Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ekolandgoedere ‘dra nie by tot billike volhoubaarheid nie’
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 15/03/2022

Bevorder ekolandgoedere of “groen" omheinde gemeenskappe in Suid-Afrika ekonomiese en maatskaplike volhoubaarheid, of is die fokus net op omgewingsvolhoubaarheid? Is hulle bloot eilande van volhoubaarheid of dra hulle inderdaad tot die breër volhoubaarheid van stedelike gebiede by?

Hierdie is net ʼn paar van die vrae wat Anjali Mistry en dr Manfred Spocter van die Departement Geografie en Omgewingstudies aan die Universiteit Stellenbosch probeer beantwoord het in ʼn studie wat onlangs in Local Environment gepubliseer is. Mistry en Spocter het ekolandgoedere in Suid-Afrika bestudeer om vas te stel of hulle inderdaad tot billike volhoubaarheid bydra.

Die navorsers sê daar word aangevoer dat ekolandgoedere of “groen" lewenstyllandgoedere danksy verskeie ontwerpeienskappe tot die vergroening van die beboude omgewing bydra; dat hulle ʼn rol in die bewaring van skaars natuurlike hulpbronne speel; asook dat hulle groter volhoubaarheid bevorder deurdat in harmonie met die natuur geleef word.

“Maar ons het gevind dat al word ekolandgoedere voorgehou as die antwoord op die nadelige maatskaplike, ekonomiese en omgewingsimpak wat omheinde gemeenskappe het, het hulle nie daarin geslaag om tot billike volhoubaarheid (volhoubare ontwikkeling wat ook op maatskaplike en ekonomiese gelykheid fokus) by te dra nie.

“Voordele soos sekuriteit, eksklusiwiteit en oop ruimtes baat net diegene binne die ekolandgoedere, beslis nie die breër gemeenskap of die omgewing as geheel nie. Só doen ekolandgoedere baie min om menslike ongelykhede en ware maatskaplike behoeftes aan te pak. Daar is geen billike volhoubaarhede nie.

“Die inherent uitsluitende maatskaplike, ekonomiese en omgewingsaard van ekolandgoedere strook nie met ʼn billike volhoubaarheid waar omgewingsgehalte en menslike gelykheid verweef is nie. Omgewingsgehalte en menslike gelykheid kan nie van mekaar geskei óf as twee individuele komponente beskou word nie."

Volgens die navorsers sal billike volhoubaarhede in ekolandgoedere ʼn hersenskim bly tensy ingrypings in werking gestel word om toegang tot die natuur en ʼn volhoubare lewenswyse te verbreed. “Tot dan sal ekolandgoedere eilande van uitsluiting van die natuur en van ʼn 'groen' lewenswyse bly."

Hulle wys daarop dat daar 68 operasionele private ekolandgoedere in 2018 was, bestaande uit landgoedere wat doelbewus “ekolandgoedere" genoem word en ander wat as ekovriendelik bemark word, met ʼn verdere 46 sulke landgoedere wat nasionaal beplan word. Dié 114 ekolandgoedere is in en om Kaapstad en Johannesburg gekonsentreer en gegroepeer. 72% van alle geboude en beplande ekolandgoedere kom in vier van die nege provinsies voor (die Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal en Limpopo).

Die navorsers voer aan hierdie landgoedere kan moontlik van die omgewingsimpakte van ontwikkeling teenwerk en versag deur “natuurlike" grond te beskerm, maar hulle het die natuur gekommodifiseer deur hierdie grond te beskerm en dít is geensins volhoubaar nie.

“'n Markwaarde word toegeken aan die lewensgehalte wat ekolandgoedere bied, asook aan die natuur wat na bewering 'bewaar' word. Eiendomsontwikkelaars misbruik die terme 'eko' en 'volhoubaar' vir bemarkingsdoeleindes en pleeg sodanig groenpoetsery om ʼn vals indruk oor volhoubare ontwikkeling te skep.

“Landbou-aktiwiteite in ekolandgoedere is voorts verbode, wat op ʼn baie 'selektiewe volhoubaarheid' dui. Dit versterk die argument dat sulke landgoedere nie aan die idee van 'billike volhoubaarhede' voldoen nie.

“As kos in hierdie landgoedere geproduseer word, behoort dit aan mense buite die landgoed beskikbaar gestel te word. Dít lyk na ʼn belowende manier waarop ekolandgoedere inklusief kan word en tot ʼn billike volhoubaarheid kan bydra."

Al beskik ekolandgoedere oor meganismes om afhanklikheid van munisipale dienste te verminder, dra hulle ook tot stadspreiding by. Dit hou verdere omgewingsuitdagings en kopsere vir stadsbeplanners in, voeg die navorsers by.

“Die opgradering van infrastruktuur om vir hierdie ontwikkelings voorsiening te maak, soos die wyer maak van paaie, hoër besoedelingsvlakke en veranderinge in die mikroklimaat wanneer bome en ander plantegroei verwyder word, bring ʼn verdere verlies aan natuurlike kapitaal mee."

Natuurlike kapitaal verwys na die natuurlike hulpbronne en dienste wat die ekostelsel bied en tot klimaatregulering en die koolstofsiklus bydra, wat lewensiklusse op die duur in staat stel om op ʼn volhoubare manier voort te gaan.

Volgens die navorsers kan die maatskaplike, ekonomiese en omgewingsinvloede van omheinde gemeenskappe die volhoubaarheid en etiese geloofwaardigheid van enige tipe omheinde gemeenskap in Suid-Arika drasties raak.

Hulle voeg by die gebrek aan duidelikheid oor wat ʼn ekolandgoed behels, sal aanhou om ʼn verreikende invloed te hê op die manier waarop ekolandgoedere ontwikkel en bemark word.

  • BRON: Anjali Mistry & Manfred Spocter (2022): Just sustainabilities: the case of eco-estates in South Africa, Local Environment. DOI: 10.1080/13549839.2022.2027352