dr Per Olav Vandvik van die Universiteit van Oslo gesê. “Daar is ʼn groot behoefte vir WGO-riglyne om ʼn impak in lidlande te maak. Dit is nou die tyd om te wys dat dit moontlik is, en ons glo hierdie sterk konsortium van vennote is goed geplaas om die werk te doen."

“Kliniese praktiese riglyne bied ʼn manier om die gaping te oorbrug tussen navorsingsbewyse en die praktyk, en dit is ʼn noodsaaklike instrument vir die implementasie van beleide wat doeltreffende, en kostedoeltreffende gesondheidsorg tot stand bring," het Kredo bygevoeg.  

Hierdie projek is deel van die EDCTP2-program wat ondersteun word deur die Europese Unie (toekenningsnommer RIA2020S-3303-GELA).

 

Die spesifieke oogmerke is om te:

SKAKEL: Identifiseer die prioriteite vir kinders en pasgeborenes, asook die kapasiteitsbehoeftes van riglynpanele.

SINTETISEER: Ondersteun beleidmakers en navorsers om die beste beskikbare stelselmatige oorsigte en riglyne te vind, te beoordeel, en te gebruik.

BESLUIT: Ondersteun riglynpanele se kapasiteit om globale bewyse te kontekstualiseer deur middel van die gebruik van deursigtige, digitaal-ondersteunde standaarde en WGO-metodes vir die ontwikkeling van riglyne.

DEEL: Versprei en kommunikeer riglyn aanbevelings aan gesondswerkers en die publiek deur middel van die gebruik van innoverende en verbruiker-vriendelike formate en digitale platforms.

LEER: Bou navorsers en beleidmakers se kapasiteit ten opsigte van alle aspekte van die ontwikkeling, aanpassing en verspreiding van riglyne.

EVALUEER: Monitor en evalueer beleidmakers se ervarings van hierdie benadering, voorkeure vir die ontvang van bewyse, kapasiteit ontwikkeling en die oorhoofse impak van die projek op die bewys-ingeligte besluitnemingsproses.

 

GELA sal ʼn veelvoudige, multidissiplinêre navorsing en kapasiteitsbouprogram behels wat gebruik maak van primêre- en sekondêre navorsing, riglynaanpassingsmetodologie en digitale platforms om lewering en dinamiese plaaslike aanpassing te ondersteun. Dit word in werking gestel deur ʼn projekspan van Afrika- en internasionale leiers in die veld van bewysgebaseerde gesondheidsorg en riglynmetodes in vennootskap met die nasionale ministeries van Malawi, Nigerië en Suid-Afrika, die WGO en sy Afro plaaslike kantoor, asook die burgerlike genootskap, Peoples Health Movement.

Die Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe Vennootskap (EDCTP) is ʼn publieke-publieke vennootskap tussen lande in Europa en Afrika suid van die Sahara, en word deur die Europese Unie ondersteun. Die EDCTP fokus op die verbetering van navorsingskapasiteit en die versnelling van die ontwikkeling van nuwe of verbeterde mediese intervensies vir die identifisering, behandeling en voorkoming van infeksiesiektes wat met armoede verband hou, insluitend ontluikende en weerverskynende siektes in Afrika suid van die Sahara, deur alle fases van kliniese proewe, met ʼn klem op proewe in fase II en III.

 

MEER OOR DIE VENNOTE

Cochrane Suid-Afrika

Cochrane Suid-Afrika (SA) is ʼn interne navorsingseenheid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad en is deel van die globale, onafhanklike Cochrane-netwerk van navorsers, professionele beroepslui, versorgers en mense met ʼn belangstelling in gesondheid. Dit beoog om bewys-ingeligte besluitneming oor gesondheidsorg in Suid-Afrika en Afrika suid van die Sahara te bevorder deur stelselmatige oorsigte en ander gesintetiseerde navorsingsbewys te produseer wat van hoë gehalte, relevant en toeganklik is.

https://southafrica.cochrane.org/about-us

 

Cochrane, Verenigde Koninkryk

Cochrane fokus daarop om relevante en tydige gesintetiseerde bewyse te produseer en is ʼn globale voorstaander van bewys-ingeligte gesondheid en gesondheidsorg. Ons werk na ʼn wêreld met verbeterde gesondheid waar besluite oor gesondheid en gesondheidsorg ingelig word deur gesintetiseerde navorsingsbewyse wat van hoë gehalte, relevant en op datum is. Ons lede en ondersteuners is afkomstig van 130 lande oor die wêreld heen.

https://www.cochrane.org/

 

MAGIC, Noorweë

Die onafhanklike Noorweegse MAGIC Evidence Ecosystem Foundation is ʼn stigting sonder winsbejag en is in 2018 tot stand gebring om volhoubare en professionele dienste vir kliënte (bv. MAGICapp) te verskaf terwyl ons die bewys ekosisteem-visie nastreef deur volgehoue navorsing en innovasie.

