Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kom ons trek maroen aan en verwelkom die Absa Cape Epic-deelnemers op Coetzenburg
Outeur: Petro Mostert
Gepubliseer: 25/03/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) is die naweek gasheer vir die Absa Cape Epic, die grootste bergfietswedren in sy soort ter wêreld – by ʼn wedrendorpie wat spesiaal vir die geleentheid opgerig is op die Coetzenburg-sportgronde.

“Fondsinsameling om studente te help is 'n trotse Matie-tradisie met personeellede wat graag betrokke wil raak. Ek is ongelooflik trots op Robert van Staden van ons Fakulteit Opvoedkunde en Francois Swart van Fasiliteitsbestuur wat tans die Absa Cape Epic ry," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch.

“Ek doen elke jaar die Kaapstad-fietstoer saam met kollegas, studente, alumni en vriende. Hierdie jaar, moet ek erken, het ek 'n bietjie swaargekry! Maar dit is 'n vulletjie in vergelyking met die Epic. Robert en Francois ry hierdie wedren van 657 km oor 8 dae, met 16 900 m se klim. Dis uitmergelend, maar hulle doen dit vir 'n goeie doel: #move4food, die US se veldtog om fondse in te samel om voedselsekerheid vir ons studente te verbeter.

“Oorweeg dit asseblief om aan hierdie verdienstelike veldtog te skenk by https://www.givengain.com/ap/francois-robert/​.

“Ek is opgewonde dat die Universiteit Stellenbosch die Cape Epic van Vrydag, 25 Maart tot Sondag, 27 Maart 2022, op die pragtige Coetzenburg huisves. So Maties, kom saam en ondersteun die deelnemers, dra maroen dra en wys jou trots," sê prof De Villiers.

Die ryers arriveer Vrydagmiddag te Coetzenburg, vertrek Saterdagoggend en keer weer terug die middag, en vertrek Sondagoggend op die laaste been van die resies.

Gaan na www.cape-epic.com om die wedren te volg. Jy kan ook die Epic Series-toepassing in die Appstore aflaai en Francois en Robert op hul wedloop tot Sondag by die einde by Val de Vie-landgoed in die Paarl te volg.