Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreld TB-dag: Ons moet die gaping tussen beleid en praktyk vir kinders en adolessente met TB in SA vernou
Outeur: Karen du Preez & Marieke van der Zalm
Gepubliseer: 24/03/2022

Donderdag (24 Maart) is Wêreldtuberkulosedag. In ʼn meningsartikel vir Health24, skryf drr Karen du Preez & Marieke van der Zalm (Desmond Tutu TB-sentrum/Departement Pediatrie en Kindergesondheid ) dat ons dringend prioriteite moet uitstippel en alle belanghebbendes moet kry om saam te werk ten einde die oorblywende gapings tussen beleid en praktyk vir kinder- en adolessente TB in Suid-Afrika te verklein.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Karen du Preez & Marieke van der Zalm*

Ons vier op 24 Maart die jaarlikse Wêreldtuberkulosedag wat die ideale geleentheid bied om na te dink oor die vordering wat gemaak is ten opsigte van die beheer van tuberkulose (TB) en om die orige prioriteite uit te lig om die las en algehele impak van die siekte te verlig. Ondanks groot vordering wat die afgelope dekade gemaak is om TB-sorg aan kinders te verbeter, kry meer as 'n miljoen kinders wêreldwyd elke jaar steeds TB. In 2020 is minder as die helfte van die geskatte aantal kinders wat TB opgedoen het, gediagnoseer en behandel, met die gevolg dat amper 700 000 kinders wêreldwyd nie TB-sorg ontvang het nie. Die ontwrigting van roetine gesondheidsdienste weens Covid-19 het 'n verdere vernietigende uitwerking op TB-sorg wêreldwyd gehad en sal na verwagting voortgaan om die gapings tussen TB-diagnose en -behandeling te vergroot.

Tuberkulose kan voorkom en doeltreffend behandel word; tog sterf meer as 600 kinders elke dag weens hierdie siekte. Dit is ook grootste oorsaak van sterftes weens aansteeklike siektes onder kinders van alle ouderdomme. TB-sterftes het in 2020 vir die eerste keer in meer as 'n dekade toegeneem weens die negatiewe impak van Covid-19 op roetine gesondheidsdienste. In die lig van vanjaar se tema vir Wêreldtuberkulosedag, “Invest to END TB. Save Lives" (Belê om TB te beëindig. Red lewens), is meer befondsing en verbintenis nodig om kinders en adolessente met TB se lewens te red.

Suid-Afrika het 'n baie hoë TB-las met 'n geskatte 328 000 mense wat in 2020 TB ontwikkel het. Hiervan was 30 000 kinders jonger as 15 jaar, maar slegs 16 500 kinders is gediagnoseer en aangemeld vir die begin van hul behandeling. Amper een uit elke twee kinders met TB in Suid-Afrika is dus nie óf gediagnoseer, óf behandel, óf aangemeld nie.

Waarheen nou? 

Ons is in Suid-Afrika in die gelukkige posisie om sterk ondersteuning van die nasionale departement van gesondheid te ontvang vir die uitbreiding van TB-dienste vir kinders en adolessente. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het boonop ook onlangs bygewerkte riglyne oor die bestuur van tuberkulose in kinders en adolessente bekendgestel, met 'n bykomende bedryfshandboek om lande met die praktiese implementering te help.

Ons eerste stap moet die hersiening van die 2013 Suid-Afrikaanse TB-riglyne vir kinders wees om die jongste aanbevelings in te sluit en daar moet met die verskillende belanghebbendes saamgewerk word om hierdie veranderinge in werking te stel. Burgerlike organisasies en TB-aktiviste kan ook help om 'n harder stem vir kinders en adolessente te skep. Dit is moontlik om die ambisieuse “Beëindig TB-doelwitte" te haal, maar ons het ernstige toewyding en medewerking nodig om die gapings tussen beleid en praktyk te verklein en om Covid-19 se negatiewe invloed op TB-sorg vir Suid-Afrikaanse kinders en adolessente teen te werk.

  • Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.

*Dr Karen du Preez is 'n senior navorser en dr Marieke van der Zalm 'n medeprofessor by die Desmond Tutu TB-sentrum/Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch.