Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se innoverende aanlyn leerplatform vir hoërskoolleerders bekendgestel
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 18/03/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn vindingryke aanlyn leer- en onderrigplatform bekend gestel wat daarop gemik is om hoërskoolleerders en hul onderwysers in die Verdere Onderwys- en Opleidingfase (gr 10, 11 en 12) te ondersteun.

US Advantage is van enige slimtoestel toeganklik en kombineer kort, doeltreffende leerinhoud met lewendige, interaktiewe onderrigsteun wat gefokus is op die belangrikste onderwerpe wat leerders moet verstaan om hul begrip te verbeter van sleutellesse wat in die klas aangebied word.

Die US Advantage-platform is gisteraand (17 Maart) amptelik bekend gestel by STIAS op Stellenbosch. Gaste wat die geleentheid bygewoon het, prof Thuli Madonsela (bekleër van die leerstoel vir Sosiale Geregtigheid aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid), prof Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel), dr Benedict Khoboli (Direkteur: US Sentrum vir Pedagogie of SUNSEP) wat aan die spits van hierdie inisiatief is, en prof Mbulungeni Madiba (Dekaan: Fakulteit Opvoedkunde).

Prof Madonsela het die gaste se entoesiasme en ondersteuning vir die aanlyn leer platform in haar geleentheidtoespraak bevestig deur te sê dat US Advantage op maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika sal bou. “US Advantage kan hoofsaaklik tot maatskaplike geregtigheid bydra deur toegang tot opvoedkundige inligting en kennis te bevorder wat die gaping sal oorbrug en die isolasie van so baie histories benadeelde kinders en opvoeders sal verminder," het Madonsela gesê.

“Baie jong leerders kry nou toegang tot onderwys. US Advantage is een van verskeie boustene om die ekonomiese onderwysongelykhede uit die weg te ruim," het sy gesê.

Ter ondersteuning van Madonsela se waarneming is die platform se onderwysondersteuning nie net maklik toeganklik nie, maar fokus dit ook op 11 skoolvakke. Hierdie vakke word in Engels aangebied. Dit bestaan uit videolesse in ʼn kort formaat, onderwerpgebaseerde assesserings en vraagsessies, gekonsolideerde werkboeke, memo-gebaseerde rekonsiliasie en in-diepte lewende lesse.

“Die US het besluit om hierdie toeganklike aanlyn oplossing te skep teen die agtergrond van die huidige uitdagings van die land se onderwysstelsel en die ekonomiese impak wat Covid-19 op baie gesinne gehad het," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US. “Ons Visie 2040 lui onder meer dat ons inklusief en innoverend is en kennis in diens van die samelewing bevorder. ʼn Inisiatief soos US Advantage is in perfekte ooreenstemming met ons visie en sal ʼn positiewe impak hê in die gemeenskappe wat ons dien."

“Onderwysers verkeer onder toenemende druk om slaagkoerse en leerderprestasie te verhoog. Maar die realiteit is dat hulpbronne beperk is en klaskamers eenvoudig te vol is om aan al die behoeftes van leerders te voldoen," sê Khoboli.

“Navorsing dui daarop dat hierdie uitdagings meegebring het dat tot 48% van Suid-Afrikaanse hoërskoolleerders nie met hul skoolprestasie tevrede is nie. Uit hierdie groep het 40% van leerders hul onbevredigende prestasie aan onvoldoende individuele aandag in die klas toegeskryf.[1] Die situasie kan nou selfs erger wees met die sluiting van skole en die ontwrigting van onderrig en leer wat lei tot die ommekeer van winste wat die afgelope 20 jaar gemaak is. Tussen 50% en 75% van 'n normale jaar se leerwaarde het gedurende 2020 verlore gegaan[2]​.

“Ons doelwit is nie om tradisionele hoofstroomonderwys te vervang nie en US Advantage is dus nie ʼn aanlyn skool nie," voeg Khoboli by. “Dit het eerder ten doel om dít waaraan leerders in klaskamers blootgestel word, aan te vul en te versterk. Dit is wat met aanvullende onderwys bedoel word." 

Die inhoud en hulpbronne vir die platform is in ooreenstemming met algemeen aanvaarde pedagogiese beginsels ontwikkel, verduidelik Khoboli. “Alle hulpbronne wat op die platform beskikbaar is, is deur ervare opvoeders geskep – onderwysers wat in hul loopbane uitgeblink het. Eenvoudig gestel is die leermateriaal wat op SU Advantage beskikbaar is, van hoë gehalte en so ontwerp dat dit holistiese begrip by leerders verseker.

“Gerugsteun deur SUNCEP se jarelange ondervinding met leerderverbeteringsprogramme in die VOO-fase, word US Advantage nou in die ope mark beskikbaar gestel en kan dit gebruik word deur enige leerder wat op die platform inteken. “Covid-19 het die geleentheid gebring om die program te verfyn en uit te brei en aan te pas om van toepassing te wees vir 'n massamark," verduidelik dr Khoboli.

US Advantage is toekomsgerig en is nie bloot ʼn korttermyn-oplossing vir leerders nie. Inteendeel, dit is geskep om leerders te help om beter op skool te presteer, maar ook in die lewe daarna en in hul toekomstige beroepe. Die einddoel is opwaartse ekonomiese mobiliteit.

“Ons het dit ons mandaat gemaak om tersiêre opvoeding ʼn realiteit vir meer Suid-Afrikaanse jeugdiges te maak. Deur grondslagsteun aan hoërskoolleerders in die senior fases van hul onderrigreis te bied kan US Advantage hulle help om by tersiêre onderwysinstellings aanvaar te word," voeg Khoboli by. 

US Advantage bied trouens ʼn reeks loopbaanvoorligtingsinstrumente wat leerders help met ʼn algemene oorsig van wat presies van hulle vereis word om hul drome na te jaag. Dit sluit aanlyn aanlegtoetse in, wat naatloos met die US se beskikbare kursusse geïntegreer is sodat leerders ʼn duidelike idee kan kry van die studievelde wat die beste by hul persoonlikheid en skoolprestasie pas.

Ouers en leerders kan registreer om US Advantage te gebruik deur www.suadvantage.co.za  te besoek, terwyl die sakegemeenskap en private skenkers ook uitgenooi word om met SUNCEP saam te werk om die gemeenskap van VOO-leerders van skole met beperkte hulpbronne toegang tot SU Advantage te bied en sodoende opvoedkundige ondersteuning in Suid-Afrika te demokratiseer.

  • Klankgrepe (Prof Wim de Villiers en dr Benedict Khoboli) foto's en video's is hier beskikbaar.
  • Die geleentheid kan hier regstreeks gevolg word.



[1] Maritz, R., Mogari, D. en Coetzee, H., 2009. Investigating the status of supplementary tuition in the teaching and learning of mathematics. Pythagoras, 2009(69), pp.36-45. [2] https://www.gov.za/speeches/basic-education-concerned-level-learning-losses-suffered-due-covid-19-19-aug-2021-0000