Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorste FGGW-wetenskaplikes op die rooi tapyt
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Ilse Bigalke
Gepubliseer: 24/03/2022

Vier voorste wetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het onlangs prestigeryke toekennings ontvang ter erkenning van die diepgaande impak wat hul navorsing op die lewe en gesondheid van Suid-Afrikaners gehad het.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) het op 10 Maart die FGGW se prof Marlo Möller (silwer toekenning), profs Tulio de Oliveira en Grant Theron (goue toekenning), asook prof Andre Kengne, ʼn buitengewone professor aan die FGGW (platinum toekenning), by sy 8ste Wetenskaplike Merietetoekenningsgeleentheid by sy hoofkantoor in Kaapstad vereer.

Prof Glenda Gray, president en uitvoerende hoof van die SAMNR, het die oorwegend virtuele gehoor meegedeel dat wetenskaplike navorsing van deurslaggewende belang bly om Suid-Afrika se siektelas te verklein en sterftes te voorkom. “Die kennis wat deur hierdie uitsonderlike wetenskaplikes gegenereer word, sal ons land se wetenskap-nalatenskap vorentoe neem en aanhou om die lewe van burgers te verbeter, soos uit Covid-19 blyk."

Sy het bygevoeg dat hul werk van die land se vindingrykheid getuig en gesê “dit was wetenskaplikes in Suid-Afrika wat die Omicron-variant, wat vinnig die dominante kommerwekkende variant geword het, ontdek en die wêreld daaroor gewaarsku het."

Die ontvangers van die SAMNR-toekennings in alle kategorieë is verlede jaar deur ʼn openbare nominasieproses geïdentifiseer en is deur die SAMNR se Toekenningbenoemingskomitee beoordeel. 

Prof Marlo Möller (silwer medalje)

In haar aanvaardingstoespraak het Möller, Hoof van die Navorsingsgroep vir TB-gasheergenetika in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika van die FGGW, haar span bedank. “Navorsing is deur en deur ʼn spanpoging en ek voel so bevoorreg om hierdie toekenning namens die Navorsingsgroep vir TB-gasheergenetika te ontvang."

Sy het voorts die belangrikheid van hulpbronne in die stryd teen TB benadruk en die aandag gevestig op die herdenking van Wêreld-TB-dag op 24 Maart, met die tema “Belê in TB en red lewens". “Ons moet hulpbronne belê in die stryd teen hierdie verskriklike siekte om wêreldleiers se ondernemings om hierdie pandemie te beëindig ʼn werklikheid te maak," het sy die gehoor meegedeel.

Die SAMNR se silwer medalje word toegeken aan opkomende wetenskaplikes en wetenskaplikes wat die ontwikkeling van kapasiteit ten doel het. Kriteria sluit in bydraes wat ʼn impak op gesondheid in veral ontwikkelende lande het.

Möller se primêre navorsingsfokus is om die menslike genetiese onderstutting van aansteeklike siektes, veral TB, te vind. Belangrike navorsingsonderwerpe sluit in algemene genetiese variante wat die algemene bevolking vir pulmonêre TB vatbaar maak, asook individue wat ekstreme vorme van TB-weerstandigheid en -vatbaarheid toon.

Sy het ʼn C3-navorsingsgradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en het al etlike toekennings verwerf, insluitende die NNS-navorsingsloopbaantoekenning en die US-rektor se toekenning vir algemene prestasie. Haar kwalifikasies sluit ʼn PhD in mediese biochemie in. Sy is ook ʼn lid van die SAMNR se Sentrum vir Tuberkulosenavorsing.

Kyk ʼn YouTube-video van Möller se navorsing en nominasie hier. 

Prof Tulio de Oliveira (goue medalje)

“Hierdie is net die begin. Ek dink regtig Suid-Afrika gaan die leiding in die wêreld neem wat aansteeklike siektes betref," het dié wêreldbekende wetenskaplike in bio-informatika voorspel nadat hy ʼn medalje in die goue kategorie in ontvangs geneem het.

Dié medalje word toegeken aan gevestigde senior wetenskaplikes wat omvattende en invloedryke bydraes tot gesondheid gelewer het. Die kriteria vir hierdie toekenning sluit in ʼn onlangse uitsonderlike prestasie, deurbraak of bydrae tot navorsing wat internasionaal erken word. Hierdie bydrae moet die prestige van Suid-Afrikaanse mediese navorsing ooglopend bevorder en mediese kennis uitbrei.

Volgens die SAMNR sal ʼn poging in 2022 om De Oliveira in een sin te beskryf, waarskynlik soos volg lui: “die man wat die identifisering van die kommerwekkende SARS-CoV-2-variante Beta en Omicron in Suid-Afrika gefasiliteer het … maar hierdie beskrywing begin nie eens om die omvang van sy reis te ontgin nie".

In die onlangse verlede het De Oliveira, wat sy hele loopbaan lank met virusuitbrekings gewerk het, sy plek as een van die top-wetenskaplikes in die voorste linie van Suid-Afrika se stryd teen Covid-19 gevestig. Hy het met voorste navorsingsorganisasies saamgewerk om die Netwerk vir Genomiese Oorsig in Suid-Afrika (NGO-SA) te skep, wat reeds in Maart 2020 genome begin produseer het en die volgordebepaling van die eerste Covid-19-geval in Suid-Afrika gedoen het.

