Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ekonomiestudent Tiaan de Swardt wen begrotingsrede-kompetisie
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 07/03/2022

Ekonomiestudente Tiaan de Swardt en Ryan Young het die tradisie van uitnemendheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) voortgesit toe hulle toppryse ontvang het in Nedbank en Ou Mutual se 50ste begrotingsredekompetisie wat onlangs in Kaapstad gehou is.

De Swardt het die eerste prys van R150 000 ingepalm as die wenner van die nagraadse kategorie van die kompetisie. Young het R20 000 vir sy derde plek in die voorgraadse kategorie ontvang.

Hierdie jaarlikse kompetisie, wat sedert 1972 gehou word, gee talentvolle ekonomiestudente van al die erkende Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings die geleentheid om die Minister van Finansies advies te gee oor dringende kwessies in die ekonomie en samelewing.

Om te wen, moes die 19 finaliste, wat gedurende die begrotingsweek (21 tot 24 Februarie) in Kaapstad gehuisves is, 'n opstel oor 'n voorafbepaalde onderwerp skryf. Hulle moes ook die beoordelaars beïndruk met hul begrip van die ekonomie tydens 'n paneelonderhoud.

In sy opstel het De Swardt die skuldwanbetalingsrisiko in Suid-Afrika en die moontlike gevolge daarvan bespreek. Sy argument het verskeie risiko's vir 'n soewereine skuldwanbetaling oorweeg, maar het ook potensiële versagtende faktore uitgelig. Hy het die behoefte aan strukturele ekonomiese hervormings en die bestuur van ondernemings in staatsbesit, sowel as die eskalerende loonrekening in die sektor beklemtoon.

De Swardt, tans in die tweede jaar van sy Meestersgraadstudie in Ekonomie, sê om as die nagraadse kategoriewenner aangewys te word, is iets wat hom vir die res van sy lewe sal bybly.

“Dit is so 'n wonderlike gevoel om te weet dat ek nou deel is van 'n uiters gesogte groep ekonome wat die kompetisie in die verlede gewen het. Ek wil beslis gebruik maak van die geleenthede en momentum wat hierdie kompetisie bied om my loopbaan te bevorder en om konstruktief by te dra tot die ekonomiese beleidsdebat in Suid-Afrika."

Hy het sy dank uitgespreek teenoor die Departement Ekonomie se dr Hylton Hollander (wat ook die US-organiseerder van die begrotingsredekompetisie is), asook sy studieleiers, proff Johan Fourie en Dieter von Fintel.

“Dr Hollander het my van besonder relevante en geloofwaardige bronne voorsien om in my opstel te gebruik, en hy het my ook raad gegee oor hoe om my opstel die beste te struktureer. Proff Fourie en Von Fintel se leiding en advies gedurende my nagraadse studies het my skryf- en tegniese vaardighede geweldig verbeter."

Volgens prof Fourie is: “Tiaan se prestasie is nie net erkenning vir sy harde werk en skerp verstand nie, maar ook vir sy bereidwilligheid en vermoë om innoverend te dink. Tiaan se belange strek veel verder as die ekonomie. Hy was byvoorbeeld die topstudent in die Ekonomiese Geskiedeniskursus. Verlede jaar het hy ook ingeskryf vir 'n nuwe kursus deur die Departement Ekonomie, naamlik Ekonomie en Filosofie. Ek dink dis hierdie interdissiplinêre opleiding wat Tiaan 'n voorsprong op die ander mededingers gegee het."

Young, wat tans besig is met sy honneursgraad in Ekonomie, sê dit was 'n ongelooflike ervaring om nie net 'n finalis in die begrotingsredekompetisie te wees nie, maar om derde in die voorgraadse kategorie te kom.

“Toe ek vir die kompetisie ingeskryf het, het ek geen idee gehad dat ek so ver sou kom nie. Dit was uiters opwindend en lonend om erken te word in 'n veld waaroor ek so passievol is."

Sy opstel het die vermindering van die loonrekening in die openbare sektor ondersoek as 'n manier om staatsuitgawes te beheer. Hy het aangevoer dat die regering korrek is om die loonrekening in die openbare sektor te beperk om staatsuitgawes te verminder en fiskale volhoubaarheid te verseker. Hy meen egter dat die regering waarskynlik nie suksesvol sal wees nie, aangesien die vermindering van die loonrekening in die openbare sektor polities nie haalbaar sal wees nie en dus onuitvoerbaar.

“Die Departement Ekonomie beskou hierdie toekennings – waaronder Tiaan se eerste plek en Ryan se derde plek – as waardevol. Omdat ons 'n leidende rol speel in beleidsverwante navorsing en die opleiding van die land se beleidsmakers, beklemtoon die pryse die feit dat ons graduandi suksesvol is op dié gebied,“ het prof Von Fintel gesê.

De Swardt se eerste plek in die 50ste begrotingsredekompetisie is gepas, aangesien US ook die eerste gesamentlike wenner in 1972, Deon Burger, opgelewer het. Ander wenners en naaswenners verbonde aan die US sluit in prof Stan du Plessis, uitvoerende bedryfshoof (naaswenner, 1993); prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (derde plek in 1993); prof Rulof Burger (eerste, 2002); dr Roy Haveman (eerste, 2003); prof Johan Fourie (naaswenner van die nagraadse kategorie, 2005); Olivia Ezeobi (naaswenner van die nagraadse kategorie, 2005); dr Eldridge Moses (eerste in die voorgraadse kategorie, 2006); en Rachel Theron (naaswenner van die nagraadse kategorie, 2016).