Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Klimaatslim tuinboupraktyke kan Afrika se voedselsekuriteituitdagings die hoof bied
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 29/03/2022

​Die klimaatslim opsie om vars produkte in kweekhuise te verbou, behoort op groter skaal plaas te vind ten einde die voedselsekuriteituitdagings wat Suid-Afrika en Afrika in die gesig staar, die hoof te bied.

So het Dr Nkosinathi Sishi, direkteurgeneraal van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, gesê by die bekendstelling van 'n moderne waterslim kweekhuis en -tonnel by die Mashamba-kampus van die Vhembe Tegniese Kollege vir Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (TBOO-kollege) in die verre noorde van die Limpopo-provinsie.

Die amptelike oorhandiging wat op Donderdag 17 Februarie 2022 plaasgevind het, is gevier met 'n tentoonstelling van vars komkommers, groenbone en klein tamatietjies – die opbrengs van 'n aantal tuinbou-loodsaktiwiteite in die kweekhuis oor die afgelope paar maande.

Die kweekhuis is deel van 'n deurlopende samewerkingsprojek tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en die Maastricht Bestuurskool ten einde die vaardighede van TBOO-personeel en studente uit te bou ten opsigte van die optimale gebruik van water en klimaatslim landboupraktyke in Suid-Afrika. Die projek maak deel uit van die Orange Knowledge programme wat gefinansier word deur die Nederlandse Universiteitestigting vir Internasionale Samewerking deur die Nederlandse Ministerie van Buitelandse Sake. Verskeie TBOO-kolleges in Suid-Afrika is deel van hierdie projek.

Me Basani Rashley Hlekane, hoof van die Vhembe Kollege, sê die projek sal kollegedosente bemagtig en die aanstelbaarheid van hulle studente 'n hupstoot gee.

Mnr Manuel Jackson, projekbestuurder by die Universiteit Stellenbosch, sê 'n behoeftebepalingstudie wat van Desember 2019 tot Januarie 2020 uitgevoer is, het 'n tekort aan mense met die nodige vaardighede om in waterslim agrituinbou in die privaat tuinbousektor te werk, uitgelig.

Die nuwe kweekhuis op die Mashambe-kampus maak deel uit van 'n openbare sektor-privaat-vennootskap ondersteuningstruktuur in die streek. Hierdie struktuur sal op sy beurt ondersteun word deur 'n Suid-Afrikaans-Nederlandse Drieledige Heliksplatform, wat belanghebbendes van die onderwyssektore, asook die privaat en openbare sektore insluit, verduidelik Mnr Jackson.

Die volgende stap in hierdie projek is om die aktiwiteite in die kweekhuis te belyn met die inkubasiesentrum by die Makwarela-kampus van die Vhembe Kollege. Dit sluit 'n Sentrum vir Inkubasie en Entrepreneurship, die 4IR Sentrum, die Sentrum vir Gestremdheid en die HP Lewenssentrum in.

Die tegniese oorhandiging is ook bygewoon deur Mnr Frans Ramonyatse, waarnemende streeksbestuurder by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, Me Dithuso Monare, ondervoorsitter van die Vhembe Kollegeraad, Dr Letsoalo Bertha, uitvoerende bestuurder van AgriSETA, en die tradisionele leier Vhamusanda Vho Mashamba en verteenwoordigers van die plaaslike Mashamba-stam.

Tydens die bekendstelling het Mnr Jackson en Dr Rykie van der Westhuizen, 'n oesproduksiespesialis, die afgevaardigdes op 'n tegniese toer deur die fasiliteite geneem. 

Op die foto's bo: Me Basani Rashley Hlekane, hoof van die Vhembe Kollege, en Dr Nkosinathi Sishi, direkteurgeneraal van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.