Hy lei op verskillende gebiede – onder meer as professor van bio-informatika aan die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, asook as Direkteur van die FGGW se voorgestelde Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie.

In sy aanvaardingstoespraak het De Oliveira verwys na die pogings in samewerking met die SAMNR om ʼn Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie te skep wat die status quo kan uitdaag en Suid-Afrika en Afrika werklik in leiers op wetenskaplike gebied kan omskep.

“Die afgelope twee jaar was uiters besig, maar dit is opwindend om te sien hoe Suid-Afrika regtig saamgestaan het om bykans die wêreld in wetenskaplike navorsing te lei," het hy gesê.

Kyk ʼn YouTube-video van De Oliveira se navorsing en nominasie hier. 

Prof Grant Theron (goue medalje)

Theron, professor in molekulêre biologie en menslike genetika in die FGGW se Afdeling Molekulêre Biologie en Menslike Genetika, is ook ʼn lid van die DST/NNS-sentrum vir Uitnemendheid in Tuberkulosenavorsing en die SAMNR se Sentrum vir Tuberkulosenavorsing, wat albei by die FGGW gesetel is.

Theron spog met ʼn P-gradering van die NNS (die hoogste gradering wat vir navorsers jonger as 35 jaar beskikbaar is).

Sy kernnavorsingsbelangstellings is die ontwerp en veldevaluasie van verbeterde diagnostiek vir tuberkulose en middelweerstandigheid, die oordrag en aërobiologie van tuberkulose (insluitend weerstandige tuberkulose), asook meer onlangs die mikrobioom in die konteks van tuberkulose.

Hy was aan die spits van etlike projekte oor tuberkulosediagnostiek, waarvan die impak op langtermyn-pasiëntuitkomste gemeet is. Etlike genootskappe is aan hom toegeken, hy het in ʼn relatief kort tydperk sowat 60 artikels in internasionale eweknie-beoordeelde joernale gepubliseer en hy het een patent geregistreer.

Hy is in 2014 deur die Mail & Guardian as een van die Top-200 Jong Suid-Afrikaners benoem en sy uitsonderlike werk is met internasionale erkennings bekroon, insluitend die Gertrud Meisner-toekenning van die Europese Vereniging van Mikobakteriologie; die TW Kambule- Opkomende Navorserstoekenning van die NSTF-BHP Billiton; en die Meiring Naudé-medalje vir uitstaande vroeëloopbaan-bydraes ter bevordering van wetenskap van die Royal Society of South Africa.

Theron is ʼn lid van etlike plaaslike en internasionale organisasies, onder meer die Amerikaanse Vereniging van Mikrobiologie en die Europese Vereniging vir Mikobakteriologie.

Theron het al die ontvangers van SAMNR-toekennings in sy aanvaardingstoespraak bedank: “Dit was regtig ʼn paar moeilike jare om ʼn wetenskaplike te wees, veral as jou navorsing nie direk met Covid verband hou nie."

Kyk ʼn YouTube-video van Theron se navorsing en nominasie hier.

Prof Andre Pascal Kengne (platinum medalje)

Die SAMNR se platinum medalje is toegeken aan Kengne, ʼn internasionaal gerekende epidemioloog in nie-oordraagbare siektes.

Kengne het ʼn PhD aan die Sydney-universiteit in Australië verwerf. Sy hooffokus is op kardiovaskulêre siektes, diabetes, metaboliese siektes en chroniese niersiektes. Hy is tans Direkteur van die SAMNR se Navorsingseenheid vir Nie-Oordraagbare Siektes en is ook professor in geneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad én buitengewone professor van Globale Gesondheid aan die US se FGGW.

Platinum medaljes word toegeken aan bekwame Suid-Afrikaanse wetenskaplikes vir hul uitstaande lewenslange wetenskaplike prestasies op gesondheidsgebied wat die profiel van Suid-Afrikaanse wetenskap verhoog het en wat ten bate van toekomstige generasies aan die fondasies van gesondheidsnavorsing in die land help bou het.

In die loop van Kengne se reis het hy talle eweknie-beoordeelde artikels, hoofstukke van boeke en monografieë oor chroniese siektes in Afrika en op ʼn globale vlak gepubliseer.

Sy reuse bydrae tot navorsing het hom veelvuldige toekennings en erkenning van internasionale liggame besorg, insluitende die Sir Alberti-toekenning vir uitnemendheid in navorsing oor diabetes in Afrika, die SAMNR- Goue Toekenning vir Wetenskaplike Uitnemendheid en die International Society of Hypertension Research Scholar Award.

In sy aanvaardingstoespraak het Kengne hulde gebring aan almal wat hom op sy wetenskapsreis ondersteun het, insluitende sy gesin, vriende en kollegas wêreldwyd.

Kyk ʼn YouTube-video van Kengne se navorsing en nominasie hier.

 

Bykomende bron: SAMNR

 

Onderskrif: Proff Grant Theron, Marlo Moller, Andre Kengne en Tulio de Oliveira ontvang hulle onderskeie toekennings tydens die SAMNR se 8ste Wetenskaplike Merietetoekenningseremonie.