MAGIC lei die werkspakket deur die verspreiding en kommunikasie deur CPG-aanbevelings aan gesondheidsorg diensverskaffers en die publiek. GELA sal gebruik maak van innoverende formate, asook die MAGIC outeur- en publikasieplatform (MAGICapp) om WGO-riglyne aan te pas en oor te sit vir nasionale en plaaslike gebruik. MAGIC sal ook die ontwikkeling en aanpassing van riglynaanbevelings ondersteun, pasgemaak vir die behoeftes van besluitnemers deur middel van die GRADE EtD-raamwerk.

https://magicevidence.org/

 

Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBGGS), Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrika

Die SBGGS is ʼn erkende nasionaal en wêreldwyd leier van navorsing en praktyk in die onderrig en leer van bewysgebaseerde gesondheidsorg (BGGS). Die sentrum is gesetel by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en ondersteun voor- en nagraadse opleiding van alle aspekte van BGGS. Die sentrum bied ʼn Meestersgraad aan in Kliniese Epidemiologie wat regoor die kontinent erken word. Studieleiers aan die US was aan die spits van verskeie projekte wat verband hou met bewyssintetisering, kennisoordrag, kapasiteitsbou van beleidmakers en navorsers vir bewysingeligte beleidmaking, en ondersteuning van nasionale en internasionale riglynprojekte.

https://www.cebhc.co.za/

 

Cochrane Nigerië

Cochrane Nigerië by die Universiteit van Calabar Onderrighospitaal se Instituut vir Tropiese Siekte Navorsing en Voorkoming is betrokke by die produksie en verspreiding van relevante en prioriteit stelselmatige oorsigte van gesondheidsorgintervensies, die verskaffing van tegniese ondersteuning vir die ontwikkeling van betroubare kliniese praktykriglyne, en kennisoordragaktiwiteite wat die media betrek. Ons langtermyn strategiese doelwit is om rolspelers se kapasiteit te bou wat die gebruik van bewys-ingeligte besluite aangaan om sodoende positiewe individuele en bevolking gesondheiduitkomste in Nigerië en die Wes-Afrika substreek te bewerkstellig.

https://nigeria.cochrane.org/

 

Kamuzu Universiteit van Gesondheidswetenskappe, Malawi

Kamuzu Universiteit van Gesondheidswetenskappe (KUHeS) is ʼn openbare universiteit wat in 2019 gestig is deur wetgewing van die parlement wat die Kamuzu Kollege van Verpleegkunde (gestig in 1979) en die Kollege van Geneeskunde (gestig in 1991) saamgesmelt het. As ʼn belangrike regeringsvennoot, dien die universiteit die Malawiese bevolking deur die verskaffing van gehalte onderrig en innovasie deur navorsing vir die gesondheid en welstand van Malawi, die streek, en wyer. Deur navorsing genereer die universiteit bewyse wat regeringsbeleide en –praktyk inlig in die gesondheidsektor. KUHeS is ʼn internasionaal erkende instansie wat tans aan die stuur staan van die onderrig van stelselmatige oorsigte, bewysgebaseerde gesondheidsorg en die formulering van bewys-ingeligte gesondheidsriglyne in Malawi.

https://kcn.unima.mw/

 

NIPH, Noorweë

Die Noorweegse Instituut vir Openbare Gesondheid (NIPH) dien as ʼn nasionale bevoegdheidsinstansie wat direk onder die Ministerie van Gesondheid en –Sorgdienste geplaas is. Ons sosiale missie is om kennis en stelselmatige oorsigte te produseer wat bydra tot goeie openbare gesondheidspogings en gesondheidsorgdienste. Op hierdie manier dra ons by tot beter gesondheid in Noorweë en die res van die wêreld.

https://www.fhi.no/en/

 

Foto-erkenning: Bill Wegener/Unsplash