Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ooreenkoms om entstofoordragtegnologie te verbeter
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 11/04/2022

​Beter entstofoordragtegnologie kan ʼn sleutelrol speel om seker te maak dat individue toegang tot beter gesondheidsorg het.

Dít is die doelwit van ʼn groep navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Ingenieurswese en Impact Licensing Initiative, ʼn organisasie sonder winsbejag in België, wat aan ʼn projek sal saamwerk wat op die versnelling van die vernuwing van entstofoordragtegnologie (toestelle wat gebruik word om entstowwe oor te dra) sal fokus.

Die Universiteit, verteenwoordig deur prof Eugene Cloete, Vise-rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het op 7 April 2022 ʼn ooreenkoms onderteken met Impact Licensing Initiative, wat deur mnr Johan Moyersoen verteenwoordig is. Dié organisasie, wat deur die Vlaamse regering gefinansier word, het ten doel om tegnologieë op ʼn toeganklike en ekonomiese wyse aan gemeenskapsmarkte bekend te stel.

Mnr Jan Jambon, Minister-President van Vlaandere, het die ondertekening van die ooreenkoms by die Universiteit bygewoon. Hy het gesê hulle is opgewonde oor die ooreenkoms en om met die US saam te werk aan ʼn inisiatief wat gemeenskappe wêreldwyd sal baat.

Moyersoen het gesê entstowwe word tans vermors omdat dit nie teen die regte temperatuur geberg word nie. Die projek het ten doel om entstofoordragtegnologie te ontwikkel wat entstowwe vir lang tydperke koel kan hou en só vermorsing kan verhoed.

Projekfases

Die US se projekleier, prof Sara Grobbelaar van die Departement Bedryfsingenieurswese, het gesê die verbeterde tegnologie sal help bepaal of die koueketting gebreek is en of die produk aan die pasiënt gelewer is.  

“Baie entstowwe word vermors en dit is hoekom ons die uitkomsgebaseerde aspek bekyk om seker te maak wanneer finansierders vir die lewering van die hulpbron betaal dit die teikengroep bereik, pleks dat vir insette soos entstofflessies betaal word.

“Ons wil ook kyk hoe ons ʼn sosiale franchise-model kan skep, waar plaaslike maatskappye die tegnologie kan gebruik en aan dienslewering oor die “laaste myl" kan deelneem. Die langtermyn-inwerkingstellingsdoelwit is om te kyk na geïntegreerde inligtingstelsels wat laastemyl-aflewering deur tegnologie naspeur."

Die projek sal navorsings- en diensaktiwiteite inkorporeer en behels vier fases oor ʼn tydperk van twee jaar.

In die eerste fase sal die Universiteit met Vlaamse kollegas saamwerk om ʼn loodstoets van entstofoordragtegnologie in Suid-Afrika op te stel en te monitor; gevolg deur fase twee, wat op die implementering van die entstofoordragtegnologie en die konseptualisering van die uitkomsgebaseerde leweringsmodel sal fokus.

Die derde fase sal fokus op hoe om die inwerkingstelling van die inisiatief te lokaliseer. Die Universiteit sal as deel van hierdie fase ʼn implementeringsmodel saam met potensiële entrepreneurs en belanghebbers skep om die tegnologie en die verwante uitkomsgebaseerde leweringsmodel bekend te stel.

Gedurende die laaste fase sal die Universiteit ʼn lewensvatbaarheidstudie doen, met insette van die tegnologieverskaffers in Vlaandere en bedryfsvennote in Suid-Afrika, vir die vestiging van plaaslike vervaardiging en onderhoud van die kouekettingtegnologie. Die resultaat sal tegnologie- en vervaardigingsvereistes definieer, asook ʼn sakemodel vir beleggers.

Samewerking

Grobbelaar sê die projek sal ook samewering met kollegas in die Fakulteit behels. Dit sluit in prof Louis Louw (verskaffingskettingkundige) en dr Euodia Vermeulen (datawetenskapkundige), met insette van kollegas van die Departement Logistiek soos prof Leila Goedhals-Gerber (kouekettingkundige). Hulle het ook projekvennote geïdentifiseer – globale farmaseutiese maatskappye en logistiek-rolspelers – wat ondersteuning sal bied om die projekidees vir die verskaffingskettingintervensie te toets en te help implementeer.

Grobbelaar sê die projek vul die werk aan wat hulle in gesondheidstelselingenieurswese doen en sal toegang tot gesondheidsorg in Afrika verbeter.

“Ons wil seker maak dat mense medikasie betyds, in die regte hoeveelhede en in die regte toestand kan ontvang, wat baie belangrik is. Ons dink hierdie inisiatief sal help om kapasiteit in Suid-Afrika en by ons Universiteit te bou om te help met die ontwikkeling van tegnologieë, om die gebruik daarvan te toets, na die lewensvatbaarheid daarvan op lang termyn te kyk en om entrepreneursmodelle te skep om dit te ondersteun. Ons sal ook insig deur ons navorsing bekom, wat ons in die openbare domein en ten bate van die publiek sal kan publiseer."​

Signing agreement Launchlab and Belgium gov (3).JPG


Foto: Prof Eugene Cloete (Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies) en mnr Johan Moyersoen (Algemene Bestuurder: Impact Licensing Initiative) onderteken die ooreenkoms in die teenwoordigheid van dr Geraldine Reymenants (Algemene Verteenwoordiger van die Regering van Vlaandere in Suid-Afrika), mnr Jan Jambon (Minister-President van Vlaandere), mnr Didier Vanderhasselt (Ambassadeur,  Ambassade van Belgium in Pretoria), prof Sara Grobbelaar (Bedryfsingenieurswese), mnr Shane Bennet (Hoofuitvoerende Beampte: Snomaster) and prof Louis Louw (Bedryfsingenieurswese).  Foto: Sandra Mulder