Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rekord aantal PhD-graduandi in chemie en polimeerwetenskap
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 06/04/2022

​PhD-graduandi in Chemie en Polimeerwetenskap het hierdie week tydens die Fakulteit Natuurwetenskappe se April-gradeplegtigheid die kollig gesteel.

Die Fakulteit Natuurwetenskappe het vir die 2021 akademiese jaar altesaam 820 grade toegeken waarvan 495 BSc-, 175 HonsBSc-, 102 MSc- en 48 PhD-grade was. Uit die 48 PhDs vir 2021, het 20 doktorale studente uit die Departement Chemie en Polimeerwetenskap gekom.

Prof Peter Mallon, hoof van die departement, sê hulle is trots op al hulle PhD-studente wat daarin geslaag het om hulle studies te voltooi ten spyte van die feit dat die COVID-19-pandemieregulasies hulle navorsing ontwrig het: “Hierdie groep PhD-studente was van die eerstes wat in Augustus 2020 teruggekeer het kampus toe om onder baie streng COVID-19- protokols in die laboratorium hulle werk voort te sit.  

“Gegewe die aard van die navorsing en die vereiste sosiale afstande wat gehandhaaf moes word, was dit nie altyd maklik nie. Die feit dat hulle egter onder moeilike omstandighede navorsing van 'n hoë gehalte kon lewer en hulle graadstudies voltooi, is egter 'n bewys van hulle veerkragtigheid," sê hy.

Hulle navorsingsonderwerpe het gewissel van d​r Ndumiso Sibanda se werk oor die ontwikkeling van 'n nuwe metode waardeur lignien – 'n neweproduk van die papiervervaardigingsproses afgebreek kan word; tot die ontwikkeling van 'n omkeerbare hidrojel met toepassing as 'n manlike voorbehoedmiddel deur dr Leanne Kellerman; en dr Annick van Niekerk se navorsing oor die gebruik van metaalbevattende geneesmiddels as potensiële teenkankermiddels.

In 'n ander studie op die raakvlak van chemie en geneeskunde, het dr Marica Smit die gebruik van polimeerbedekte magnetiese nanopartikels ondersoek vir die behandeling van tuberkulose. Nadat die nanopartikels ingeasem is, kan dit die volgehoue vrystelling van geneesmiddels veroorsaak wat beteken dat dit moontlik die weg baan vir minder gereelde toediening van medikasie.

Oor die afgelope tien jaar het die Departement Chemie en Polimeerwetenskap 'n gemiddeld van 13 PhD-graduandi per jaar gelewer.  

Op die foto, van links na regs: Drs Rudolf Dreyer, Megan Matthews, Leanne Kellermann, Marica Smit, Ndumiso Sibanda en Joshua Hensberg. Foto: Stefan Els