Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Sandra Swart skep (haar eie) geskiedenis
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 24/02/2022

As 'n omgewingsgeskiedkundige wat die verhouding tussen mense en diere ondersoek, het prof Sandra Swart van die Universiteit Stellenbosch al verskeie kere self geskiedenis geskep.

In 2016 was sy die eerste vrou om 'n volle professor in die Universiteit se Departement Geskiedenis te word. Ter viering van hierdie geleentheid was daar vyf ruiters by haar intreerede teenwoordig – iets wat waarskynlik nog nooit vantevore gebeur het nie. Sy het onlangs nog 'n mylpaal bereik toe sy as die eerste vroulike voorsitter van die US se Geskiedenisdepartement aangestel is.

Sedert sy in 2002 as 'n junior dosent by die Departement begin werk het, het sy gesien hoe dieregeskiedenis wêreldwyd as vakgebied ontwikkel. Saam met haar 14 PhD-gegradueerdes en ses huidige PhD-kandidate, asook talle meesterstudente (waarvan baie uit ander lande in Afrika afkomstig is) bestudeer sy 'n historiese diereversameling van perde tot honde, leeus en koedoejag in die Oos-Kaap. Sommige van haar studente het selfs onlangs Antarktika en die sub-Antarktiese streek besoek om dieper te delf in die ysige streek se diereverwante geskiedenis.

Sy erken egter dat die afgelope twee dekades nie altyd maklik was nie. Nie almal het aanvanklik haar gekose vakgebied van dieregeskiedenis verstaan nie.

“Toe ek begin het, wou mense altyd hê ek moet op meer konvensionele geskiedenisonderwerpe fokus, maar vandag word dieregeskiedenis internasionaal erken. Die vakgebied het rondom my ontwikkel. Deesdae bestudeer ek doktorale proefskrifte van mense van regoor die wêreld – van Finland tot Australië," sê Swart wat in die onlangse verlede geleentheidstoesprake oor die geskiedenis van diere by verskeie belangrike geleenthede soos die internasionale konferensie van die Wêreldvereniging van die Geskiedenis van Veeartsenykunde en die Perdegeskiedenis-konferensie in Kalifornië gelewer het.

Sy het 'n eenvoudige lewenswenk om teenreaksie te hanteer: “Volg net jou intellektuele passie en mik noord. Bou aan daardie akademiese 'veld van drome' en hulle sal hul opwagting maak. My veld het toevallig net skepsels wat letterlik daarop wei."

Studies

Swart het in 1997 'n meestersgraad (cum laude) aan die Universiteit van Natal (waar albei haar ouers wiskundiges was) oor die Boererebelle van 1914 behaal. Sy het ondersoek ingestel na hoe manlikheid, republikanisme en maatskaplike kragte die Boererebellie gevorm het. Hierna het sy aan die Oxford-universiteit gaan studeer, waar sy in 2001 'n DPhil-graad in Moderne Geskiedenis behaal het. Sy het in haar doktorale navorsing die rol wat die digter, skrywer en natuurkenner Eugene Marais in die vorming van die Afrikaneridentiteit gespeel het, ondersoek.

“Ek het geleidelik al hoe meer begin belangstel in die witmiere en bobbejane wat Eugene Marais bestudeer het, eerder as in die man self. Ek het gou besef ek moes iets doen wat met diere verband hou," vertel die eienaar van twee honde en twee perde oor haar beginjare in die vakgebied van dieregeskiedenis.

Hierna het sy ook 'n MSc-graad in Omgewingsverandering en -bestuur aan Oxford behaal nadat sy gelyktydig aan haar doktors- en meestersgraad gewerk het.

Skrywer

Die skrywer Toni Morrison het een keer opgemerk dat “indien daar 'n boek is wat jy regtig graag wil lees, maar wat nog nie geskryf is nie, moet jy dit skryf".

Daardie eenvoudige waarheid lei haar in haar skryfwerk oor die rol van diere, en in die algemeen oor die omgewing, in die geskiedenis van Suider-Afrika. Haar boek, Riding High: Horses, Humans and History in South Africa, het in 2010 die langlys vir die Alan Paton-toekenning gehaal. Sy is ook die medeskrywer van 'n boek oor perde in die Filippyne en Suid-Afrika, een oor die Boererebellie en was die mederedakteur van 'n boek oor die geskiedenis van honde in Suider-Afrika

Hierdie voormalige voorsitter van die Suider-Afrikaanse Geskiedenisvereniging en die huidige redakteur van die South African Historical Journal werk tans aan The Lion's Historian wat uit 'n historiese perspektief na diere kyk.

“Daar is 'n Afrika-spreekwoord wat lui dat totdat die leeu sy eie historikus het, die storie van die jagtog altyd deur die jagter vertel sal word."

Sy is ook besig om oor bobbejane te skryf. Die spesie is tans in die nuus weens die konflik tussen mens en dier. Deur die jare is die bobbejaan ook met simpatieke toorkuns, totemistiese identiteit asook baie kwetsende rasse-toespelings verbind.

“Dit is 'n moeilike en pynlike geskiedenis om te rekonstrueer."

Haar veldwerk het haar deur die jare te perd van Lesotho tot in Buite-Mongolië geneem.

“Ek is baie lief vir die argiewe, en hulle is die eerste misdaadtoneel wanneer jy probeer om historiese 'onopgeloste sake' te probeer oplos. Maar daar is niks soos 'n vars perd en die blou lug nie," glimlag Swart.

Sy kon in Mongolië deur die uitgestrekte grasvelde ry om Genghis Khan se vroeë voetspore na te spoor en die tradisie van nomadiese gasvryheid wat sy in die nedersettings in die steppe ervaar het, het haar oorbluf. Sy het sedertdien aspekte van haar reise na Asië in haar eerstejaarkursus, wat “'n Vinnige geskiedenis van die afgelope vyf miljoen jaar" gedoop is, ingewerk.

“Ek verduidelik die groot leefstylveranderinge wat die mensdom ondergaan het. Dit begin by Australopithecus en bereik 'n hoogtepunt by Genghis Kahn, die finale ineenstorting van die nomadiese lewenswyse en die verskuiwing na die stede."

Departementshoof

Sy volg as departementshoof in die voetspore van dr Anton Ehlers wat ná 36 jaar van gewaardeerde diens aan die US aftree.

“Ek wil graag die demokratiese kultuur van deursigtigheid en inklusiwiteit behou wat Anton die afgelope ses jaar gevestig het. Hy was 'n uitstekende voorsitter. Ek sal ook graag die departement meer wil Afrikaniseer deur byvoorbeeld ons netwerk van departementele navorsingsgenote wat op Tanzanië, Botswana, Malawi, Lesotho en Zimbabwe fokus, te betrek ten einde die omvang van ons vakgebied te verbreed. Die pandemie het bewys mense kan van enige plek af 'n lesing aanbied."

Swart beskryf haarself as 'n “gelukkige professor" en sê sy het die behoefte om dit met ander te deel. Op 'n onlangse reis na Estland het sy selfs 'n werksessie, getiteld “Hoe om gelukkig te wees as 'n akademikus", aangebied.

Een manier waarop sy gelukkig bly, is om haar werksdag by die Universiteit se stalle by Coetzenburg af te sluit sodat sy haar op haar Appaloosa-merrie, Aztec, kan ry.

“Dit is baie moeilik om 'n universiteit te vind wat stalle én 'n aangrensende wildernisgebied het waar 'n mens kan perdry. Dit is een van die redes waarom ek hier bly. Daar is selfs luiperds in ons berge."​