Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Olifante: ambassadeurs vir poging om Afrika se oer wildroetes te red
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 03/03/2022

​Die bos is waar olifantkundige dr​ Katharina von Dürckheim waarlik tuis voel. Sy het reeds haar passie uitgeleef as 'n wildliewe-navorsers, 'n wildlewe-redakteur en deur vir NRO's te werk. As nagraadse student het sy olifante se reuksin bestudeer, asook maniere om die konflik tussen mense en hierdie Afrika-reuse op te los. As leier van die nuwe Wildlife Free to Roam (WFR) navorsingsprogram gaan sy nou help om deurgangsroetes of korridors te help beskerm sodat wild makliker kan beweeg tussen baie van Suidelike Afrika se beskermde natuurgebiede wat deel is van groot oorgrens-bewaringsgebiede.

WFR is in die ​Departement Bewaringsekologie en Entomologie gebaseer, en word deur die Vredespark Stigting (“Peace Parks Foundation") ondersteun. Die werk wat gedoen word word opgedra aan die Hertog van Edinburg, wyle  Prins Philip, ter erkenning van sy jarelange leierskap in die bewaringveld.

Dr Von Dürckheim werf tans studente vir haar navorsingspan. Sy is besig om die nodige logistiek in plek te stel wat saamgaan daarmee om in van Suidelike Afrika se meer afgeleë gebiede te kan werk.

Haar span sal werk in die Groot Limpopo (GL) en Kavango Zambezi (KAZA) oorgrens-bewaringsgebiede. Dis reusegebiede wat oor vele lande heen strek, en die vrye beweging van wild oor grense heen toelaat. Dit word amptelik erken en ondersteun deur die regerings van onder andere Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië, Mosambiek, Angola, Namibië en Botswana, en is tot stand gebring danksy toegewyde onderhandelinge wat deur die Vredespark Stigting sedert 1997 gedryf is. Die inisiatief het reeds gelei tot die herstel van verskeie natuurbewaringsgebiede in Suidelike Afrika, en het onder meer die translokasie van wild na Zinave Nasionale Park en Maputo Spesiale Reservaat in Mosambiek tot gevolg gehad om dieregetalle te verhoog.

Skep van korridors

“Die volgende belangrike stap is om geleenthede te skep om hierdie parke met mekaar te verbind. Ons moet funksionele korridors en staatsbosreservate identifiseer om wild wat oor groot afstande heen migreer, soos die Afrika olifant, toe te laat om vrylik te beweeg," sê dr Von Dürckheim.

Sy tel dr John Hanks, voormalige hoof-uitvoerende beampte van die Vredespark Stigting, onder haar mees gewaardeerde mentors.

“Die probleem is dat ruimtelike bottelnekke voorkom. Sommige mense meen dat baie van die belangrike bewegingskorridors binne drie jaar effektief sal doodloop weens die uitbreiding van landelike nedersettings.

“Daar is 'n sekere digtheid van mense waardeur olifante en leeus nie sal beweeg nie. Dit veroorsaak dat sekere dierebevolkings geïsoleer word, en inteling plaasvind. Konnektiwiteit is dus belangrik, en om te soek vir korridors en roetes wat wydswerwende spesies soos olifante, leeus en wildehonde kan gebruik."

Deur WFR is die plan juis dit: om binne elke oorgrens-bewaringsgebied ekologiese netwerke te identifiseer, te bestudeer, te bestuur en waar moontlik te bewaar om groot wild-beweging in die streke toe te laat. Die WFR-span sal ook bestudeer hoe spesifieke spesies hierdie korridors benut. Die werk sal aangepak word in samewerking met belanghebbers en plaaslike gemeenskappe.

Die program se wetenskaplike adviseur is prof Michael Samways, 'n emeritus-professor in die Departement Bewaringsekologie en Entomologie, wat die Mondi Ekologiese Netwerkprogram gekonseptualiseer het. Hierdie program het die bosboubedryf gehelp om funksionele ekologiese netwerke en korridors binne hul plantasies te skep om beter biodiversiteitsbewaring te kan toepas.

Groter vryheid van beweging is iets wat die 12 000 olifante in die Gonarezhou Nasionale Park in Zimbabwe (deel van die GL-oorgrens-bewaringsgebied) byvoorbeeld dringend benodig.

“Die oorbevolkingskwessie van olifante in Gonarezhou is meer 'n ruimtelike probleem as een van getalle. Hoe en waar skep ons veiliger verbindingsroetes na bewaringsgebiede noord en oos daarvan, en hoe verseker ons dat hulle deel is van 'n funksionele ekologiese netwerk?

“Interessant genoeg gebruik olifantkoeie en -bulle ekologiese netwerke verskillend. Koeie en hul kalwers is risiko-sku, en bly dus eerder in 'veilige ruimtes' soos nasionale parke. Bulle swerf makliker rond oor streke en selfs lande heen, en word nie afgeskrik deur nedersettings nie."

Olifante as 'korridor-ambassadeurs'

Op grond van vorige navorsing wat dr Von Dürckheim reeds gedoen het, reken sy dat  olifante die ideale ambassadeurs of sambreel-spesie is vir die bevordering van ekologiese netwerke en vir die idee agter die handhawing van korridors. Hul roetes word deur 'n menigte ander wildspesies gebruik, insluitend hoefdiere en roofdiere.

“Olifante laat urine en mis langs hierdie roete agter. Dis vir ander olifante soos kommunikasie-stasies. Dit bevat menige reuk-boodskappe waaruit hulle kan optel watter ander olifante in die omgewing is, en moontlik gereed is om te paar."

In die Kavango Zambezi oorgrens-bewaringsgebied, byvoorbeeld, is daar menige olifantroetes wat strek van die Mudumu Nasionale Park in Namibië tot in Angola, en van Angola ooswaarts na die Zambezirivier. Baie daarvan verbind bewaringsgebiede met mekaar. Deesdae gebruik olifante dit om veral snags vinnig te beweeg deur areas waar mense woon.

“Hierdie roetes deurkruis gemeenskappe wat langs die rivier kom woon het om met gewasse te boer. Hierdie oeroue korridors moet bewaar word. Hulle moet amptelik erken word om ruimtelike beplanning in die gebied te bevorder, en moontlike konflik tussen mense en wild te verminder. “