Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-gegradueerde laat haar nie deur breingewasse onderkry nie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/04/2022

Elke nou en dan ontmoet 'n mens iemand wie se lewensverhaal werklik inspirerend is. Een so 'n persoon is dr Amy Martin van Durbanville. Haar wêreld is in haar tienerjare omvergegooi toe sy op 14, 17 en 18 met lewensgevaarlike breingewasse gediagnoseer is. Maar sy het geweier om tou op te gooi, het teruggeveg en het teen alle verwagtinge in die hoogste akademiese sport bereik toe sy onlangs haar doktorale studie in Antieke Kulture aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi het. Die 33-jarige ontvang vandeesweek (6 April) haar graad by die US se April-gradeplegtighede. Haar studie het op die idee van 'n vroulike poëtiese tradisie in die antieke Griekse literatuur gefokus.

Wat Martin se prestasie so merkwaardig maak, is dat sy slegs 75% van haar brein nog het ná veelvuldige operasies om die gewasse te verwyder. Sy het tans vier titanium-plate en 16 skroewe in haar skedel. Die gewasse het ook ernstige epilepsie en spierskade veroorsaak wat haar jare geneem het om te oorkom.

Martin sê dit was vir haar fisiek en emosioneel baie moeilik om in só 'n belangrike stadium van haar lewe met breingewasse gediagnoseer te word. Sy moes baie stres en trauma hanteer.

“Ek het aanvanklik baie gesukkel. Toe ek wakker word in die waakeenheid ná my operasies, kon ek nie my linkerarm beweeg nie. Volgens die dokters was daar 'n groot moontlikheid dat ek nooit die volle gebruik van die linkerkant van my liggaam sou herwin nie. So, toe gaan ek vir fisioterapie.

“Terwyl ek in die waakeenheid was, het ek mense van alle ouderdomme gesien sterf. Dit het vir my 'n nuwe perspektief op die lewe en dood gegee."

Weens haar mediese trauma, sê Martin sy het dikwels ver verwyderd van almal gevoel. “Ek was te bang om die huis te verlaat omdat ek bang was ek sou 'n toeval in die openbaar kry – wat wel gebeur het. Dit was moeilik, maar my gesin het my baie ondersteun."

Hierdie ondersteuning was uiters belangrik, aangesien dinge op hoërskool ná die diagnoses en operasies nie altyd voor die wind gegaan het vir haar nie.

Sy is geboelie weens haar kaalgeskeerde kop wat die groot litteken van die operasies oop en bloot gelaat het. Sy het ook aan ernstige epilepsie gely wat skade en vrees veroorsaak het. “Ek was voortdurend bang dat die volgende toeval sou kom. Dit was baie pynlik en my skoolpunte het ook daaronder gely.

“Aan die begin het ek, wanneer ek iets verspots wou doen, aanhoudend gewonder of dit maar net ek is en of die breingewas en die feit dat 25% van my brein weg was, die oorsaak is. Gelukkig het ek ook vriende gehad wat my aangepor het om beter te word en wat my daaraan herinner het dat hierdie siekte nie bepaal het wie ek is nie.

“Ek het mettertyd geleer dit is deel van my persoonlikheid, dit was deel van my. Dit het my gemaak wie ek vandag is en het my paadjie tot 'n sekere mate vir my uitgelê. Maar dit bepaal nie wie ek is nie en sal op geen manier vir my voorskryf oor waarheen ek met my toekoms op pad is nie. Ek het dus sterk gebly en myself herinner dat ek nog steeds in staat is om te kan doen wat ek ook al besluit ek wil doen."

Sukses op universiteit

Danksy haar veggees en deursettingsvermoë, het Martin haar hoërskoolopleiding voltooi en by die US ingeskryf om taal en kultuur te studeer. Nadat sy haar eerste graad behaal het, het sy vir twee jaar gaan Engels gee in Suid-Korea voordat sy teruggekom het om haar honneurs- en meestersgraad in Antieke Kulture aan die US te voltooi. Omdat sy haar tyd in Suid-Korea so baie geniet het, het sy teruggekeer soontoe om weer Engels te gaan gee. “Dit was 'n wonderlike geleentheid om verskillende kulture te leer ken, nuwe tale aan te leer en natuurlik om die wêreld vol te reis. En toe besluit ek om my doktorsgraad in Antieke Kulture aan te pak."

Amy kyk met genoegdoening terug op haar tyd by die US. Sy sê die akademie het weer vir haar mag gegee.  

“Ek het gesukkel om die situasie op hoërskool te hanteer, maar op universiteit het ek nuwe vriende gemaak en deel geword van die Stellenbosse gemeenskap. Hier het ek altyd baie aanmoediging en ondersteuning gekry om my drome na te strewe. Dit het my gehelp om al hierdie uitdagings te bowe te kom en die persoon te word wat ek vandag is."

Sy voeg ook by: “Op universiteit het dit amper vir my gevoel ek is vrygelaat van die akademiese ruimte op hoërskool, want ek kon self besluit watter rigting ek met my studies wou inslaan en waaroor ek passievol is. Ek het eintlik werklik eers begin uitblink in my nagraadse studie. Ek het myself aangedryf om elke keer die beste in my klas te wees."

Martin sê elke keer wat sy die beste gevaar het, het dit haar daaraan herinner dat sy steeds heeltemal in staat is om in die akademie uit te blink en dat sy dit ondanks die breinoperasies en die trauma daarna kon doen.

“Ek het altyd genoop gevoel om aan almal te bewys dat ek ten spyte van my ernstige breintrauma steeds my drome kan verwesenlik."

Omdat sy as tiener so swaargekry het, het Martin geleer om een tree op 'n slag te neem en om nie te veel eise aan haarself op een slag te stel nie. “Ek is stadig maar seker besig om myself te herbou en om my swak plekke te aanvaar." In plaas daarvan om op die goed te fokus wat sy nog nie bereik het nie, probeer sy eerder dít wat sy reeds bereik het, te geniet. “Enigiets kan oorwin word as jy net volhard, selfs wanneer jy voor uiterste uitdagings te staan kom."

Martin hoop van harte haar verhaal sal as inspirasie dien vir mense wat moontlik soortgelyke uitdagings moet oorkom, of wat sukkel om die lewe oor die algemeen te hanteer.

“Ek het geleer om groter deernis te hê vir mense wat sukkel, veral mense wat met kanker gediagnoseer is, want ek was self daar en ek weet hoe moeilik dit kan wees.

“Daar is niks fout daarmee om soms 'n bietjie neerslagtig te voel of om soms te twyfel en bang te wees vir die toekoms nie, want ons kom voor soveel uitdagings te staan."

Wanneer sy nie besig is om te leer nie, geniet Martin dit om te gaan draf. “Draf hou my fiks en skerp. Ek geniet dit ook om te lees, veral boeke oor die antieke wêreld. En om fliek te kyk, ek is versot op Netflix. En ek is op die oomblik besig om Koreaans aan te leer."

Met haar doktorsgraad agter haar naam, is Martin besig om weer vir onderwysposte in Suid-Korea aansoek te doen. Sy wil nog baie reis en die talle antieke plekke in Griekeland en Italië besoek. “Die antieke wêreld het my nog altyd gefassineer."

  • ​Foto: Dr Amy Martin by die gradeplegtigheid. Fotograaf: Stefan Els